Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wanneer jy voel dat jy nie kan voortgaan nie

Wanneer jy voel dat jy nie kan voortgaan nie

“Ek kon net nie ontslae raak van hierdie gevoelens nie”, erken Adriana, van Brasilië. “Daarom het ek gedink dat dit beter sou wees om my eie lewe te neem.”

HET JY al ooit so sleg gevoel dat jy nie meer wou lewe nie? Dan sal jy miskien verstaan hoe Adriana gevoel het. Sy het aan erge angstigheid gely en het hartseer en hopeloos gevoel. Adriana is met kliniese depressie gediagnoseer.

Kaoroe, ’n Japannese man wat na sy siek, bejaarde ouers omgesien het, sê: “Gedurende daardie tyd het ek verskriklike druk by die werk gehad. Ek het my eetlus verloor en het baie sleg geslaap. Ek het begin dink dat dit vir my ’n verligting sou wees om dood te wees.”

’n Nigeriese man met die naam Ojebode sê: “Ek was heeltyd so moedeloos dat ek net wou huil, en daarom het ek gesoek na ’n manier om my lewe te beëindig.” Gelukkig het Ojebode, Kaoroe en Adriana nie hulle lewe geneem nie. Maar elke jaar pleeg honderdduisende mense wel selfmoord.

WAAR OM HULP TE VIND

Baie meer mans as vrouens pleeg selfmoord, en baie van hulle was te skaam om vir hulp te vra. Jesus het gesê dat siek mense ’n dokter nodig het (Lukas 5:31). As jy daaraan dink om jou eie lewe te neem, moet jy asseblief nie skaam wees om vir hulp te vra nie. Baie mense wat aan depressie ly, het gevind dat mediese behandeling hulle help. Ojebode, Kaoroe en Adriana het almal professionele hulp gekry, en nou gaan dit baie beter met hulle.

Dokters gebruik soms medikasie of praatterapie of albei om depressie te behandel. Mense wat aan depressie ly, het ook die empatie en ondersteuning van geduldige, liefdevolle familielede en vriende nodig. Die beste Vriend wat enigiemand ooit kan hê, is Jehovah God, wat wonderlike hulp voorsien deur middel van sy Woord, die Bybel.

IS DAAR ’N PERMANENTE OPLOSSING?

Mense wat aan depressie ly, het dikwels langtermyn-behandeling nodig en moet leer hoe om die depressie te hanteer deur aanpassings in hulle lewenswyse te maak. Maar as jy sukkel met depressie, kan jy uitsien na ’n wonderlike toekoms, net soos Ojebode. Hy sê: “Ek sien daarna uit om die vervulling van Jesaja 33:24 te ondervind. Dit voorspel ’n tyd wanneer niemand op die aarde sal sê: ‘Ek is siek’ nie.” Soos Ojebode kan jy vertroosting vind in God se belofte van “’n nuwe aarde”, waar daar nie meer “pyn” sal wees nie (Openbaring 21:1, 4). Dit sluit alle emosionele pyn in. Jou pynlike gevoelens sal vir ewig weg wees. Dit “sal nie onthou word nie, en ook sal dit nie in [jou] hart opkom nie”. – Jesaja 65:17.