Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOE JOU DONASIES GEBRUIK WORD

’n Biblioteek in die palm van jou hand

’n Biblioteek in die palm van jou hand

1 SEPTEMBER 2021

 “Nie lank gelede nie, sou dit moeilik gewees het om te dink dat ons ons geestelike kos elektronies sou kry.” Stem jy saam met hierdie woorde? Dit was deel van ’n opbouende toespraak wat deur Geoffrey Jackson gegee was in die Jongste nuus van die Bestuursliggaam vir 2020 – Nr. 6. Hy het verder gesê: “Maar nou wonder ons dalk hoe ons deur hierdie pandemie sou kom sonder hulpmiddele soos JW Library. Jehovah het ons oor die jare voorberei om gereed te wees vir iets soos hierdie.”

 Hoe het Jehovah ons voorberei? Wat was betrokke daarby om die JW Library-app te skep, en wat is nodig om dit in stand te hou en te verbeter?

Die eerste van sy soort

 In Mei 2013 het die Bestuursliggaam vir MEPS-programmering, ’n afdeling by die hoofkwartier, gevra om ’n app te ontwikkel wat die hersiene Nuwe Wêreld-vertaling van die Bybel bevat. Paul Willies, wat saam met MEPS-programmering werk, sê: “Voor 2013 het ons nie ’n app vir elektroniese toestelle op enige van die app-winkels vrygestel nie. Maar ons het ’n span bymekaargemaak en opgehou met ’n paar projekte. Ons het saam met ander afdelings gewerk om die app en die inhoud daarop te ontwerp en te skep. Ons het dikwels gebid, en met Jehovah se hulp was die app net vyf maande later by die jaarvergadering vrygestel!”

 Die volgende uitdaging was om die app in ’n regte biblioteek te verander met meer publikasies en meer tale. Teen Januarie 2015 was die meeste van ons nuutste publikasies in Engels op die app beskikbaar. Net ses maande later kon die gebruikers daardie publikasies in honderde ander tale aflaai.

 Sedertdien het ons broers die app op baie maniere verbeter. Hulle het video’s bygevoeg, al die publikasies en media vir die gemeentelike vergaderinge onder een tab gesit en het gebruikers toegang gegee tot verwysings in die Navorsingsgids wat direk aan Bybelverse gekoppel is.

Hoe die biblioteek in stand gehou word

 JW Library word elke dag op 8 miljoen toestelle en elke maand op meer as 15 miljoen toestelle gebruik! Wat is nodig vir die app om reg op daardie toestelle te werk? Broer Willies verduidelik: “’n App vir elektroniese toestelle is nooit regtig klaar nie. Ons is heeltyd besig om nuwe kenmerke by te voeg en om die app makliker te maak om te gebruik. Omdat kommersiële bedryfstelsels vir elektroniese toestelle dikwels bygewerk word, moet ons die app heeltyd verander sodat dit by hierdie stelsels kan inskakel. Ons moet ook ons interne sagteware instandhou en bywerk soos die aantal publikasies en opnames op JW Library meer word.” Daar is op die oomblik sowat 200 000 publikasies en meer as 600 000 oudio- en video-opnames op JW Library in verskillende tale beskikbaar!

 Meer as rekenaartoerusting is nodig om die app op hierdie manier in stand te hou. Baie sagtewarelisensies moet ook gekoop word. Net een lisensie kos meer as R21 000 per jaar. MEPS-programmering spandeer ook omtrent R144 000 elke jaar aan toestelle van verskillende vervaardigers om seker te maak dat die app reg werk op nuwe rekenaars, tablette en fone.

JW Library spaar geld

 As gevolg van JW Library word daar baie minder geld gebruik om publikasies te druk, te bind en te vervoer. Kyk byvoorbeeld na die boekie Ondersoek die Skrif elke dag. In 2013 het ons amper 12 miljoen kopieë van die boekie Ondersoek die Skrif gedruk. Maar in 2020 het ons net 5 miljoen boekies gedruk – al was daar omtrent 700 000 meer verkondigers wêreldwyd. Hoekom soveel minder? Die meeste van ons broers en susters lees nou die dagteks op JW Library. a

“Dit is regtig kosbaar”

 JW Library help ook die gebruikers daarvan op verskillende maniere. Geneviève, wat in Kanada woon, voel dat die app haar help om meer gereeld te studeer. Sy erken: “Om die waarheid te sê, as ek ’n klomp boeke moet uithaal om te studeer, dink ek nie dat ek dit elke oggend sou doen nie. Maar met die app, tel ek my tablet op en daar is alles wat ek nodig het. Om op hierdie manier gereeld te studeer, het my geloof versterk en het my nader aan Jehovah gebring.”

Geneviève

 Die app het mense veral gedurende die COVID-19-pandemie gehelp. Charlyn, van die Verenigde State, verduidelik: “As gevolg van die COVID-19-pandemie wat regoor die wêreld is, het ek vir meer as ’n jaar lank nie enige van ons nuwe gedrukte publikasies gesien nie. Maar JW Library het ons gegee wat ons nodig het om ons geloof sterk te hou, en ek dank Jehovah vir hierdie liefdevolle voorsiening.”

 Baie mense voel soos Faye wat in die Filippyne woon. Sy sê: “Ek gebruik hierdie een kragtige app om na aan Jehovah te bly. Ek lees dit eerste ding in die oggend. Ek luister daarna wanneer ek in die huis besig is. Ek gebruik dit om vir die vergaderinge voor te berei. Ek gebruik dit om vir my Bybelstudie voor te berei. In my vrye tyd kyk ek video’s daarop. Wanneer ek in ’n lyn staan, lees ek artikels of die Bybel daarop. Dit is regtig kosbaar.”

 Die app het ook groot waarde in die bediening. Byvoorbeeld, ’n suster in Kameroen wat velddiens gedoen het, wou ’n teks gebruik wat sy gesien het ’n ander suster ’n paar weke vroeër gebruik het. Maar sy kon nie onthou waar die vers was nie. Sy verduidelik: “Gelukkig kon ek ’n paar woorde van die vers onthou. Ek het die app oopgemaak, na die Bybel gegaan en na daardie paar woorde gesoek. Ek het dadelik die teks gekry. Wanneer ek die app gebruik, is dit makliker om verse te vind wat ek soms vergeet.”

 As gevolg van julle vrywillige donasies deur middel van die metodes wat op donate.dan124.com beskryf word, kon ons die JW Library-app ontwikkel, instandhou en verbeter vir ons broers en susters regoor die wêreld. Dankie vir julle vrygewigheid.

JW Library se tydlyn

  1. Oktober 2013 – App word vrygestel met die hersiene Nuwe Wêreld-vertaling van die Bybel

  2. Januarie 2015 – Ander publikasies word in Engels beskikbaar gemaak, honderde ander tale volg

  3. November 2015 – Funksie om teks te merk, word bygevoeg

  4. Mei 2016 – Vergadering-tab word bygevoeg

  5. Mei 2017 – Die funksie om nota’s te maak, word bygevoeg

  6. Desember 2017 – Ondersteuning vir die Studiebybel in Engels word bygevoeg

  7. Maart 2019 – Die vermoë om oudio-opnames af te laai, om video’s te stroom en om toegang tot die Navorsingsgids-verwysings te kry, word bygevoeg

  8. Januarie 2021 – Kenmerke vir die boek Geniet die lewe vir ewig! word bygevoeg

a Dit kos geld om ’n item op JW Library af te laai. Byvoorbeeld, ons het laas jaar meer as R21 590 000 spandeer sodat opnames en ander items op jw.org en die JW Library-app afgelaai en gestroom kan word. Dit is nog steeds baie goedkoper om elektroniese publikasies en opnames af te laai as om lektuur, CD’s en DVD’s te maak en te vervoer.