Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP

Wanneer ’n geliefde sterf

Wanneer ’n geliefde sterf

“God weet wat die beste is. . . . Moenie huil nie.”

Iemand het hierdie woorde gefluister in die oor van ’n vrou met die naam Bebe. Sy was by haar pa se begrafnis. Hy het in ’n motorongeluk gesterf.

Bebe was baie na aan haar pa. Die familievriend wat in haar oor gefluister het, het goed bedoel, maar haar woorde het Bebe eerder seergemaak as vertroos. “Dis nie beter dat hy gesterf het nie”, het sy oor en oor vir haarself gesê. Toe Bebe haar ondervinding jare later in ’n boek opgeteken het, was dit duidelik dat sy nog steeds treur.

Soos Bebe besef het, kan dit lank neem om die dood van ’n geliefde te verwerk, veral as ’n mens baie geheg was aan daardie persoon. In die Bybel word die dood heel gepas as “die laaste vyand” beskryf (1 Korintiërs 15:26). Die dood kom ongevraagd en ontwrig ons lewe. Ons is dikwels glad nie voorbereid daarop nie, en dit beroof ons van ons geliefdes. Nie een van ons is immuun teen die hartseer wat dit meebring nie. Dit is dus nie verbasend as ons nie weet hoe om die dood van ’n geliefde en die gevolge daarvan te verwerk nie.

Miskien het jy al gewonder: ‘Hoe lank neem dit om droefheid te oorkom? Hoe kan ’n mens droefheid verwerk? Hoe kan ek ander vertroos wat ’n geliefde aan die dood afgestaan het? Is daar enige hoop vir ons geliefdes wat gesterf het?’