Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOE JOU DONASIES GEBRUIK WORD

Sendelinge “tot in die mees afgeleë deel van die aarde”

Sendelinge “tot in die mees afgeleë deel van die aarde”

1 JUNIE 2021

 Jesus het vir sy dissipels gesê: “Julle sal getuies van my wees . . . tot in die mees afgeleë deel van die aarde” (Handelinge 1:8). Vandag voer Jehovah se Getuies ywerig daardie opdrag uit. Maar daar is dele van die aarde, en dit sluit party groot, digbevolkte gebiede in, wat nog nie ’n deeglike getuienis gekry het nie. En in party lande is daar redelik min Getuies (Matteus 9:37, 38). Wat doen ons om soveel mense as moontlik te bereik?

 Om te help om Jesus se opdrag uit te voer, stuur die Dienskomitee van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies veldsendelinge na gebiede regoor die wêreld waar daar hulp nodig is. Op die oomblik is daar 3 090 veldsendelinge wêreldwyd. a Die meeste van hulle is opgelei by ’n Bybelskool, soos die Skool vir Koninkrykspredikers. Sendelinge is bereid om weg te trek na ’n vreemde land. As gevolg van hulle volwassenheid, opleiding en ondervinding help hierdie getroue sendelinge om die goeie nuus te versprei en stel hulle ’n goeie voorbeeld vir nuwe dissipels.

Sendelinge help om die goeie nuus te verkondig in gebiede waar daar baie hulp in die bediening nodig is

Sendelinge word gehelp om ander te help

 By elke takkantoor werk die Afdeling vir Veldbedienaars van die Diensafdeling saam met die Takkomitee om die dinge wat sendelinge nodig het te voorsien, soos beskeie behuising, gesondheidsorg en ’n klein toelaag vir hulle basiese behoeftes. Gedurende die 2020-diensjaar het Jehovah se Getuies so te sê R373 432 950 daaraan bestee om sendelinge te voorsien van wat hulle nodig het. Danksy hierdie voorsienings kan sendelinge al hulle aandag en energie aan die bediening gee, en ook help om hulle plaaslike gemeente te versterk.

Sendelinge help om gemeentes te versterk

 Watter positiewe invloed het veldsendelinge op die predikingswerk gehad? Frank Madsen, wat op die Takkomitee in Malawi dien, sê: “Met hulle moed en vaardighede het sendelinge gemeentes gehelp om moeilike gebiede te begin dek, soos afgesperde woongebiede en anderstalige gebiede. En hulle harde werk om die plaaslike taal en kultuur te leer inspireer ander; hulle positiewe invloed motiveer jongmense ook om daaraan te dink om self voltydse bedienaars te word. Ons sê vir Jehovah dankie vir veldsendelinge.”

 ’n Takkomiteelid van ’n ander land sê: “Sendelinge is lewende bewys daarvan dat daar wêreldwyd eenheid onder Jehovah se volk is. Selfs mense wat nie Getuies is nie, kan duidelik sien dat ons nie deur kulture verdeel word nie, maar dat Bybelleringe ons gehelp het om ’n verenigde broederskap te word.”

 Hoe help veldsendelinge die plaaslike verkondigers? Paulo van Timor-Leste waardeer die sendelinge wat na sy gemeente gestuur is. Hy sê: “Dit is baie, baie warm by ons. Maar al kom die sendelinge van ’n koue plek af skrik die weer hulle nie daarvan af om te preek nie. Hulle is altyd by die velddiensvergaderinge in die oggende. Ek sien baie keer hoe hulle in die middel van die dag, wanneer dit vreeslik warm is, herbesoeke doen, en selfs ook in die aande. Hulle het al baie mense gehelp om die waarheid te leer, en ek is een van hulle. Hulle is ywerig en entoesiasties en gebruik hulle hele lewe om Jehovah te dien, en dit motiveer die hele gemeente om meer vir Jehovah te doen.”

 Ketti, ’n gewone pionier in Malawi, vertel hoe ’n sendelingegpaar haar gesin gehelp het: “Toe ’n sendelingpaartjie na ons gemeente gestuur is, was ek die enigste Getuie in my gesin. Maar die paartjie het my baie ondersteun en het goeie vriende geraak van ons gesin. Hulle goeie voorbeeld het my kinders gehelp om te sien dat dit ’n mens gelukkig en tevrede maak om Jehovah te dien. As gevolg van die sendelinge se goeie invloed, is my drie dogters nou gewone pioniers en het my man begin om vergaderinge by te woon.”

 Hoe word die koste vir sendelinge gedek? Deur middel van donasies vir die wêreldwye werk, waarvan baie deur die metodes op donate.dan124.com gemaak word. Hierdie vrygewige bydraes word baie waardeer.

a Hierdie sendelinge word na gemeentes gestuur wat hulp nodig het met die predikingswerk. Nog 1 001 veldsendelinge doen kringwerk.