Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 DIE BYBEL SE BESKOUING

Die huwelik

Die huwelik

Is die huwelik bloot ’n maatskaplike instelling?

“Wat God . . . onder een juk saamgevoeg het, moet geen mens skei nie.”—Matteus 19:6.

WAT DIE BYBEL SÊ

In God se oë is die huwelik baie meer as bloot ’n maatskaplike instelling. Dit is ’n heilige verbintenis tussen ’n man en ’n vrou. Die Bybel sê: “Van die begin van die skepping af ‘het [God] hulle man en vrou gemaak. Daarom sal ’n man sy vader en moeder verlaat, en die twee sal een vlees wees’ . . . Wat God dan onder een juk saamgevoeg het, moet geen mens skei nie.” *Markus 10:6-9; Genesis 2:24.

Die woorde ‘wat God onder een juk saamgevoeg het’, beteken nie dat huwelike in die hemel gesluit word nie. Deur na ons Skepper as die Insteller van die huweliksreëling te verwys, beklemtoon die Bybel eerder die erns van hierdie verbintenis. Egpare wat hierdie siening van hulle huwelik het, beskou dit as ’n heilige, blywende band en is dus meer vasbeslote om ’n sukses van hulle huwelik te maak. Hulle vergroot ook hulle kanse op sukses as hulle hulle tot die Bybel wend vir leiding om hulle onderskeie rolle as man en vrou te vervul.

 Wat is die man se rol?

“’n Man is die hoof van sy vrou.”—Efesiërs 5:23.

WAT DIE BYBEL SÊ

’n Gesin kan slegs goed funksioneer as iemand die finale besluit oor sake neem. Die Bybel toon dat die man hierdie verantwoordelikheid het. Maar dit gee hom nie die reg om soos ’n alleenheerser of bullebak op te tree nie. Hy mag ook nie sy verantwoordelikhede ontduik en sodoende sy vrou se respek vir hom ondermyn en ’n onnodige las op haar plaas nie. God verwag eerder dat hy hard moet werk om vir sy vrou te sorg en dat hy aan haar eer moet toeken as sy intiemste en mees vertroude metgesel (1 Timoteus 5:8; 1 Petrus 3:7). “Mans [behoort] hulle vrouens lief te hê soos hulle eie liggaam”, sê Efesiërs 5:28.

’n Man wat sy vrou waarlik liefhet, waardeer haar vermoëns en talente en neem haar beskouings respekvol in ag, veral wanneer dit kom by sake wat die gesin kan raak. Hy moenie daarop aandring dat dinge op sý manier gedoen word net omdat hy die gesinshoof is nie. Toe die godvresende man Abraham nie sy vrou se goeie raad oor ’n gesinsaak aanvaar het nie, het Jehovah God vir hom gesê: “Luister na haar stem” (Genesis 21:9-12). Abraham het nederig hieraan gehoor gegee, en sy gesin het vrede en eenheid, sowel as God se seën, geniet.

Wat is die vrou se rol?

“Vrouens, [wees] onderdanig . . . aan julle eie mans.”—1 Petrus 3:1.

WAT DIE BYBEL SÊ

Kort voordat God ’n vrou vir die eerste man geskep het, het Hy gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen bly nie. Ek gaan vir hom ’n helper maak, as ’n komplement van hom” (Genesis 2:18). ’n Komplement is iets wat volledig of volkome maak. God het die vrou dus nie geskep om dieselfde as die man te wees of om met hom te wedywer nie, maar om hom aan te vul. Hulle kon saam hulle godgegewe opdrag uitvoer om kinders te hê en die aarde met hulle nakomelinge te vul.—Genesis 1:28.

God het die vrou presies die regte fisiese, verstandelike en emosionele eienskappe gegee sodat sy haar rol kan vervul. As sy hierdie eienskappe verstandig en liefdevol gebruik, dra sy grootliks by tot die sukses van haar huwelik en help sy haar man om tevrede te voel en verseker te wees van haar liefde. In God se oë verdien so ’n goeie vrou om geprys te word. *Spreuke 31:28, 31.

^ par. 5 Die Bybel laat egskeiding op grond van geslagsonsedelikheid toe.—Matteus 19:9.

^ par. 14 Egpare sal talle nuttige wenke oor die huwelik en gesinslewe vind in die rubriek “Hulp vir die gesin”, wat gereeld in die Ontwaak! verskyn.