Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe om jou bekommernisse te beheer

Hoe om jou bekommernisse te beheer

 As ’n mens jou te veel bekommer, kan dit jou fisies en emosioneel seermaak. Dit kan dalk groter probleme veroorsaak as die probleem waaroor jy aan die begin bekommerd was.

Wenke om jou bekommernisse te beheer

  •  Hou negatiewe nuus op sy plek. Jy hoef nie elke detail oor ’n krisis te weet nie. As ’n mens te veel negatiewe nuus inneem, sal dit jou gevoelens van vrees en moedeloosheid vererger.

     Bybelwaarheid: “’n Gebroke gees beroof jou van jou krag.” – Spreuke 17:22.

     “Dit is maklik om verslaaf te raak aan die konstante instroming van nuwe en skokkende nuus, maar dit is ’n slegte gewoonte. Wanneer ek nie so baie na die nuus kyk nie, voel ek heelwat minder gestres.” – John.

     Iets om oor te dink: Hoe gereeld het jy nou eintlik die jongste nuus nodig?

  •  Bly by ’n roetine. Probeer om altyd op die dieselfde tye op te staan, te eet, jou takies te doen en te gaan slaap. Wanneer ’n mens ’n rooster het, voel jou lewe meer normaal en dit sal jou help om minder bekommerd te wees.

     Bybelwaarheid: “Die planne van hardwerkende mense lei tot sukses.” – Spreuke 21:5.

     “Toe die COVID-19-pandemie begin het, het ek glad nie by my roetine gebly nie en het ek op die ou end te veel tyd aan vermaak bestee. Ek wou my tyd beter gebruik en het toe ’n rooster gemaak van die dinge wat ek elke dag moet doen.” – Joseph.

     Iets om oor te dink: Het jy ’n roetine wat jou aan die einde van elke dag ’n gevoel van tevredenheid gee?

  •  Fokus op die goeie dinge in jou lewe. As jy bly dink aan wat jy in die verlede anders kon gedoen het en aan die slegte dinge wat in die toekoms kan gebeur, sal dit jou net meer bekommerd laat voel. Dink eerder aan twee of drie dinge waarvoor jy dankbaar kan wees.

     Bybelwaarheid: “Toon dat julle dankbaar is.” – Kolossense 3:15.

     “Wanneer ek die Bybel lees, help dit my om negatiewe inligting te vermy en op positiewe dinge te fokus. Dit klink dalk na ’n cliché, maar dit werk!” – Lisa.

     Iets om oor te dink: Is jy geneig om aanhoudend aan die negatiewe dinge in jou lewe te dink en van die positiewe dinge te vergeet?

  •  Dink aan ander. In plaas daarvan om jou af te sonder – wat alte maklik gebeur wanneer bekommernisse jou opvreet – moet jy dink aan hoe jy ander kan help.

     Bybelwaarheid: “[Moenie] net aan julle eie belange dink nie, maar ook aan die belange van ander.” – Filippense 2:4.

     “Wanneer ek vir ander mense dinge doen, maak dit my gelukkig. Ek doen iets wat hulle laat goed voel, en terselfdertyd bekommer ek my nie so oor alles nie. Om die waarheid te sê, daar is niks tyd oor om my te bekommer nie.” – Maria.

     Iets om oor te dink: Hoeveel van die mense wat jy ken, het spesiale hulp nodig en wat kan jy doen om hulle te help?

  •  Bly gesond. Kry genoeg oefening en rus. Eet gesonde kos. Wanneer jy na jou fisiese gesondheid kyk, kan dit jou ’n beter uitkyk op die lewe gee en jou help om jou minder te bekommer.

     Bybelwaarheid: “Fisiese oefening het . . . voordeel.” – 1 Timoteus 4:8.

     “Ek en my seun kan nie so aktief buite wees soos wat ons wil nie, en daarom het ons oefeninge binne die huis deel van ons roetine gemaak. Dit het ons gehelp om goed te voel oor onsself en selfs om mekaar beter te behandel.” – Catherine.

     Iets om oor te dink: Moet jy dalk jou eetgewoontes aanpas en meer oefen sodat jy gesonder kan wees?

 Die wenke hierbo kan ons help om ons minder te bekommer, maar baie mense het ook daarby baat gevind om oor die Bybel se betroubare beloftes van ’n beter toekoms te leer. Kyk na die artikel “Wat sal God se Koninkryk doen?