Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOE JOU DONASIES GEBRUIK WORD

Kolletjies wat lewens verander

Kolletjies wat lewens verander

1 OKTOBER 2021

 The Watch Tower van 1 Junie 1912 het gesê: “Daar is seker baie van ons lesers wat blinde mense ken. Hulle kan gratis publikasies kry om te lees. . . . Hierdie publikasies vir blinde mense word gedruk met opgehewe karakters wat blinde mense kan lees.” The Watch Tower het bygevoeg: “Baie blinde mense waardeer die boodskap dat daar wonderlike seëninge hier op aarde sal wees.”

 Toe hierdie woorde geskryf is, was daar nog nie ’n Engelse braillestelsel wat wêreldwyd gebruik was nie. Maar Jehovah se Getuies was alreeds besig om Bybelwaarheid in braille beskikbaar te maak. En ons doen dit nog steeds! Ons het nou braillepublikasies in meer as 50 tale beskikbaar. Hoe word dit gemaak?

Elke karakter bestaan uit knoppies wat in ’n sel gerangskik word. In elke sel is daar ses posisies waar ’n knoppie gemaak kan word. Die plasing van die knoppies in die sel bepaal watter karakter dit is

Die proses om braillepublikasies te maak

 Die eerste stap om braillepublikasies te maak, is om teks in braillekarakters te verander. Michael Millen, wat in Teksverwerkingsdienste in Patterson, New York, werk, verduidelik: “In die verlede het ons kommersiële sagteware gebruik wat teks in braille verander het, maar ons kon dit nie vir al die tale gebruik wat ons nodig gehad het nie. Nou gebruik ons Watchtower Translation System wat teks in braille verander in die meeste van die wêreld se tale. Ek dink nie daar is nog so ’n program in die wêreld nie.”

 Braillepublikasies sluit nie net die teks van die publikasie in nie, maar ook die beskrywings van die prente. Byvoorbeeld, die prent op die voorblad van Geniet die lewe vir ewig! in braille word soos volg beskryf: “’n Man begin stap op ’n kronkelende paadjie, en hy is omring deur pragtige plante, heuwels en berge.” Jamshed, ’n bedieningskneg en pionier wat blind is, sê: “Hierdie beskrywings van die prente is baie kosbaar vir my.”

 Nadat die teks in braille verander is, word die lêers na die takkantoor gestuur om braillepublikasies te maak. Daar word die publikasies op papier van goeie gehalte gedruk. Omdat hierdie papier dik is, kan daar nie gaatjies ingedruk word nie en bly dit in ’n goeie toestand al word dit oor en oor gebruik. Daarna word die bladsye bymekaargemaak, gebind en gestuur saam met die gewone lektuur vir die gemeente of as deel van ’n gratis diens vir blinde mense wat deur poskantore in party lande gelewer word. As dit nodig is, sal takkantore selfs reël dat dit vinniger gestuur word sodat broers wat blind of gesiggestremd is, die publikasies kan kry wat hulle vir gemeentelike vergaderinge nodig het.

 Dit kos baie geld en vat baie lank om hierdie werk te doen. Om die waarheid te sê, dit vat ons drukkery by Wallkill, New York, dieselfde hoeveelheid tyd om 50 000 standaard-Bybels te maak as wat dit vat om net 2 braille-Bybels te maak. Elke Bybel in graad twee-braille (Engels) bestaan uit 25 dele. Die materiaal wat nodig is om hierdie dele te maak, kos 123 keer meer as om ’n standaard-Bybel te maak. a Net die omhulsels vir een stel van 25 dele kos omtrent R2 100!

Die Nuwe Wêreld-vertaling in graad twee-braille (Engels) bestaan uit 25 dele!

 Hoe voel diegene wat help om braillepublikasies te maak, oor hulle werk? Nadia, wat by die takkantoor in Suid-Afrika dien, sê: “Ons broers en susters wat blind of gesiggestremd is, het nie ’n maklike lewe nie, so ek beskou dit as ’n seën om iets te maak wat hulle help. Dit is duidelik dat Jehovah baie lief is vir hulle.”

Leer hoe om braille te lees

 Maar wat as ’n persoon wat blind is, nie braille kan lees nie? ’n Paar jaar gelede het ons Learn to Read Braille vrygestel, ’n werkboek wat braille en gedrukte teks bevat. Dit is ontwerp sodat iemand wat kan sien en iemand wat blind is, dit saam kan gebruik. Die brosjure sluit dinge in wat die blinde persoon kan gebruik om in braille te skryf. Die persoon wat braille leer, gebruik hierdie dinge om self ’n braillekarakter op papier te maak. Hierdie oefeninge help die leerder om elke karakter makliker te onthou en om dit deur middel van gevoel te identifiseer.

“Ek is heeltemal ‘verslaaf’ daaraan”

 Hoe het hierdie publikasies broers en susters wat blind of gesiggestremd is, gehelp? Ernst, wat in Haïti woon, het gemeentelike vergaderinge bygewoon, maar hy het nie enige braillepublikasies gehad nie. As gevolg hiervan moes hy heeltemal staatmaak op wat hy kon onthou om studentetoewysings te doen en om antwoorde gedurende vraag-en-antwoord-dele te gee. Hy sê: “Maar nou kan ek my hand opsteek en enige tyd antwoord. Ek voel regtig deel van die gemeente. Ons kry almal dieselfde geestelike voedsel!”

 Jan, ’n gesiggestremde ouerman in Oostenryk wat die Wagtoring-studie en Gemeentelike Bybelstudie hou, sê: “Ons publikasies is baie makliker om te verstaan as ander braillepublikasies wat ek al gelees het. Byvoorbeeld, ons het bladsynommers, voetnote wat maklik is om te vind en akkurate beskrywings van prente.”

 Seon-ok, ’n pionier in Suid-Korea, is blind en doof. In die verlede was sy afhanklik van tasbare gebaretaal by die vergaderinge, maar nou kan sy Bybelstudiehulpe in braille op haar eie lees. Sy sê: “Ander braillepublikasies kan moeilik wees om te lees omdat van die kolletjies weg is, die lyne skeef is of die papier te dun is. Maar Jehovah se Getuies gebruik papier van ’n beter gehalte en maak dat die kolletjies meer uitstaan. Dit maak dit vir my makliker om te lees.” Sy voeg by: “In die verlede kon ek net Bybelgebaseerde publikasies studeer met die hulp van ander mense. Maar nou kan ek op my eie studeer. Dit maak my gelukkig om vir ons weeklikse Christelike vergaderinge voor te berei en om ten volle daaraan deel te neem. Ek lees al ons braillepublikasies. Jy kan sê ek is heeltemal ‘verslaaf’ daaraan.”

 Soos ons gedrukte publikasies, sê ons braillepublikasies ook die volgende: “Hierdie publikasie word nie verkoop nie. Dit word gebruik om mense regoor die wêreld oor die Bybel te leer. Hierdie werk word deur vrywillige donasies ondersteun.” Dankie dat julle sulke donasies maak deur middel van die metodes op donate.dan124.com. Julle vrygewigheid help om geestelike voedsel aan almal beskikbaar te maak, insluitende mense wat blind en gesiggestremd is.

a In party braillestelsels word woorde verkort om spasie te spaar. Byvoorbeeld, in graad twee-braille word algemene woorde en letterkombinasies afgekort. Daarom is ’n boek in graad twee-braille kleiner as dieselfde boek in graad een-braille.