Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP

Wat is ware sukses?

Wat is ware sukses?

WAT kan erger wees as mislukking? Valse sukses. As jy in ’n strewe misluk, kan jy immers stappe doen om die situasie reg te stel. Op die allerminste kan jy uit die ondervinding leer en jou voorneem om volgende keer beter te vaar.

Valse sukses is anders. Dit kan jou beïnvloed om te dink dat jy wen terwyl jy eintlik verloor. Teen die tyd dat jy besef dat ’n verandering nodig is, is dit dalk te laat.

Kyk na ’n voorbeeld. Jesus Christus het eenkeer gevra: “Van watter nut sal dit vir ’n mens wees as hy die hele wêreld wen, maar sy siel inboet?” (Matteus 16:26). Hierdie gedagte kan van toepassing wees op diegene wat hulle wy aan die najaging van geld en alles wat dit kan koop—die toppunt van valse sukses. “As ’n mens slegs dink aan die volgende groot bevordering, hoe om meer geld te maak of hoe om meer besittings te bekom, voed jy nie die siel nie”, skryf die beroepsraadgewer Tom Denham. “Om sukses bloot in terme van geld te meet, is oppervlakkig en sal op die lange duur ’n leemte in jou lewe laat.”

Vandag sal baie mense blykbaar saamstem. In ’n opname wat in die Verenigde State gedoen is, was “baie geld” 20ste op ’n lys van 22 “faktore wat tot ’n suksesvolle lewe bydra”. Boaan die lys was faktore soos goeie gesondheid, goeie verhoudings en ’n werk wat ’n mens geniet.

Dit is duidelik dat baie mense tussen valse sukses en ware sukses kan onderskei—ten minste wanneer hulle gevra word. Dit is egter ’n groter uitdaging om besluite te neem wat die gepaste beskouing van sukses weerspieël.