Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Diabetes—Kan jy die gevaar verminder om dit te kry?

Diabetes—Kan jy die gevaar verminder om dit te kry?

DIE gevalle van diabetes mellitus neem so vinnig toe dat dit ’n wêreldwye epidemie geword het. Daar is twee hoofsoorte diabetes. Tipe 1-diabetes begin gewoonlik tydens die kinderjare, en dokters weet nog nie hoe om dit te voorkom nie. Hierdie artikel handel oor tipe 2-diabetes, wat omtrent 90 persent van alle gevalle van diabetes uitmaak.

Hoewel daar in die verlede gemeen is dat slegs volwassenes tipe 2-diabetes kry, het kinders dit meer onlangs ook begin opdoen. Maar deskundiges sê dat die gevaar om tipe 2-diabetes te kry, verminder kan word. ’n Bietjie kennis van hierdie sluipende siekte kan vir jou nuttig wees. *

Wat is diabetes?

Diabetes is ’n toestand wat veroorsaak dat daar te veel suiker in die bloed is. Die siekte belemmer die normale oordrag van suiker uit die bloedstroom na selle wat suiker nodig het om energie te kry. Dit het tot gevolg dat die diabeet se lewensorgane beskadig en sy bloedsomloop aangetas word, wat soms lei tot die afsetting van ’n toon of voet, blindheid en niersiekte. Baie diabete sterf weens ’n hartaanval of beroerte.

’n Oormaat liggaamsvet kan ’n groot rol speel by tipe 2-diabetes. Deskundiges meen dat mense wat ’n oormaat vet in die buik en om die middellyf het, groter gevaar loop om diabetes te kry. Om meer spesifiek te wees, vet in die pankreas en die lewer belemmer blykbaar die liggaam se regulering van bloedsuiker. Hoe kan jy die gevaar verminder om diabetes te kry?

Drie stappe wat die gevaar kan verminder om diabetes te kry

1. Laat jou bloedsuikervlak toets as jy in ’n hoërisikogroep is. Tipe 2-diabetes word dikwels voorafgegaan deur prediabetes’n toestand waarin bloedsuiker heelwat hoër is as normaal. Albei toestande is ongesond, maar daar is ’n verskil: Hoewel diabetes beheer kan word, kan dit nog nie genees word nie. Maar in gevalle van prediabetes het party dit al reggekry om hulle bloedsuiker weer tot die normale vlak te laat daal. Prediabetes het dalk geen opvallende simptome nie. Daarom weet ’n mens dalk nie dat jy daaraan ly nie. Volgens verslae het sowat 316 miljoen mense regoor die wêreld prediabetes; en tog besef baie van hulle dit nie. Byvoorbeeld, in die Verenigde State alleen weet sowat 90 persent van diegene wat prediabetes het, nie dat hulle dit het nie.

Prediabetes is egter nie onskadelik nie. Dit is nie net ’n voorloper van tipe 2-diabetes nie, maar dit is onlangs ook verbind met ’n groter gevaar om demensie te kry. As jy oorgewig is, geen oefening kry nie of ’n familiegeskiedenis van diabetes het, het jy dalk reeds prediabetes. ’n Bloedtoets kan toon of jy dit het.

2. Kies gesonde kos. Dit kan voordelig wees om die volgende te doen wanneer dit ook al moontlik en prakties is: Eet kleiner porsies as gewoonlik. Drink eerder water, tee of koffie as vrugtesap en gaskoeldrank wat baie suiker bevat. Probeer verfynde kosse vermy, en eet eerder volgraanbrood, -rys en -pasta, maar hou nogtans matigheid voor oë. Eet maerder vleis, vis, neute en bone.

3. Kry genoeg oefening. Oefening kan jou bloedsuiker verlaag en jou help om ’n gesonde gewig te behou. ’n Deskundige beveel aan dat jy van die tyd wat jy voor die TV sou deurbring, eerder moet gebruik om te oefen.

Jy kan nie jou gene verander nie, maar jy kan jou lewenswyse verander. Dit is die moeite werd om te doen wat ons kan om ons gesondheid te verbeter.

^ par. 3 Ontwaak! staan nie enige spesifieke dieet of oefenprogram voor nie. Elke persoon moet die opsies noukeurig oorweeg en indien nodig ’n dokter raadpleeg voordat hy besluite in verband met sy gesondheid neem.