Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | WAAROM EERLIK WEES?

Is eerlikheid outyds?

Is eerlikheid outyds?

Hitosji, in Japan, het in die rekeningafdeling gewerk van ’n agentskap wat werk verskaf. Terwyl Hitosji ’n finansiële verslag met sy bestuurder bespreek het, het sy bestuurder vir hom gesê dat hy oneerlik moet wees in sy verslag. Hitosji het verduidelik dat sy gewete hom nie sou toelaat om oneerlik te wees nie. Daar is vir Hitosji gesê dat hy afgedank sal word as hy dit nie doen nie, en op die ou end het hy sy werk verloor.

In die maande daarna het Hitosji mismoedig geraak omdat hy bekommerd was dat hy nie werk sou kry nie. Byvoorbeeld, gedurende een onderhoud het Hitosji gesê dat hy nie bereid is om iets oneerliks te doen nie. Die onderhoudvoerder het geantwoord: “Jy het snaakse idees!” Hoewel Hitosji se familie en vriende hom aangemoedig het om te bly by sy besluit om eerlik te wees, het hy begin twyfel. Hy sê: “Ek het gewonder of dit ’n goeie idee is om vir mense te sê wat ek glo.”

Hitosji se ondervinding toon ongelukkig dat nie almal eerlikheid waardeer nie. Om die waarheid te sê, party sal dit dalk selfs as ’n nadeel beskou, veral in die sakewêreld. “Ek is omring deur mense wat oneerlik is”, het ’n werkende vrou in Suid-Afrika gesê, “en soms is die druk om ook so te wees, baie groot.”

Een vorm van oneerlikheid wat vandag baie algemeen is, is leuens. ’n Paar jaar gelede het ’n studie deur Robert S. Feldman, ’n sielkundige aan die Universiteit van Massachusetts, in Amherst, getoon dat 60 persent van volwassenes ten minste een keer gedurende ’n gesprek van tien minute ’n leuen vertel. “Dit het ons baie verras”, sê Feldman. “Ons het nie verwag dat leuens so algemeen in die daaglikse lewe sou wees nie.” Hoe ironies is dit tog dat die meeste mense dit haat as iemand vir hulle jok, en tog vertel die meeste mense leuens.

Waarom is leuens, diefstal en ander vorme van oneerlikheid vandag so algemeen? Hoe raak oneerlikheid die samelewing as ’n geheel? En nog belangriker, hoe kan ons seker maak dat ons nie by hierdie oneerlike gebruike betrokke raak nie?