Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat ouers kan doen

Wat ouers kan doen

“Daar was te veel leerders in een klaskamer! Daar was geen waaiers nie, en die hitte was versmorend.”—Luis, Bolivia.

“Ons skool het min onderwysers gehad, en daarom het leerders nie persoonlike aandag ontvang nie. Die skool het nie landkaarte, laboratoriumtoerusting of ’n biblioteek gehad nie.”—Dorcus, Mianmar.

“Die meeste van my onderwysers het gesukkel om die klas in toom te hou. Soms was die klas heeltemal onbeheerbaar, wat dit nog moeiliker gemaak het om te studeer.”—Nina, Suid-Afrika.

SOOS die aanhalings hierbo toon, maak die omstandighede in party skole dit baie moeilik om te leer. Hoe kan jy as ’n ouer jou kinders help om die beste te maak van hulle skoolopleiding ten spyte van die uitdagings? Hier is ’n paar wenke.

Lê inisiatief aan die dag.

Moenie op die probleme konsentreer nie—waarvan die meeste waarskynlik buite jou beheer is—konsentreer eerder op wat jy kan doen. As dit lyk of jou kind met ’n sekere vak sukkel of te veel huiswerk kry, kan julle saam aan ’n paar oplossings probeer dink. Byvoorbeeld, moet jy ’n beter studeerplekkie by die huis inrig? Het jou kind hulp nodig om ’n rooster op te stel sodat hy of sy die belangrikste take gedoen kan kry? Sal hy of sy baat vind by ekstra lesse? Vir verdere wenke kan jy moontlik met jou kind se onderwyser en voorligter gesels. Beskou hierdie persone as jou bondgenote, nie jou teenstanders nie.

Help jou kind om gefokus te bly op die doel van opvoeding.

Opvoeding moet jou kind help om ’n goed afgeronde, verantwoordelike volwassene te word. Die doel moenie wees om net te leer hoe om rykdom te verkry nie. Tog toon navorsing dat talle jongmense geleerdheid nastreef met hierdie einste doelwit in gedagte—om ryk te word. Die Bybel bevorder ’n gebalanseerde beskouing van materiële dinge. Hoewel dit erken dat “geld as ’n beskerming dien”, waarsku dit ook dat “dié wat . . . vasbeslote is om ryk te wees”, nie ware geluk sal vind nie.—Prediker 7:12; 1 Timoteus 6:9.

Laat jou kind uit teëspoed leer.

Baie onderwysers sê dat leerders wel moeilik kan wees om te hanteer, maar dat ouers selfs moeiliker kan wees. Party ouers is gou om in te meng en te kla as hulle seun of dogter in die moeilikheid kom of swak vaar in ’n toets. ’n Verslag in die tydskrif Time haal byvoorbeeld ’n kollegeprofessor aan wat al studente gehad het wat “hulle ouers in die klaskamer op hulle selfoon bel om te kla oor slegte punte en wat die selfoon dan, gedurende die klas, vir haar gee omdat die ouer iets omtrent die saak wil doen. En ouers het al vir haar gesê dat hulle baie geld vir hulle kind se opvoeding betaal en het geïmpliseer dat niks anders as ’n A vir hulle aanvaarbaar is as rente op hulle belegging nie.”

Sulke ouers doen hulle kinders nie ’n guns nie. Trouens, pleks van hulle kinders te “red”, keer hulle dat hulle kinders “die werklikheid daarvan ervaar om besluite te maak, te misluk en self die gevolge van slegte besluite te dra”, skryf Polly Young-Eisendrath in haar boek The Self-Esteem Trap. Sy voeg by: “As ouers te veel inmeng om probleme vir hulle kinders op te los terwyl die kinders agteroorsit en niks doen nie, sal die ouers sterker word, maar die kinders sal swakker word en nie op hulle eie bene kan staan nie.”

Wees redelik wanneer dit kom by hoeveel opvoeding jou kind moet ontvang.

Soos vroeër genoem is, kan opvoeding jou kind help om ’n verantwoordelike volwassene te word (Genesis 2:24). Maar hoeveel opleiding het jou kind hiervoor nodig?

Moenie aanneem dat jou kind universiteit toe moet gaan om eendag ’n goeie bestaan te kan maak nie. Daar is ander opsies wat nie so duur is nie. Trouens, in party gevalle kan persone met ’n ambag net so ’n goeie bestaan maak soos diegene met ’n universiteitsgraad.

Die slotsom: Skole is nie volmaak nie, en kinders kom vandag voor uitdagings te staan wat net ’n paar dekades gelede ongehoord was. Maar met jou ondersteuning kan jou kind suksesvol wees op skool! Julle kan gerus die wenke op bladsye 3 tot 7 van hierdie tydskrif as ’n gesin bespreek.