Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Sy het by haar oortuigings gebly

Sy het by haar oortuigings gebly

Toe Song Hee 11 jaar oud was, het haar ma agtergekom dat daar ’n abnormale kromming in haar dogter se rug is. ’n Dokter het haar gediagnoseer met skoliose, ’n laterale, of sywaartse, kromming van die ruggraat in die vorm van die letter “C” of “S”. Song Hee se toestand het so vererger dat sy ’n operasie moes ondergaan. Maar Song Hee wou nie ’n bloedoortapping aanvaar nie. “Ontwaak!” het haar oor haar ondervinding gevra.

Kon die dokters jou help toe jy gediagnoseer is?

Ek is omtrent drie jaar lank deur twee dokters gemonitor, maar die kromming in my ruggraat het net vererger. Om die waarheid te sê, dit het so erg geword dat my ruggraat teen my hart en longe begin druk het, wat dit moeilik gemaak het om asem te haal. ’n Operasie was onvermydelik.

Het jy tot ’n operasie ingestem?

Ja, maar die dokters het vir my gesê dat die operasie moeilik sou wees. Teen daardie tyd was die kromming in my ruggraat 116 grade, wat baie erg is. In my geval sou ’n operasie baie ingewikkeld wees. Ek wou nie ’n bloedoortapping aanvaar nie as gevolg van my godsdiensoortuigings, wat op die Bybel gebaseer is. *

Het julle ’n snydokter gevind wat bereid was om die operasie te doen?

Ek en my ma het ’n spesialis geraadpleeg in Florida, VSA, waar ons woon. Maar toe ek vir hom sê dat ek nie ’n bloedoortapping sal aanvaar nie, het hy gesê dat geen snydokter onder sulke omstandighede so ’n ingewikkelde operasie op my sou doen nie. Wat meer is, hy het gesê dat ek sou doodgaan voordat ek 20 is as ek nie die operasie kry nie. Ek was maar net 14 jaar oud.

Het jy die rede vir jou oortuigings aan hom verduidelik?

Ja. Ek het vir hom gesê dat my oortuigings op die Bybel gebaseer is en dat God bloed heilig verklaar het, hetsy dit mense- of dierebloed is. * As ’n Israeliet selfs net bloed geëet het, is hy die doodstraf opgelê! * Ek het ook vir hom Handelinge 15:19, 20 gewys. Dit sê dat Christene hulle van bloed moet onthou. Dit beteken dat ’n mens dit op geen manier in jou liggaam moet inneem nie—nie deur jou mond of deur jou are nie.

Hoe het die snydokter gereageer?

Hy het nog steeds daarop aangedring dat ek ’n bloedoortapping moet kry. En ons was verbaas toe die hospitaal gesê het dat ek nie vir die operasie hoef te betaal as ek ’n bloedoortapping aanvaar nie.

Dit was nogal ’n goeie aanbod! Wat het jy en jou ma gedoen?

Hoewel dit gelyk het asof niemand gewillig was om die operasie sonder bloed te doen nie, was ons vasbeslote om by ons oortuigings te bly. Toe het dinge selfs ingewikkelder geword. Volgens die wet was ek nog minderjarig. Omdat my toestand ernstig geword het, is die saak in die hof verhoor. Maar gelukkig het die staatsprokureur van Florida ons 30 dae gegee om ’n snydokter te vind wat my wense sou respekteer.

Het julle iemand gevind?

Ja! Die plaaslike Hospitaalskakelkomitee van Jehovah se Getuies het in aanraking gekom met ’n skoliose-spesialis in New York. Hy het gevoel dat hy die operasie sal kan doen, en ek het hom gaan sien. Ons het dus die hof se sperdatum gehaal.  *

Hoe het die operasie verloop?

Dit was ’n reusesukses! Om my ruggraat reguit te maak, het die snydokter, dr. Robert M. Bernstein, verstelbare penne in my rug gesit. Hy het die operasie in twee dele gedoen, en daar was twee weke tussen die twee operasies.

Waarom in twee dele?

As ek gedurende die eerste operasie baie bloed sou verloor, sou die tussenpose my liggaam tyd gee om meer rooibloedselle te vervaardig voor die tweede operasie. Ek het tydens al twee operasies baie min bloed verloor, alles te danke aan die chirurgiese span se goeie beplanning, bekwaamheid en noukeurige werk. Ek het ook vinnig herstel, sonder die komplikasies van ’n bloedoortapping. *

Hoe het die snydokter oor die uitkoms gevoel?

Dokters moet die hele pasiënt in ag neem

Hy was baie bly! “Mediese sorg”, sê hy, “behels nie net operasies nie.” Volgens hom moet dokters die hele pasiënt in ag neem, insluitende sy of haar oortuigings en waardes. Baie mense benewens Jehovah se Getuies sal hierdie beskouing ten volle ondersteun.

^ par. 7 Song Hee se ma is een van Jehovah se Getuies. Song Hee behoort aan dieselfde geloof as haar ma en is in 2012 op die ouderdom van 16 gedoop.

^ par. 17 Die Hospitaalskakelkomitee help Getuiepasiënte om dokters te vind wat goeie mediese sorg sal voorsien sonder om ’n bloedoortapping te doen.

^ par. 21 In ’n artikel oor die risiko’s van bloedoortappings het die Kommissie vir Kliniese Voortreflikheid van die Departement van Gesondheid in Nieu-Suid-Wallis (Australië) gesê: “’n Bloedoortapping is ’n oorplanting van lewende weefsel. Die mens se liggaam verwerp van nature iets vreemds. Die gevaar dat dit tydens ’n bloedoortapping sal gebeur, is baie groot.”