Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Godsdiens—Hoe het dit ontstaan?

Godsdiens—Hoe het dit ontstaan?

Hoofstuk 2

Godsdiens—Hoe het dit ontstaan?

1, 2. Wat is oor die ouderdom van en verskeidenheid in godsdiens gesê?

DIE geskiedenis van godsdiens is so oud soos die geskiedenis van die mens self. Dit is wat argeoloë en antropoloë ons meedeel. Selfs in die mees “primitiewe”, dit wil sê, onontwikkelde, beskawings word getuienis van die een of ander vorm van aanbidding aangetref. Trouens, The New Encyclopædia Britannica sê dat “so ver as geleerdes kan vasstel, daar nooit op enige plek, te eniger tyd, ’n volk bestaan het wat nie in die een of ander opsig godsdienstig was nie”.

2 Benewens die feit dat godsdiens baie oud is, bestaan daar ook ’n groot verskeidenheid godsdienste. Die koppesnellers in die oerwoude van Borneo, die Eskimo’s in die ysige Arktika, die nomades in die Sahara-woestyn, die stedelinge in die groot wêreldstede—elke volk en elke nasie op aarde het sy god of gode en sy manier van aanbidding. Die verskeidenheid godsdienste is waarlik verstommend.

3. Watter vraag oor wêreldgodsdienste moet bespreek word?

3 Vrae ontstaan logieserwys. Waar het al hierdie godsdienste vandaan gekom? En aangesien daar opmerklike verskille sowel as ooreenkomste tussen hulle is, wonder baie: Het hulle onafhanklik begin, of het hulle dalk uit een bron ontwikkel? Trouens, ons kan vra: Waarom het godsdiens hoegenaamd ontstaan? En hoe? Die antwoorde op hierdie vrae is van lewensbelang vir almal wat die waarheid omtrent godsdiens en godsdiensopvattings wil weet.

Die kwessie van oorsprong

4. Wat weet ons van die stigters van baie godsdienste?

4 Wanneer dit by die kwessie van oorsprong kom, dink mense van verskillende godsdienste aan name soos Muḥammad, die Boeddha, Confucius en Jesus. In feitlik elke godsdiens vind ons ’n sentrale figuur aan wie die oprigting van die ‘ware geloof’ toegeskryf word. Party van hierdie figure was ikonoklastiese hervormers. Ander was moralistiese filosowe. Nog ander was onselfsugtige volkshelde. Baie van hulle het geskrifte of woorde agtergelaat wat die grondslag van ’n nuwe godsdiens gevorm het. Mettertyd is daar by hulle woorde en dade bygevoeg en aangelas en is dit ’n geheimsinnige aura gegee. Party van hierdie leiers is selfs vergoddelik.

5, 6. Hoe het baie godsdienste onstaan?

5 Hoewel hierdie individue beskou word as stigters van die vernaamste godsdienste wat ons ken, moet ons daarop let dat hulle nie vir die ontstaan van godsdiens verantwoordelik was nie. In die meeste gevalle het hulle leringe uit bestaande godsdiensopvattings ontstaan, hoewel die meeste van hierdie stigters beweer het dat goddelike inspirasie hulle bron was. Of hulle het bestaande godsdiensstelsels wat in die een of ander opsig onbevredigend geword het, verander en gewysig.

6 Die Boeddha was byvoorbeeld, sover ons uit die geskiedenis kan aflei, ’n prins wat ontsteld was oor die lyding en jammerlike toestande om hom in ’n gemeenskap wat deur Hindoeïsme oorheers is. Boeddhisme was die resultaat van sy soeke na ’n oplossing vir die lewe se folterende probleme. Muḥammad was eweneens baie ontsteld oor die afgodediens en onsedelikheid wat hy in die godsdiensgebruike om hom gesien het. Hy het later beweer dat hy spesiale openbarings van God ontvang het, wat die Qur’ān uitgemaak en die grondslag van ’n nuwe godsdiensbeweging, die Islām, geword het. Protestantisme het uit Katolisisme ontwikkel as gevolg van die Hervorming wat in die vroeë 16de eeu begin het, toe Martin Luther die destydse verkoop van aflate deur die Katolieke Kerk aangeval het.

7. Watter vrae oor godsdiens moet nog beantwoord word?

7 Wat die tans bestaande godsdienste betref, is daar dus geen gebrek aan inligting oor hulle oorsprong en ontwikkeling, hulle stigters, hulle heilige geskrifte, ensovoorts nie. Maar wat van die godsdienste wat voor hulle bestaan het? En dié wat nóg vroeër bestaan het? As ons ver genoeg in die geskiedenis teruggaan, sal ons vroeër of later te staan kom voor die vraag: Hoe het godsdiens ontstaan? Dit spreek vanself dat ons buite die grense van die individuele godsdienste na die antwoord op daardie vraag moet soek.

Baie teorieë

8. Wat was eeue lank mense se gesindheid teenoor godsdiens?

8 Die studie van die oorsprong en ontwikkeling van godsdiens is ’n betreklik nuwe veld. Mense het die godsdienstradisie waarin hulle gebore en grootgemaak is eeue lank in mindere of meerdere mate aanvaar. Die meeste van hulle was tevrede met die verduidelikings wat hulle voorvaders aan hulle oorgelewer het en het gemeen dat hulle godsdiens die waarheid was. Daar was selde ’n rede om enigiets in twyfel te trek, en ook nie ’n behoefte om ondersoek in te stel na hoe, wanneer of waarom dit ontstaan het nie. Trouens, weens die beperkte reis- en kommunikasiemiddele was daar eeue lank min mense wat selfs bewus was van ander godsdiensstelsels.

9. Watter pogings is sedert die 19de eeu aangewend om uit te vind hoe en waarom godsdiens ontstaan het?

9 Maar gedurende die 19de eeu het die situasie begin verander. Die evolusieteorie het baie vinnig inslag gevind in intellektuele kringe. Dit, tesame met die koms van wetenskaplike ondersoek, het meegebring dat baie mense gevestigde stelsels, waaronder godsdiens, in twyfel getrek het. Omdat hulle besef het hoe beperk die soektog na leidrade binne bestaande godsdienste is, het party geleerdes hulle gewend tot die oorblyfsels van vroeë beskawings of tot die uithoeke van die wêreld waar mense nog in primitiewe gemeenskappe gewoon het. Hulle het probeer om die metodes van die sielkunde, sosiologie, antropologie, ensovoorts daarop toe te pas in die hoop dat hulle ’n leidraad sou vind oor hoe en waarom godsdiens ontstaan het.

10. Wat was die resultaat van die ondersoeke na die oorsprong van godsdiens?

10 Wat was die resultaat? Skielik het baie teorieë op die toneel verskyn—skynbaar net soveel teorieë as navorsers—terwyl elke navorser die ander weerspreek het en elkeen probeer het om die ander in gewaagdheid en oorspronklikheid te oortref. Party van hierdie navorsers het belangrike gevolgtrekkings gemaak; die werk van ander is eenvoudig vergeet. Dit is vir ons leersaam sowel as insiggewend om die resultate van hierdie navorsing vlugtig te ondersoek. Dit sal ons help om die godsdiensgesindhede van mense wat ons teëkom beter te verstaan.

11. Verduidelik die teorie van animisme.

11 Die Engelse antropoloog Edward Tylor (1832-1917) het vorendag gekom met ’n teorie, wat gewoonlik animisme genoem word. Volgens hom het ervaringe soos drome, gesigte, hallusinasies en die leweloosheid van lyke primitiewe mense tot die gevolgtrekking laat kom dat die liggaam deur ’n siel (Latyn, anima) bewoon word. Volgens hierdie teorie het hulle, aangesien hulle dikwels van hulle afgestorwe geliefdes gedroom het, aangeneem dat ’n siel ná die dood voortlewe, dat dit die liggaam verlaat en in bome, rotse, riviere, ensovoorts gaan woon het. Uiteindelik is die dode en die voorwerpe wat kwansuis deur die siele bewoon is as gode aanbid. En op hierdie manier, het Tylor gesê, is godsdiens gebore.

12. Verduidelik die teorie van animatisme.

12 ’n Ander Engelse antropoloog, R. R. Marett (1866-1943), het ’n verfyning van animisme aan die hand gedoen, wat hy animatisme genoem het. Nadat hy die opvattings van die Melanesiërs van die eilande in die Stille Oseaan en die inboorlinge van Afrika en Amerika bestudeer het, het Marett die gevolgtrekking gemaak dat primitiewe mense nie aan ’n persoonlike siel geglo het nie, maar eerder gedink het dat daar ’n onpersoonlike krag of bonatuurlike mag was wat alles verlewendig het; daardie opvatting het eerbied en vrees in die mens verwek, en hierdie emosies het die grondslag van sy primitiewe godsdiens geword. Godsdiens was volgens Marett hoofsaaklik die mens se emosionele reaksie op die onbekende. Sy geliefkoosde verklaring was dat godsdiens ‘nie soseer uitgedink as uitgedans is nie’.

13. Watter godsdiensteorie het James Frazer aan die hand gedoen?

13 In 1890 het ’n Skotse kenner op die gebied van eertydse volkskunde, James Frazer (1854-1941), die invloedryke boek The Golden Bough gepubliseer, waarin hy aangevoer het dat godsdiens uit die toorkuns ontwikkel het. Volgens Frazer het die mens aanvanklik probeer om sy eie lewe en sy omgewing te beheers deur na te boots wat hy in die natuur sien gebeur het. Hy het byvoorbeeld gedink dat hy dit kon laat reën deur met die begeleiding van dawerende tromslae water op die grond te sprinkel of dat hy sy vyand kwaad kon aandoen deur spelde in ’n afbeeldsel van hom te steek. Dit het meegebring dat rituele, towerspreuke en towervoorwerpe op baie gebiede van die lewe gebruik is. Toe dit nie aan die verwagtinge voldoen het nie, het hy begin om die bonatuurlike magte te paai en om hulp te smeek, eerder as om hulle te probeer beheers. Die rituele en towerspreuke het offerandes en gebede geword, en op dié manier het godsdiens ontstaan. Godsdiens is volgens Frazer “’n versoening of bevrediging van magte wat hoër as die mens is”.

14. Hoe het Sigmund Freud die oorsprong van godsdiens verklaar?

14 Selfs die beroemde Oostenrykse psigoanalis Sigmund Freud (1856-1939) het in sy boek Totem and Taboo probeer om die oorsprong van godsdiens te verklaar. In ooreenstemming met sy beroep het Freud verduidelik dat die eerste godsdiens ontwikkel het uit wat hy ’n vaderfiguur-neurose genoem het. Hy het geteoretiseer dat die vader in ’n primitiewe gemeenskap die familiegroep gedomineer het, soos dit met wilde perde en beeste die geval is. Die seuns, wat die vader gehaat én bewonder het, het in opstand gekom en die vader doodgemaak. Om die vader se mag te verkry, het Freud beweer, ‘het hierdie kannibalistiese barbare hulle slagoffer geëet’. Later het hulle berou gehad en ritusse en rituele uitgedink om versoening te doen vir hulle optrede. Volgens Freud se teorie het die vaderfiguur God geword, het die ritusse en rituele die eerste godsdiens geword en het die eet van die vermoorde vader die nagmaaltradisie geword wat in baie godsdienste beoefen word.

15. Wat het met die meeste van die voorgestelde teorieë oor die oorsprong van godsdiens gebeur?

15 Baie ander teorieë wat die oorsprong van godsdiens probeer verklaar, kan genoem word. Maar die meeste van hulle is al vergeet, en nie een van hulle blink juis uit as geloofwaardiger of aanvaarbaarder as die ander nie. Waarom nie? Bloot omdat daar nooit enige geskiedkundige getuienis of bewys was dat hierdie teorieë waar is nie. Hulle was eenvoudig produkte van een navorser se verbeelding of gissings, wat gou deur die volgende teorie vervang is.

’n Gebrekkige grondslag

16. Waarom het jarelange ondersoek nie verklaar hoe godsdiens ontstaan het nie?

16 Na jarelange geswoeg met die vraagstuk het baie nou die gevolgtrekking gemaak dat ’n deurbraak in die soektog na die antwoord op die vraag hoe godsdiens begin het hoogs onwaarskynlik is. Die eerste rede hiervoor is dat bene en oorblyfsels van ou volke nie vir ons sê hoe daardie mense gedink het, waarvoor hulle bang was of waarom hulle aanbid het nie. Enigiets wat uit hierdie artefakte afgelei word, is hoogstens ingeligte raaiskote. Tweedens is die godsdiensgebruike van sogenaamd primitiewe mense van vandag, soos die Australiese inboorlinge, nie noodwendig ’n betroubare maatstaf waarvolgens gemeet kan word wat mense van die ou tyd gedoen of gedink het nie. Niemand weet met sekerheid of en hoe hulle kultuur deur die eeue heen verander het nie.

17. (a) Wat weet hedendaagse godsdiensgeskiedkundiges? (b) Wat is blykbaar die hoofoorweging wanneer godsdiens ontleed word?

17 Weens al die onsekerhede kom die boek World Religions—From Ancient History to the Present tot die gevolgtrekking dat “die hedendaagse godsdiensgeskiedkundige weet dat dit onmoontlik is om vas te stel wat die oorsprong van godsdiens presies is”. Maar die boek sê die volgende oor die geskiedkundiges se pogings: “In die verlede wou te veel teoretici godsdiens nie net beskryf of verklaar nie maar ook wegpraat, omdat hulle gemeen het dat as daar bewys kon word dat die vroeë vorme op illusies gegrond was die latere en hoër godsdienste dalk ondermyn sou word.”

18. (a) Waarom kon die talle navorsers nie die oorsprong van godsdiens verklaar nie? (b) Wat was blykbaar die ware bedoelings van “wetenskaplike” godsdiensnavorsers?

18 Daardie laaste kommentaar verskaf die leidraad waarom verskeie “wetenskaplike” navorsers van die oorsprong van godsdiens nog nie met enige verdedigbare verklarings te voorskyn kon kom nie. Volgens die logika kan ’n korrekte gevolgtrekking alleenlik uit ’n korrekte veronderstelling afgelei word. As ’n mens van ’n foutiewe veronderstelling uitgaan, is dit onwaarskynlik dat jy ’n juiste gevolgtrekking sal maak. Die feit dat die “wetenskaplike” navorsers herhaaldelik versuim het om met ’n redelike verklaring vorendag te kom, wek ernstige twyfel oor die veronderstelling waarop hulle hul beskouings gebaseer het. Deur hulle vooropgesette mening te volg, het hulle in hul pogings om ‘godsdiens weg te praat’ probeer om God weg te praat.

19. Wat is ’n grondbeginsel vir suksesvolle wetenskaplike ondersoeke? Lig dit asseblief toe.

19 Die situasie kan vergelyk word met die talle maniere waarop sterrekundiges voor die 16de eeu probeer het om die beweging van die planete te verklaar. Daar was baie teorieë, maar nie een van hulle was werklik bevredigend nie. Waarom nie? Omdat hulle gebaseer was op die veronderstelling dat die aarde die middelpunt van die heelal is waaromheen die sterre en planete wentel. Geen werklike vordering is gemaak totdat wetenskaplikes—en die Katolieke Kerk—bereid was om te aanvaar dat die aarde nie die middelpunt van die heelal is nie, maar dat dit om die son, die middelpunt van die sonnestelsel, wentel. Omdat die talle teorieë nie die feite kon verklaar nie, is onbevooroordeelde persone beweeg, nie om nuwe teorieë te probeer versin nie, maar om die uitgangspunt van hulle navorsing opnuut te ondersoek. En dit het tot sukses gelei.

20. (a) Wat was die verkeerde veronderstelling wat die “wetenskaplike” ondersoek na die oorsprong van godsdiens ten grondslag gelê het? (b) Van watter fundamentele behoefte het Voltaire gepraat?

20 Dieselfde beginsel kan toegepas word op die ondersoek na die oorsprong van godsdiens. As gevolg van die opkoms van ateïsme en die algemene aanvaarding van die evolusieteorie het baie mense dit as vanselfsprekend aangeneem dat God nie bestaan nie. Op grond van hierdie veronderstelling meen hulle dat die verklaring vir die bestaan van godsdiens in die mens self gevind kan word—in sy denkprosesse, sy behoeftes, sy vrese en sy “neuroses”. Voltaire het gesê: “As God nie bestaan het nie, sou dit nodig gewees het om hom te versin”; en daarom voer hulle aan dat die mens God versin het.—Sien venster, bladsy 28.

21. Wat kan ons logieserwys aflei uit die mislukking van die talle teorieë oor die oorsprong van godsdiens?

21 Die talle teorieë kon nie ’n waarlik bevredigende antwoord voorsien nie. Is dit dan nie nou hoog tyd om die veronderstelling waarop hierdie navorsing gebaseer is opnuut te ondersoek nie? Sal dit nie logies wees om die antwoord elders te soek eerder as om vergeefs die ou sleur te volg nie? As ons bereid is om ’n oop gemoed te behou, sal ons saamstem dat dit redelik en wetenskaplik sal wees. En ons het juis ’n voorbeeld wat ons kan help om te sien hoe logies dit is.

’n Eertydse ondersoek

22. Watter uitwerking het die Atheners se talle teorieë oor hulle gode op hulle manier van aanbidding gehad?

22 In die eerste eeu van ons Gewone Jaartelling was Athene, Griekeland, ’n prominente sentrum van geleerdheid. Daar was egter onder die Atheners talle verskillende denkrigtings, soos die Epikureërs en die Stoïsyne, wat elk sy eie opvatting oor die gode gehad het. Op grond van hierdie verskillende opvattings is baie godhede vereer en het verskillende maniere van aanbidding ontwikkel. Gevolglik was die stad vol mensgemaakte afgode en tempels.—Handelinge 17:16.

23. Watter heeltemal verskillende beskouing aangaande God het die apostel Paulus aan die Atheners voorgelê?

23 In omstreeks 50 G.J. het die Christenapostel Paulus Athene besoek en ’n heeltemal verskillende beskouing aan die Atheners voorgelê. Hy het vir hulle gesê: “Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here van hemel en aarde is, woon nie in tempels met hande gemaak nie. Ook word Hy nie deur mensehande gedien asof Hy aan iets behoefte het nie, omdat Hy self aan almal lewe en asem en alles gee.”—Handelinge 17:24, 25.

24. Wat het Paulus die Atheners in werklikheid van ware aanbidding vertel?

24 Met ander woorde, Paulus het vir die Atheners gesê dat die ware God, wat “die wêreld gemaak het en alles wat daarin is”, nie ’n versinsel van die mens se verbeelding is nie en dat hy ook nie gedien word op maniere wat die mens uitdink nie. Ware godsdiens is nie bloot ’n eensydige poging deur die mens om in ’n sekere sielkundige behoefte te voorsien of ’n sekere vrees te stil nie. Nee, aangesien die ware God die Skepper is, wat die mens denk- en redeneervermoë gegee het, is dit net logies dat Hy dit vir die mens moontlik sou maak om ’n bevredigende verhouding met Hom te verkry. Dit is, volgens Paulus, presies wat God gedoen het. “Hy het uit een bloed [of, “mens”, NW] al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, . . . sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie.”—Handelinge 17:26, 27.

25. Verduidelik die sleutelpunt van Paulus se redenasie oor die mens se oorsprong.

25 Let op Paulus se sleutelpunt: God “het uit een mens al die nasies van die mensdom gemaak”. Hoewel daar vandag baie nasies van die mensdom is wat oor die hele aarde woon, weet wetenskaplikes dat die hele mensdom inderdaad tot een familie behoort. Hierdie begrip is van groot belang, want wanneer ons sê dat die hele mensdom tot een familie behoort, beteken dit baie meer as dat hulle bloot biologies en geneties verwant is. Hulle is ook op ander gebiede verwant.

26. Watter bekende feit oor taal staaf Paulus se sleutelpunt?

26 Let byvoorbeeld op wat die boek Story of the World’s Worship oor die mens se taal sê. “Diegene wat die tale van die wêreld bestudeer het en met mekaar vergelyk het, het iets te sê, en dit is die volgende: Alle tale kan in spraakfamilies of -klasse gegroepeer word, en dit blyk dat al hierdie families uit een gemeenskaplike bron ontstaan het.” Met ander woorde, die tale van die wêreld het nie afsonderlik en onafhanklik ontstaan soos evolusioniste ons wil wysmaak nie. Hulle teoretiseer dat grotbewoners in Afrika, Europa en Asië begin grom en knor het en uiteindelik hul eie tale ontwikkel het. Dit was nie die geval nie. Die getuienis toon dat hulle “uit een gemeenskaplike bron ontstaan het”.

27. Waarom is dit logies om te dink dat die mens se opvattings oor God en godsdiens uit een gemeenskaplike bron ontstaan het?

27 As dit geld vir iets so persoonlik en so eie aan die mens soos taal, sou dit dan nie redelik wees om te dink dat die mens se opvattings oor God en godsdiens ook uit een gemeenskaplike bron moes ontstaan het nie? Godsdiens hou immers verband met denke, en denke hou verband met die mens se vermoë om taal te gebruik. Nie dat alle godsdienste werklik uit een godsdiens ontwikkel het nie, maar die opvattings en begrippe behoort teruggevoer te kan word tot ’n gemeenskaplike oorsprong of versameling godsdiensopvattings. Is daar getuienis om dit te staaf? En as die mens se godsdienste wel één oorsprong het, wat is dit? Hoe kan ons uitvind?

Verskillend dog soortgelyk

28. Hoe kan ons uitvind of die wêreld se godsdienste ’n gemeenskaplike oorsprong het?

28 Ons kan die antwoord kry op dieselfde manier waarop taalkundiges hulle antwoorde oor die oorsprong van taal gekry het. ’n Etimoloog kan die bron van die verskillende tale bepaal deur hulle met mekaar te vergelyk en op die ooreenkomste te let. Ons kan eweneens, deur die godsdienste met mekaar te vergelyk, ondersoek instel na hul leerstellings, legendes, rituele, seremonies, instellings, ensovoorts en kyk of daar ’n onderliggende element van gemeenskaplike identiteit is en, indien wel, waarheen dit ons lei.

29. Waaraan kan baie van die verskille tussen godsdienste toegeskryf word?

29 Op die oog af lyk dit asof die baie godsdienste wat vandag bestaan heelwat van mekaar verskil. Maar as ons die dinge wegneem wat bloot optooisels en latere byvoegsels is, of as ons die verskille verwyder wat die gevolg is van klimaat, taal, kenmerkende toestande van daardie land en ander faktore, is dit verbasend hoe eenders die meeste van hulle werklik is.

30. Watter ooreenkomste sien jy tussen Rooms-Katolisisme en Boeddhisme?

30 Die meeste mense sal byvoorbeeld dink dat daar nouliks twee godsdienste kan wees wat meer van mekaar verskil as die Rooms-Katolieke Kerk van die Weste en Boeddhisme van die Ooste. Maar wat sien ons wanneer ons verby die verskille kyk wat aan taal en kultuur toegeskryf kan word? As ons dit objektief beskou, moet ons erken dat die twee godsdienste baie dinge gemeen het. Beide Katolisisme en Boeddhisme is deurtrokke van rituele en seremonies. Daar is onder meer die gebruik van kerse, wierook, wywater, die rosekrans, beelde van heiliges, dreungesange, gebedeboeke en selfs die teken van die kruis. Albei godsdienste het instellings van monnike en nonne en is bekend vir die priesterselibaat, spesiale gewade, heilige dae en spesiale kossoorte. Hierdie lys is glad nie volledig nie, maar dit lig wel die punt toe. Die vraag is: Waarom het twee godsdienste wat oënskynlik so verskillend is so baie dinge gemeen?

31. Watter ooreenkomste sien jy tussen ander godsdienste?

31 Die vergelyking van hierdie twee godsdienste is inderdaad insiggewend, en dieselfde kan met ander godsdienste gedoen word. Wanneer ons dit doen, vind ons dat sekere leerstellings en opvattings feitlik in almal voorkom. Die meeste van ons is bekend met leerstellings soos die onsterflikheid van die mensesiel, ’n hemelse beloning vir alle goeie mense, ewige foltering van die goddelose in ’n onderwêreld, die vaevuur, ’n drie-enige god of ’n godheid van baie gode en ’n moeder van god of hemelkoningin. Maar benewens hierdie leerstellings is daar talle legendes en mites wat net so algemeen voorkom. Daar is byvoorbeeld legendes oor hoe die mens weens sy ongeoorloofde poging om onsterflikheid te verkry goddelike guns verbeur het, die noodsaaklikheid van offerandes om versoening te doen vir sonde, die soektog na ’n boom van die lewe of fontein van die jeug, gode en halfgode wat tussen mense gewoon en bomenslike kinders voortgebring het en ’n rampspoedige vloed wat feitlik die hele mensdom uitgewis het. *

32, 33. (a) Wat kan ons uit die merkwaardige ooreenkomste tussen die wêreld se godsdienste aflei? (b) Watter vraag moet beantwoord word?

32 Wat kan ons uit al hierdie feite aflei? Ons sien dat groot afstande diegene wat hierdie mites en legendes geglo het van mekaar geskei het. Hulle kultuur en tradisies was heeltemal verskillend. Hulle maatskaplike gebruike was geheel en al uiteenlopend. En tog, wanneer dit by hulle godsdienste kom, het hulle sulke soortgelyke dinge geglo. Hoewel nie elkeen van hierdie volke al die gemelde dinge geglo het nie, het hulle almal party daarvan geglo. Die logiese vraag is: Waarom? Dit was asof daar ’n gemeenskaplike bron was waaruit elke godsdiens in meerdere of mindere mate sy basiese opvattings geput het. Hierdie basiese opvattings is mettertyd uitgebou en gewysig, en ander leringe het daaruit ontwikkel. Maar die basiese struktuur is onmiskenbaar.

33 Die ooreenkoms tussen die basiese begrippe van die talle godsdienste van die wêreld is logieserwys oortuigende bewys dat hulle nie elkeen afsonderlik en onafhanklik ontstaan het nie. As ’n mens ver genoeg teruggaan, moes hulle opvattings eerder ’n gemeenskaplike bron gehad het. Wat was daardie bron?

’n Vroeë goue eeu

34. Watter legende oor die mens se begin kom in baie godsdienste voor?

34 Dit is interessant dat een van die legendes wat in baie godsdienste voorkom, sê dat die mensdom begin het in ’n goue eeu waartydens die mens skuldeloos was, gelukkig en vreedsaam in noue gemeenskap met God gelewe het en vry was van siekte en die dood. Hoewel besonderhede soms verskil, kom dieselfde konsep van ’n volmaakte paradys wat vroeër bestaan het in die geskrifte en legendes van baie godsdienste voor.

35. Beskryf die eertydse Zoroastriste se opvatting oor ’n vroeë goue eeu.

35 Die Avesta, die heilige boek van die ou Persiese Zoroastriese godsdiens, vertel van “die mooi Jima, die goeie herder”, wat die eerste mens was met wie Ahoeramazda (die skepper) gepraat het. Hy is deur Ahoeramazda beveel “om my wêreld te voed, te regeer en te bewaak”. Om dit te doen, moes hy “’n Vara”, ’n ondergrondse woonplek, vir al die lewende skepsele bou. Daarin was daar “geen oorheersing of gemeenheid, dwaasheid of geweld, armoede of bedrog, kleinheid of gebreklikheid, groot tande of oorgroot liggame nie. Die inwoners is nie deur die bose gees verontreinig nie. Hulle het tussen welriekende bome en goue pilare gewoon wat die grootste, beste en mooiste op aarde was; hulle was self ’n lang en pragtige ras.”

36. Hoe het die Griekse digter Hesiodos ’n “Goue Eeu” beskryf?

36 Onder die antieke Grieke praat Hesiodos se gedig Werke en Dae van die Vyf Tye van die Mens, waarvan die eerste die “Goue Eeu” was toe mense volkome geluk gesmaak het. Hy het geskryf:

“Die onsterflike gode, wat die hemelhowe betree,

Het eers ’n goue ras mense gemaak.

Soos gode het hulle gelewe, gelukkig en sorgvry,

Vry van geswoeg en pyn; en hulle is nie geteister

Deur ellendige ouderdom nie, maar het hulle hele lewe lank

Fees gevier, en hulle ledemate het nie verander nie.”

Daardie legendariese goue eeu het volgens Griekse mitologie vergaan toe Epimetheus die pragtige Pandora, wat ’n geskenk van die Olimpiese god Zeus was, as vrou aangeneem het. Pandora het eendag die deksel van haar groot vaas oopgemaak en skielik het probleme, ellende en siekte waarvan die mensdom nooit sou herstel nie daaruit gekom.

37. Beskryf die ou Chinese legendariese verslag oor ’n “paradys” aan die begin van die geskiedenis.

37 Ou Chinese legendes vertel ook van ’n goue eeu in die dae van Hoeang-ti (die Geel Keiser), wat glo in die 26ste eeu v.G.J. honderd jaar lank geregeer het. Hy was na bewering die uitvinder van alles wat met die beskawing te doen het—klere en onderdak, vervoermiddels, wapens en oorlogvoering, grondbestuur, vervaardiging, die sykultuur, musiek, taal, wiskunde, die kalender, ensovoorts. Gedurende sy bewind was daar glo “geen diewe of bakleiery in China nie, en die mense het in nederigheid en vrede gelewe. Tydige reën en weer het jaar na jaar ’n oorvloedige oes meegebring. Die verbasendste feit was dat selfs die wilde diere nie doodgemaak en roofvoëls geen skade aangerig het nie. Kortom, die geskiedenis van China het met ’n paradys begin.” Die Chinese beweer vandag nog dat hulle die afstammelinge van die Geel Keiser is.

38. Wat kan ons uit al die soortgelyke legendariese verslae oor die mens se begin aflei?

38 Soortgelyke legendariese verslae oor ’n tyd van geluk en volmaaktheid aan die begin van die mensegeskiedenis word aangetref in die godsdienste van baie ander volke—die Egiptenaars, Tibetane, Peruane, Mexikane en ander. Was dit blote toeval dat al hierdie volke, wat ver van mekaar gewoon en heeltemal verskillende kulture, tale en gebruike gehad het, dieselfde beskouings oor hulle oorsprong gehuldig het? Was dit blote toeval dat hulle almal hul begin op dieselfde manier verklaar het? Logika en ondervinding toon dat dit nouliks die geval kan wees. Daar moet eerder in al hierdie legendes ’n paar gemeenskaplike elemente van waarheid oor die begin van die mens en sy godsdiens ingevleg wees.

39. Watter geheelbeeld kan saamgevoeg word uit die elemente wat in die talle legendes oor die mens se begin voorkom?

39 Daar is inderdaad talle gemeenskaplike elemente wat in al die verskillende legendes oor die mens se begin onderskei kan word. Wanneer ons hulle saamvoeg, kry ons ’n vollediger beeld. Dit vertel hoe God die eerste man en vrou geskep en hulle in ’n paradys geplaas het. Hulle was aanvanklik baie tevrede en baie gelukkig, maar hulle het gou opstandig geword. Daardie opstand het veroorsaak dat hulle die volmaakte paradys verbeur het en dat dit vervang is deur arbeid en geswoeg, pyn en lyding. Uiteindelik het die mensdom so sleg geword dat God hulle gestraf het deur ’n groot watervloed te stuur wat op een na al die gesinne vernietig het. Namate hierdie gesin groter geword het, het party van die afstammelinge saamgespan en begin om ’n ontsaglike toring uit verset teen God te bou. God het hulle plan verydel deur hulle taal te verwar en hulle na die uithoeke van die aarde te verstrooi.

40. Verduidelik hoe die legendes oor die oorsprong van die mens se godsdienste met die Bybel verband hou.

40 Is hierdie saamgestelde beskrywing bloot die resultaat van iemand se denkoefening? Nee. Dit is in wese die beskrywing in die Bybel, in die eerste 11 hoofstukke van die boek Genesis. Ons gaan nie die egtheid van die Bybel hier bespreek nie, maar let wel dat die sleutelelemente in baie legendes die Bybelverhaal van die mens se vroeë geskiedenis weerspieël. * Die verslag toon dat toe die mensdom van Mesopotamië af versprei het hulle hul herinneringe, ervaringe en opvattings oral met hulle saamgeneem het. Dit is mettertyd uitgebou en verander en het die skering en inslag van godsdiens in elke wêrelddeel geword. Met ander woorde, die Genesisverslag is, as ons die vroeëre analogie weer gebruik, die oorspronklike, kristalhelder bron van die basiese opvattings oor die begin van die mens en aanbidding wat in die verskillende godsdienste van die wêreld aangetref word. Hulle het hulle besondere leerstellings en gebruike daarby gevoeg, maar die verband is onmiskenbaar.

41. In die lig waarvan moet jy die volgende hoofstukke in hierdie boek bestudeer?

41 In die volgende hoofstukke van hierdie boek gaan ons noukeuriger ondersoek hoe spesifieke godsdienste ontstaan en ontwikkel het. Dit sal vir jou insiggewend wees om te sien nie net hoe elke godsdiens van die ander verskil nie, maar ook hoe godsdienste met mekaar ooreenstem. Jy sal ook kan sien waar elke godsdiens in die mensegeskiedenis en die geskiedenis van godsdiens inpas, hoe die heilige boek of geskrifte daarvan met die ander verband hou, hoe die stigter of leier daarvan deur ander godsdiensopvattings beïnvloed is en watter uitwerking dit op mensegedrag en -geskiedenis gehad het. As jy die mensdom se lang soeke na God in die lig van hierdie punte bestudeer, sal jy die waarheid omtrent godsdiens en godsdiensleringe duideliker kan sien.

[Voetnote]

^ par. 31 Sien asseblief die boek Insight on the Scriptures, wat in 1988 deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., uitgegee is, Deel 1, bladsye 328, 610 en 611, vir ’n uitvoerige vergelyking van die baie vloedlegendes wat onder verskillende volke aangetref word.

^ par. 40 Sien asseblief die boek Die Bybel—God se woord of die mens s’n?, wat in 1989 deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., uitgegee is, vir uitvoerige inligting oor hierdie onderwerp.

[Studievrae]

[Lokteks op bladsy 23]

Die opkoms van wetenskaplike ondersoek en die evolusieteorie het baie mense godsdiens in twyfel laat trek

[Lokteks op bladsy 34]

Dit is asof daar ’n gemeenskaplike bron was waaruit elke godsdiens sy basiese opvattings geput het

[Venster op bladsy 28]

Waarom is die mens godsdienstig?

▪ John B. Noss sê in sy boek Man’s Religions: “Alle godsdienste sê op die een of ander manier dat die mens nie alleen staan nie en nie alleen kan staan nie. Hy is wesenlik verbind met en selfs afhanklik van eksterne kragte in die Natuur en die Gemeenskap. Hy weet, vaagweg of duidelik, dat hy nie ’n onafhanklike kragbron is wat apart van die wêreld kan staan nie.”

Die boek World Religions—From Ancient History to the Present sê insgelyks: “Die studie van godsdiens toon dat ’n belangrike aspek daarvan ’n begeerte na waarde in die lewe is, ’n oortuiging dat die lewe nie die produk van toeval en sinloos is nie. Die soeke na betekenis lei tot geloof in ’n mag groter as die mens, en uiteindelik tot ’n universele of bomenslike verstand met die voorneme en wil om die hoogste waardes vir menselewe te handhaaf.”

Godsdiens voorsien dus in ’n basiese mensebehoefte, net soos voedsel ons honger stil. Ons weet dat as ons na willekeur eet wanneer ons honger is dit dalk die hongerpyne sal stil; maar op die lange duur sal dit ons gesondheid benadeel. Ons het heilsame en voedsame voedsel nodig om ’n gesonde lewe te lei. Ons het eweneens heilsame geestelike voedsel nodig om geestelik gesond te bly. Daarom sê die Bybel vir ons: ‘Die mens lewe nie van brood alleen nie, maar van alles wat uit die mond van die HERE uitgaan.’—Deuteronomium 8:3.

[Kaart op bladsy 39]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Toe die mensdom van Mesopotamië af versprei het, het hulle hul godsdiensopvattings en herinneringe saamgeneem

BABILON

LIDIË

SIRIË

EGIPTE

ASSIRIË

MEDIË

ELAM

PERSIË

[Prente op bladsy 21]

Manne soos die Boeddha, Confucius en Luther het bestaande godsdiensstelsels verander; hulle was nie vir die ontstaan van godsdiens verantwoordelik nie

[Prent op bladsy 25]

Oostenrykse psigoanalis Sigmund Freud het godsdiens aan vrees vir ’n vaderfiguur toegeskryf

[Prent op bladsy 27]

Die veronderstelling dat die aarde die middelpunt van die heelal is, het tot verkeerde gevolgtrekkings oor die beweging van die planete gelei

[Prente op bladsy 33]

Boeddhisme en Rooms-Katolisisme—waarom het hulle blykbaar so baie dinge gemeen?

Chinese Boeddhistiese genadegodin met kind

Katolieke Madonna met die kind Jesus

’n Tibettaanse Boeddhis gebruik ’n gebedswiel en rosekrans

’n Katoliek gebruik die rosekrans

[Prent op bladsy 36]

Chinese legendes praat van ’n goue eeu gedurende die bewind van Hoeang-ti (die Geel Keiser) in mitiese tye