Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HULP VIR DIE GESIN | DIE HUWELIK

Hoe om probleme te bespreek

Hoe om probleme te bespreek

DIE UITDAGING

Voel jy, wanneer jy ’n probleem met jou huweliksmaat moet bespreek, dat jy aan die einde van die gesprek meer ontsteld is as aan die begin van die gesprek? Indien wel, kan jy die situasie verbeter. Maar daar is eers ’n paar dinge wat jy moet weet oor die verskillende maniere waarop mans en vroue kommunikeer. *

WAT JY MOET WEET

Vroue verkies dit gewoonlik om oor ’n probleem te praat voordat hulle ’n oplossing wil hê. Trouens, praat is soms die oplossing.

“Ek voel beter wanneer ek gesê het hoe ek voel en weet dat my man my verstaan. Nadat ek daaroor gepraat het, voel ek baie beter—gewoonlik sommer ’n paar minute ná die gesprek.”—Sirppa. *

“Ek kan nie van die probleem vergeet as ek nie kans gekry het om vir my man te verduidelik presies hoe ek voel nie. Wanneer ek oor die probleem gepraat het, pla dit my nie meer nie.”—Ae-Jin.

“Dis soos speurwerk. Terwyl ek praat, ontleed ek elke aspek van die probleem en probeer ek om die oorsaak te vind.”—Lurdes.

Mans is geneig om in terme van oplossings te dink. Dit is te verstane omdat dit ’n man nuttig laat voel as hy dinge kan regmaak. Om oplossings te gee, is sy manier om vir sy vrou te wys dat sy op hom kan staatmaak vir hulp. Mans is dus dronkgeslaan wanneer vrouens nie hulle oplossings geredelik aanvaar nie. “Ek verstaan nie waarom jy oor ’n probleem sal praat as jy nie ’n oplossing wil hê nie!” sê ’n man met die naam Kirk.

Maar “begrip kom voor raad”, waarsku die boek The Seven Principles for Making Marriage Work. “Jou maat moet weet dat jy die probleem ten volle verstaan en dat jy empatie met jou maat het voordat jy met ’n oplossing vorendag kom. Dikwels wil jou huweliksmaat glad nie ’n oplossing hê nie—jy moet net ’n goeie luisteraar wees.”

WAT JY KAN DOEN

Vir mans: Oefen om met empatie te luister. ’n Man met die naam Tomás sê: “Soms nadat ek geluister het, dink ek: ‘Dit het niks gehelp nie.’ Maar dikwels is dit al wat my vrou nodig het—iemand wat luister.” ’n Man met die naam Stephen stem saam. “Ek vind dat dit beter is om my vrou te laat praat sonder om haar te onderbreek”, sê hy. “Nadat sy klaar gepraat het, sal sy in die meeste gevalle sê dat sy baie beter voel.”

Probeer die volgende: Die volgende keer dat jy ’n probleem met jou vrou bespreek, moet jy die versoeking weerstaan om ongevraagde raad te gee. Maak oogkontak en luister aandagtig na wat sy sê. Knik met jou kop om te wys dat jy saamstem. Herhaal die hoofgedagtes van wat sy sê om te wys dat jy verstaan. “Soms wil my vrou net weet dat ek haar verstaan en dat ek aan haar kant is”, sê ’n man met die naam Charles.—Bybelbeginsel: Jakobus 1:19.

Vir vrouens: Sê wat jy nodig het. “Ons verwag dalk dat ons huweliksmaat moet weet presies wat ons nodig het”, sê ’n vrou met die naam Eleni, “maar soms moet ons dit uitspel.” ’n Vrou met die naam Ynez stel die volgende voor: “Ek kan sê: ‘Iets pla my en ek wil graag hê dat jy na my moet luister. Jy hoef niks daaromtrent te doen nie, maar ek wil hê dat jy moet weet hoe ek voel.’”

Probeer die volgende: As jou man oorhaastig oplossings bied, moet jy nie tot die slotsom kom dat hy ongevoelig is nie. Hy probeer heel waarskynlik net jou vrag ligter maak. “In plaas daarvan om vies te word”, sê ’n vrou met die naam Ester, “probeer ek in gedagte hou dat my man wel omgee en wil luister, maar dat hy ook net wil help.”—Bybelbeginsel: Romeine 12:10.

Vir albei: Ons is geneig om ander te behandel soos ons behandel wil word. Maar as jy probleme suksesvol wil bespreek, moet jy dink aan hoe jou huweliksmaat behandel wil word (1 Korintiërs 10:24). ’n Man met die naam Miguel stel dit op die volgende manier: “As jy ’n getroude man is, moet jy bereid wees om te luister. As jy ’n getroude vrou is, moet jy bereid wees om van tyd tot tyd na oplossings te luister. Wanneer julle albei bereid is om toe te gee, vind albei huweliksmaats daarby baat.”—Bybelbeginsel: 1 Petrus 3:8.

^ par. 4 Die eienskappe wat ons sal bespreek, is dalk nie op elke man en vrou van toepassing nie. Die beginsels wat in hierdie artikel bespreek word, kan nietemin enige getroude persoon help om sy of haar huweliksmaat beter te verstaan en om beter met sy of haar huweliksmaat te kommunikeer.

^ par. 7 Name in hierdie artikel is verander.