Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOE JOU DONASIES GEBRUIK WORD

Instandhouding van ons Koninkryksale

Instandhouding van ons Koninkryksale

1 APRIL 2024

 Nicole, ’n jong suster in Colombia, sê: “Ek is lief vir my Koninkryksaal! Dit is waar ek saam met my geestelike familie kan wees.” Voel jy dieselfde?

 Jehovah se Getuies kom regoor die wêreld in sowat 63 000 Koninkryksale bymekaar. Hierdie geboue is gerieflike plekke waar ons God kan aanbid. Maar dit sluit meer in. ’n Gewone pionier in Colombia met die naam David sê: “Ons Koninkryksaal versier ons leringe. Baie besoekers is verbaas om te sien hoe ons die gebou in so ’n goeie toestand hou.” Dit gebeur nie vanself nie. Ons werk hard om ons Koninkryksale skoon en in stand te hou. Hoe word hierdie werk gedoen?

Hoe word instandhouding gereël?

 Die gemeentes wat ’n Koninkryksaal gebruik, is verantwoordelik vir die instandhouding daarvan. Om dit te doen, maak broers en susters hulle Koninkryksaal gereeld skoon. Hulle doen ook voorkomende instandhouding en kleiner herstelwerk.

 Om gemeentes te help om hulle Koninkryksaal in stand te hou, wys die Plaaslike Kantoor vir Ontwerp en Konstruksie (LDC) broers toe om as instandhoudingsopleiers te dien. Elke opleier is verantwoordelik vir ses tot tien Koninkryksale. Hy besoek die sale en lei die verkondigers in die gemeentes op om na hulle saal om te sien. Elke drie jaar evalueer hy elke gebou en identifiseer hy veiligheids- en instandhoudingsprobleme.

Instandhoudingsopleiers help ons om ons Koninkryksale in ’n goeie toestand te hou

 Ons broers en susters is dankbaar vir die opleiding wat instandhoudingsopleiers voorsien. Indhumathi, ’n suster in Indië, sê: “Die opleiding was wonderlik. Dit was ’n voorreg om te leer hoe om ons saal in ’n goeie toestand te hou.” Evans, ’n broer in Kenia, sê: “Ons het geleer hoe om baie geld te spaar deur na kleiner probleme om te sien voordat dit groter probleme geword het.”

Hoe uitgawes gedek word

 Die jaarlikse koste om ’n Koninkryksaal te gebruik en in stand te hou, kan duisende rande kos. Dit hang af van waar die saal geleë is, hoe oud dit is en die aantal gemeentes wat dit gebruik. Hoe word hierdie uitgawes gedek?

 Die instandhouding van Koninkryksale word deur donasies gedek. Alexander, ’n broer in Kazakstan, verduidelik: “’n Gedeelte van die donasies word gebruik vir internettoegang en dienste, soos water en elektrisiteit. Nog ’n gedeelte word gebruik vir noodsaaklikhede, soos papierhanddoeke, handskoene, skoonmaakbenodigdhede en verf.” Enige ekstra geld word aan die wêreldwye werk geskenk om met groter en duurder instandhoudingsprojekte regoor die wêreld te help.

Groter instandhoudingsprojekte

 As daar instandhouding aan ’n Koninkryksaal gedoen moet word wat meer as twee of drie maande se bedryfsuitgawes sal kos, sal die ouermanne die LDC se instandhoudingsopleier kontak. As die LDC die projek goedkeur, sal dit gewoonlik betaal word deur middel van donasies aan die wêreldwye werk. Gedurende die 2023-diensjaar is 8 793 van hierdie soort projekte gedoen en het dit meer as R1,4 biljoen gekos. Kyk na twee van hierdie projekte.

 In Angola het ’n Koninkryksaal wat 15 jaar oud is, ’n hele paar probleme gehad. Die elektriese stelsel moes vervang word, daar was krake in die mure en die bure het gekla dat water in hulle huise ingestroom het. Die LDC het ’n projek gereël om hierdie probleme op te los. Die projek het meer as R175 000 gekos. Die bure was dankbaar, en hulle was beïndruk deur hoe die werk gedoen is.

’n Koninkryksaal in Angola wat opgeknap is

 In Pole het ’n Koninkryksaal se dak gelek, en die mat was so erg beskadig dat dit vervang moes word. Die LDC het ’n projek goedgekeur om die dak te herstel en waterdig te maak en om die mat te vervang. Die projek het meer as R184 000 gekos. As gevolg hiervan sal dit nie nodig wees om enige groot opknappingswerk aan hierdie Koninkryksaal vir ’n hele paar jaar te doen nie.

Opknappingswerk wat aan die gang is by ’n Koninkryksaal in Pole

Instandhoudingswerk wat Jehovah verheerlik

 Instandhoudingswerk spaar nie net kosbare donasies nie, maar bring ook lof aan Jehovah. Shaun, ’n broer in Tonga, sê: “As gevolg van ons instandhoudingswerk kan ons Jehovah in ’n skoon, ordelike en goed georganiseerde Koninkryksaal aanbid wat eer op sy naam in die gemeenskap bring. Ons is trots om mense na ons Koninkryksaal te nooi.”

Hoe kan jy help?

 Ons kan almal help om ons plek van aanbidding skoon te maak en in stand te hou. Marino, ’n instandhoudingsopleier in Australië, sê: “Ons almal kan ’n deel hê in die wonderlike voorreg om na ons Koninkryksale om te sien. Wanneer ons dit doen, help ons baie om bydraes te spaar sodat dit gebruik kan word waar dit regtig nodig is.”

 Joel, ’n broer in Indië, geniet dit om instandhoudingswerk by sy Koninkryksaal te doen. Hy sê: “Om saam met my broers te werk, help my om my voor te stel hoe die nuwe wêreld sal wees.” Nicole, wat vroeër aangehaal is, sê: “Ek het onlangs gehelp om die vloer droog te maak toe die broers ’n lekkasie in die badkamer reggemaak het. Al het ek nie die fout reggemaak nie, het ek gehelp keer dat ’n ongeluk gebeur.”

 As jy graag wil help om jou Koninkryksaal in stand te hou, praat met jou plaaslike ouermanne. Jou donasies gaan nie net help om die instandhoudingswerk by jou Koninkryksaal te ondersteun nie, maar ook ander Koninkryksale regoor die wêreld. Hierdie donasies kan gemaak word deur middel van bydraebussies by die Koninkryksaal of deur middel van donate.dan124.com. Ons is baie dankbaar vir julle vrygewigheid.

Ons almal kan help om na ons Koninkryksale om te sien