Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Links: Noodlenigingswerkers in Chili het gehelp om ’n paartjie se huis ná verwoestende veldbrande te herstel. Regs: Twee susters in Nigerië ontvang noodvoorrade nadat hulle streek deur lewensgevaarlike oorstromings getref is

HOE JOU DONASIES GEBRUIK WORD

Noodlenigingswerk in 2023 – “Ons sien eerstehands Jehovah se liefde”

Noodlenigingswerk in 2023 – “Ons sien eerstehands Jehovah se liefde”

26 JANUARIE 2024

 Die Bybel het voorspel dat “nasie . . . teen nasie [sou] opstaan” en dat daar rampe gedurende “die einde van die wêreldstelsel” sou wees (Matteus 24:3, 7). Ons het gesien hoe hierdie profetiese woorde gedurende die 2023-diensjaar vervul is. a Maar ten spyte van gewapende konflikte en natuurrampe in byna 100 lande het Jehovah se Getuies Jehovah se liefde nagevolg. Hoe?

 Gedurende die 2023-diensjaar is ons broers deur meer as 200 mensgemaakte rampe of natuurrampe geraak. Regsentiteite wat deur Jehovah se Getuies gebruik word, het altesaam meer as R189 miljoen spandeer van die donasies wat aan die wêreldwye werk gemaak is om noodleniging te voorsien. Dit is bo en behalwe die persoonlike fondse wat broers en susters gebruik het om dié in hulle gebied wat hulp nodig het, te help. Kyk hoe jou donasies gebruik is om die slagoffers te help van net twee van die baie rampe wat ons broers geraak het.

“Ware liefde bestaan regtig”

 Party streke in Nigerië ondervind gereeld oorstromings tydens sekere tye van die jaar. Maar die oorstromings in Oktober 2022 was die ergste wat die land in tien jaar ondervind het. Meer as 676 000 hektaar landerye is vernietig, en meer as tweemiljoen mense moes hulle huise verlaat. Die takkantoor in Nigerië het vinnig Noodlenigingskomitees aangestel om noodlenigingspogings te organiseer en die broers en susters te help om hulle geloof sterk te hou.

Broers in Nigerië steek paaie en riviere wat oorstroom het, oor om noodvoorrade af te lewer

Hoe dit ons broers en susters geraak het

  •   7 505 verkondigers moes hulle huise verlaat

  •   860 huise is beskadig of vernietig

  •   90 Koninkryksale en een Byeenkomssaal het oorstroom

Hoe donasies gebruik is

 Meer as R4 700 000 is aan noodlenigingswerk spandeer, wat die volgende insluit:

  •   Kos soos rys, boontjies en noedels

  •   Huisvoorrade soos matrasse en muskietnette

  •   Herstel of herbouing van beskadigde huise

 Hoe het ons broers seker gemaak dat donasies wyslik gebruik word? Een manier was om elke gebou versigtig te evalueer om vas te stel of dit herstel kon word. As ’n gebou heeltemal vervang moes word, is dit volgens ’n eenvoudige ontwerp gebou wat algemeen in die plaaslike gebied is.

 Ons broers en susters wat hulp ontvang het, is baie dankbaar. Een suster het gesê: “Die oorstroming het ons lewe ontwrig omdat al ons plase vernietig is en ons nie meer ’n huis gehad het nie. Ons was verlig toe ons broers en susters ons daardie selfde dag kom help het en ons van ’n veilige blyplek voorsien het. Toe ons die kos ontvang wat die takkantoor gestuur het, was ons baie verlig. Ons was verbaas toe ons eerstehands die vervulling van Johannes 13:34, 35 in ons lewe sien. . . . Ware liefde bestaan regtig. Ek en my hele gesin wil uit die diepte van ons hart vir [die] broers baie dankie sê dat hulle ons kom help het net toe ons dit nodig gehad het.”

 Ander in die gemeenskap het ons noodlenigingswerk raakgesien. ’n Hoof van ’n gemeenskap in Sabagreia, Bayelsa-staat, het gesê: “Daar is baie organisasies of kerke in die wêreld, maar dis net Jehovah se Getuies wat so iets gedoen het. . . . [Julle] organisasie is een van die beste in die wêreld.”

“Ons sien eerstehands Jehovah se liefde”

 Gedurende Februarie 2023 het meer as 400 brande groot verwoesting in Chili veroorsaak. Meer as 430 000 hektaar land, sowel as belangrike dele van Chili se infrastruktuur, is vernietig. Ongeveer 8 000 mense moes hulle huise verlaat. Kort nadat die ramp plaasgevind het, het die takkantoor noodlenigingspogings begin organiseer.

In Chili het noodlenigingswerkers ’n gesin se huis wat nie herstel kon word nie, herbou

Hoe dit ons broers en susters geraak het

  •   222 verkondigers moes hulle huise verlaat

  •   20 huise is vernietig

Hoe donasies gebruik is

 Meer as R3 700 000 is aan noodlenigingswerk spandeer, wat die volgende insluit:

  •   Kos en water

  •   Brandstof, skoonmaakmiddels en medisyne

  •   Herbouing van beskadigde huise

 Een gesin was geskok toe hulle uitvind dat alles wat hulle gehad het, vernietig was, insluitende hulle huis en besigheid. Dit het die gesin werkloos gelaat. Gedurende die eerste paar dae was dit vir die gesin traumaties om die oop stuk grond te sien waar hulle huis eers was. Maar toe hulle sien hoe hulle huis herbou word, het hulle beter begin voel. Die liefde wat hulle van die vrywilligers ontvang het, het hulle gehelp om die situasie te hanteer. Die gesin was so diep geraak deur hierdie ondervinding dat hulle by die vrywilligers aangesluit het en gehelp het om ’n ander broer se huis te herbou.

 Baie van ons broers en susters was beïndruk deur die noodlenigingswerk. Een broer het gesê: “Jehovah se reëling van Noodlenigingskomitees is regtig wonderlik. Die dag ná die tragedie was hulle alreeds by die plek waar dit plaasgevind het om basiese items te voorsien. Dit is aanmoedigend om oor noodlenigingswerk in ander dele van die wêreld te lees. Maar wanneer dit met jou gebeur, is dit baie anders. Jy waardeer die organisasie meer – hoe die broers Jehovah se eienskappe navolg en hoe besorg hulle is dat jy materieel, geestelik en emosioneel alles het wat nodig is. Ons sien eerstehands Jehovah se liefde in aksie.”

 Soos hierdie wêreld tot ’n einde kom, sal ons aanhou om al hoe meer rampe te sien (Lukas 21:10, 11). Maar ons liefdevolle Koning, Jesus Christus, gebruik die Christengemeente om ons te wys dat hy met ons is “al die dae tot aan die einde van die wêreldstelsel” (Matteus 28:20). Julle vrygewige donasies aan die wêreldwye werk, deur middel van donate.dan124.com en ander maniere, sowel as die tyd en energie wat julle gee, wys dat julle die Koninkryk en sy liefdevolle Koning ondersteun. Dankie vir julle volgehoue vrygewigheid.

a Die 2023-diensjaar het op 1 September 2022 begin en op 31 Augustus 2023 geëindig.