Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Werk verstandig met jou geld

Werk verstandig met jou geld

DAAR is al dikwels beweer dat die gesegde: “Geld is die wortel van alle kwaad” uit die Bybel kom. Wat die Bybel werklik sê, is: “Die liefde vir geld is ’n wortel van allerhande skadelike dinge” (1 Timoteus 6:10). Party mense het inderdaad ’n liefde vir geld ontwikkel en het hulle lewe daaraan gewy om rykdom te vergaar. Sommige het slawe van geld geword en die tragiese gevolge daarvan gely. Wanneer ’n mens egter verstandig met geld werk, kan dit ’n nuttige middel wees. Die Bybel erken dat “geld baie probleme oplos”.—Prediker 10:19, Holy Bible—Easy-to-Read Version.

Hoewel die Bybel nie beweer dat dit ’n finansiële handboek is nie, bevat dit wel praktiese raad wat jou kan help om verstandig met jou geld te werk. Die volgende vyf stappe word gewoonlik deur finansiële raadgewers aanbeveel en strook met beginsels wat lank gelede in die Bybel opgeteken is.

Jy moet weet hoeveel jy verdien en minder as dit spandeer

Spaar. Die Bybelverslag toon dat die eertydse Israeliete geleer is hoe belangrik dit is om te spaar. Hulle is aangesê om elke jaar ’n tiende (of 10 persent) opsy te sit wat uitsluitlik gebruik moes word om nasionale feeste by te woon (Deuteronomium 14:22-27). Die apostel Paulus het die vroeë Christene eweneens aangemoedig om elke week geld opsy te sit sodat hulle later iets kon bydra om hulle behoeftige medegelowiges te help (1 Korintiërs 16:1, 2). Die meeste finansiële beplanners moedig mense aan om te spaar. Maak dit ’n prioriteit. Sodra jy betaal word, moet jy die bedrag wat jy wil spaar, by ’n bank of iewers anders vir veilige bewaring deponeer. Dit sal jou help om die versoeking te weerstaan om daardie geld uit te gee.

Begroot. Dit is die enigste praktiese manier om uitgawes te monitor, te beheer of te verminder. ’n Goeie begroting kan jou ’n idee gee van waarop jy jou geld spandeer, en dit kan jou help om jou finansiële doelwitte te bereik. Jy moet weet hoeveel jy verdien en minder as dit spandeer. Leer om te onderskei tussen wat jy nodig het en wat jy wil hê. Jesus het sy toehoorders in dié verband wyslik aangespoor om “die koste [te] bereken” voordat hulle ’n projek aanpak (Lukas 14:28). Die Bybel raai ons aan om onnodige skuld te vermy.—Spreuke 22:7.

Beplan. Dink goed na oor jou toekomstige behoeftes. As jy byvoorbeeld beplan om ’n huis of ’n woonstel te koop, sal dit dalk goed wees  om ’n huislening teen ’n redelike koers te kry. En ’n gesinsman ag dit dalk ook nodig om lewens-, mediese, ongeskiktheids- of ander vorme van versekering uit te neem om sy geliefdes te beskerm. Wanneer jy jou behoeftes vir die toekoms in aanmerking neem, sal dit moontlik ook behels dat jy vir jou aftrede beplan. Spreuke 21:5 herinner ons: “Die planne van die vlytige lei gewis tot voordeel.”

Leer om te onderskei tussen wat jy nodig het en wat jy wil hê

Leer. Belê in jouself deur vaardighede aan te leer en na jou fisiese en emosionele gesondheid om te sien. Dit is beleggings waarby jy in die toekoms sal baat vind. Maak dit ’n lewenslange gewoonte om te leer. In die Bybel word “praktiese wysheid en denkvermoë” hoog aangeskryf, en dit spoor ons aan om hierdie dinge voortdurend te ontwikkel.—Spreuke 3:21, 22; Prediker 10:10.

Handhaaf ’n balans. Hou geld op sy plek. Baie meningspeilings toon dat diegene wat meer besorg is oor mense as oor geld, gelukkiger is. Party laat toe dat gierigheid hulle hulle balans laat verloor. Hoe so? Nadat hulle in hulle basiese behoeftes voorsien het, begin hulle rykdom najaag. Maar wat het ’n mens werklik nodig buiten voedsel, klere en behuising? Dit is geen wonder nie dat die Bybelskrywer wat aan die begin van hierdie artikel aangehaal is, ook geskryf het: “As ons . . . voedsel, klere en onderdak het, sal ons met hierdie dinge tevrede wees” (1 Timoteus 6:8). As ons leer om tevrede te wees, sal dit verhoed dat ons ’n liefde vir geld ontwikkel en dat ons al die probleme ervaar wat daarmee gepaardgaan.

Die liefde vir geld is inderdaad die wortel van allerhande skadelike dinge. Geld sal jou meester word as jy dit toelaat. Wanneer ’n mens egter goed met geld werk, kan dit jou die vryheid gee om die belangriker dinge in die lewe na te streef, soos ’n hegte band met familie, vriende en God. Dit lyk egter asof dit onmoontlik is om in hierdie wêreld heeltemal vry te wees van bekommernisse oor geld. Sal geld altyd ’n bron van kommer wees? Watter hoop is daar dat armoede iets van die verlede sal wees? Die laaste artikel in hierdie reeks sal die antwoorde op hierdie vrae voorsien.

Wat het ’n mens werklik nodig buiten voedsel, klere en behuising?