Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | WAT HET VAN DISSIPLINE GEWORD?

Dissipline wat werk

Dissipline wat werk

DIT is ’n onbetwisbare feit dat dit harde werk verg om ’n ouer te wees. Maar as ’n ouer dissipline weerhou wanneer kinders dit verdien, maak dit die taak selfs moeiliker. Waarom? Want sonder dissipline (1) word kinders onhanteerbaar, wat ouers uitput, en (2) is die leiding wat ouers gee, nie konsekwent nie, wat kinders verwar.

Aan die ander kant kan liefdevolle, gebalanseerde dissipline ’n kind se denke en sedelike karakter vorm. Dit laat kinders ook veilig voel terwyl hulle grootword en verantwoordelike volwassenes word. Maar waar kan jy betroubare leiding vind wanneer dit by die dissipline van jou kinders kom?

Die waarde van Bybelbeginsels

Die uitgewers van hierdie tydskrif, Jehovah se Getuies, glo dat die Bybel, soos dit self sê, “nuttig [is] om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel, om in regverdigheid te dissiplineer” (2 Timoteus 3:16). Die Bybel is baie meer as net ’n handleiding vir ouers; die beginsels daarin voorsien realistiese riglyne vir gesinne. Kyk na ’n paar voorbeelde.

DIE BYBEL SÊ: “Dwaasheid sit vas in die hart van ’n kind.”—Spreuke 22:15, voetnoot in NW.

Hoewel kinders baie bedagsaam en goedhartig kan wees, is hulle ook geneig om dwase dinge te doen. Dit is waarom kinders dissipline nodig het (Spreuke 13:24). As jy hierdie feit erken, sal dit jou help om jou verantwoordelikheid as ’n ouer na te kom.

DIE BYBEL SÊ: “Moenie dissipline terughou van ’n kind nie.”—Spreuke 23:13, voetnoot in NW.

Jy hoef nie bang te wees dat gebalanseerde dissipline jou kinders sal benadeel of sal veroorsaak dat hulle jou later in die lewe verwyt nie. Wanneer dissipline liefdevol toegedien word, sal dit jou kinders help om nederig teregwysing te aanvaar—’n vaardigheid wat hulle selfs as volwassenes nodig sal hê.—Hebreërs 12:11.

DIE BYBEL SÊ: “Wat ’n mens saai, dit sal hy ook maai.”—Galasiërs 6:7.

Ouers wil natuurlik hulle kinders beskerm, en dit is hoe dit moet wees. Maar weer eens moet ouers gebalanseerd wees. Jy doen jou kinders nie ’n guns as jy hulle “red” van die gevolge van hulle foute of hulle verdedig wanneer ’n onderwyser of ’n ander volwassene slegte gedrag onder jou aandag bring nie. Beskou hierdie mense eerder as jou medewerkers. Deur dit te doen, leer jy jou kind om gesag—insluitende jou gesag—te respekteer.Kolossense 3:20.

DIE BYBEL SÊ: “’n Seun wat aan homself oorgelaat word, sal sy moeder in die skande steek.”—Spreuke 29:15.

Wees liefdevol, konsekwent en redelik

Hoewel ouers nooit hulle kinders moet mishandel nie, moet hulle ook nie na die ander uiterste oorgaan deur te toegeeflik te wees nie. “Kinders van ouers wat te toegeeflik is, voel nie dat die volwassenes in die huis die gesag het nie”, sê die boek The Price of Privilege. As jy nie jou gesag uitoefen nie, sal jou kind heel moontlik aanneem dat hy in beheer is. Dit is onvermydelik dat hy onwyse keuses sal maak wat vir hom—en vir jou—droefheid sal meebring.—Spreuke 17:25; 29:21.

DIE BYBEL SÊ: “’n Man [sal] sy vrou aankleef, en die twee sal een vlees wees.”—Matteus 19:5.

Volgens die Bybel moet ’n man en ’n vrou getroud wees voordat hulle kinders het en moet hulle nog steeds bymekaar wees nadat die kinders groot is en uit die huis is (Matteus 19:5, 6). In hierdie sin is jy eers ’n huweliksmaat en dan ’n ouer. Maar as jou prioriteite andersom is, kan jou kind “meer van homself [begin] dink as wat dit nodig is om te dink” (Romeine 12:3). As die kinders altyd eerste kom, sal dit die huweliksband verswak.

Hulp vir ouers

As jy ’n goeie ouer wil wees, moet jou dissipline op die volgende beginsels gegrond wees.

Wees liefdevol. “Moenie julle kinders vertoorn nie, sodat hulle nie mismoedig word nie.”—Kolossense 3:21.

Wees konsekwent. “Laat julle woord Ja eenvoudig Ja beteken, julle Nee, Nee.”—Matteus 5:37.

Wees redelik. “Ek sal jou in die regte mate . . . teregwys.”—Jeremia 30:11. *

^ par. 21 Vir meer inligting, besoek jw.org/af. Kyk onder BYBELLERINGE > EGPARE EN OUERS waar jy artikels sal vind soos “Die dissiplinering van kinders”, “Hoe om woedebuie te hanteer”, “Skerp sedelike waardes by jou kinders in” en “Hoe om jou tiener te dissiplineer”.