Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 Sleutels tot gesinsgeluk

Hoe om konflik te hanteer

Hoe om konflik te hanteer

Hy sê: “Ná ons troue het ek en Sarah * saam met my familie in my ouers se huis gebly. Eendag het my broer se meisie my gevra om haar huis toe te neem in ons motor. Ek het ingestem en my jong seun saamgeneem. Maar toe ek weer by die huis aankom, was Sarah woedend. Ons het begin stry, en net daar, voor my familie, het sy my ’n vrouejagter genoem. Ek het my humeur verloor en dinge begin sê wat haar selfs meer geïrriteer het.”

Sy sê: “Ons seun het ’n ernstige gesondheidsprobleem, en op daardie stadium het ons finansieel gesukkel. Toe Fernando sy broer se meisie huis toe neem en boonop ons seun saamneem, was daar dus ’n paar redes waarom ek ontsteld was. Toe hy by die huis aankom, het ek hom laat weet hoe ek voel. Ons het ’n hewige argument gehad en skelname gebruik. Ek het ná die tyd aaklig gevoel.”

BETEKEN dit dat ’n egpaar wat stry, mekaar nie meer liefhet nie? Nee! Fernando en Sarah, wat hierbo aangehaal word, het mekaar innig lief. Tog sal daar selfs in die gelukkigste huwelike soms konflik wees.

Waarom ontstaan konflik, en wat kan jy doen om te keer dat dit jou huwelik vernietig? Aangesien die huwelik ’n instelling is wat deur God ontwerp is, maak dit sin om te ondersoek wat sy Woord, die Bybel, oor hierdie onderwerp te sê het.—Genesis 2:21, 22; 2 Timoteus 3:16, 17.

Verstaan die uitdagings

Die meeste getroude paartjies wil mekaar op ’n liefdevolle en goedhartige manier behandel. Maar die Bybel is realisties en sê dat ‘almal gesondig het en te kort skiet aan die heerlikheid van God’ (Romeine 3:23). Wanneer meningsverskille ontstaan, kan dit dus moeilik wees om jou gevoelens te beheers. En as ’n argument begin, vind party dit dalk ’n ware stryd om slegte gewoontes te weerstaan, soos om te skreeu en smadende taal te gebruik (Romeine 7:21; Efesiërs 4:31). Watter ander faktore kan spanning veroorsaak?

’n Man en sy vrou het dikwels verskillende kommunikasiestyle. “Nadat ons getroud is”, sê Mitsjiko, “het ek besef dat ons benadering tot sake baie anders is wanneer ons iets bespreek. Ek hou daarvan om te praat oor waarom en hoe iets gebeur het, nie net oor wat gebeur het nie. Dit lyk asof my man net in die eindresultaat belangstel.”

Mitsjiko se dilemma is nie uniek nie. In baie huwelike wil die een maat dalk ’n meningsverskil breedvoerig bespreek, terwyl die ander een nie van konfrontasie hou nie en die onderwerp wil vermy. Hoe meer die een maat dit wil aanroer, hoe meer probeer die ander maat dit ontwyk. Het jy al opgemerk dat daar so ’n patroon in jou huwelik ontwikkel? Voel dit asof een van julle altyd die saak wil bespreek en dat die ander een dit altyd wil vermy?

  Nog ’n faktor om in gedagte te hou, is dat ’n persoon se gesinsagtergrond sy of haar beskouing kan beïnvloed van hoe getroude paartjies veronderstel is om te kommunikeer. Justin, wat vyf jaar lank getroud is, sê: “Ek kom uit ’n stillerige gesin en vind dit moeilik om openlik oor my gevoelens te praat. Dit frustreer my vrou. Haar gesin is baie uitgesproke, en dit is vir haar glad nie ’n probleem om vir my te sê hoe sy voel nie.”

Waarom moet egpare werk om probleme op te los?

Navorsers het gevind dat die betroubaarste aanduiding van hoe gelukkig ’n huwelik sal wees, nie is hoe dikwels die egpaar sê dat hulle mekaar liefhet nie. Seksuele versoenbaarheid en finansiële sekuriteit is ook nie die belangrikste faktore nie. Die betroubaarste aanduiding van sukses in die huwelik is eerder hoe goed die man en die vrou enige konflik hanteer wat ontstaan.

Daarbenewens het Jesus gesê dat wanneer ’n paartjie trou, dit nie ’n mens is wat hulle onder een juk saamvoeg nie, maar God (Matteus 19:4-6). Dit is waarom ’n goeie huwelik God tot eer strek. Aan die ander kant, as ’n man nie liefde en besorgdheid teenoor sy vrou betoon nie, sal Jehovah God die man se gebede dalk ignoreer (1 Petrus 3:7). As ’n vrou nie haar man respekteer nie, toon sy in werklikheid minagting vir Jehovah, wat die man as die hoof van die gesin aangestel het.—1 Korintiërs 11:3.

Sleutels tot sukses—Vermy skadelike spraakpatrone

Ongeag wat jou kommunikasiestyl of gesinsagtergrond is, daar is ’n paar skadelike spraakpatrone wat vermy moet word as jy Bybelbeginsels wil toepas en konflik doeltreffend wil hanteer. Vra jou die volgende vrae af:

‘Weerstaan ek die drang om in gelyke munt terug te betaal?’

“As die neus gedruk word, bring dit bloed voort, en as toorn uitgepers word, bring dit rusie voort”, sê ’n wyse spreuk (Spreuke 30:33). Wat beteken dit? Dink aan hierdie voorbeeld. Iets wat begin as ’n meningsverskil oor hoe om die gesin se begroting te laat klop (“ons moet ons kredietkaartaankope beheer”), kan vinnig ontaard in ’n aanval op mekaar se karakter (“jy is so onverantwoordelik”). Ja, as jou maat ‘jou neus druk’ deur jou karakter aan te val, voel jy dalk asof jy dieselfde aan hom of haar wil doen. Maar om in gelyke munt terug te betaal, lei net tot woede en ’n verergering van die meningsverskil.

Die Bybelskrywer Jakobus het gewaarsku: “Kyk! Wat ’n klein vuurtjie is nodig om so ’n groot bos aan die brand te steek! Wel, die tong is ’n vuur” (Jakobus 3:5, 6). Wanneer huweliksmaats nie hulle tong in toom hou nie, kan klein meningsverskille vinnig opvlam en onbeteuelde konflikte word. En huwelike wat herhaaldelik deur sulke emosionele vuurstorms geteister word, voorsien nie ’n milieu waarin liefde kan ontwikkel nie.

Kan jy, eerder as om in gelyke munt terug te betaal, Jesus navolg, wat “nie terug uitgeskel [het] nie”? (1 Petrus 2:23). Die vinnigste manier om ’n argument te ontlont, is om jou maat se oogpunt te erken en om verskoning te vra vir jou deel in die konflik.

PROBEER DIE VOLGENDE: Wanneer ’n rusie weer ontstaan, vra jou af: ‘Sal dit my enigiets kos om erkenning te gee aan wat my maat kwel? Wat het ek gedoen wat tot hierdie probleem bygedra het? Wat verhinder my om verskoning te vra vir my foute?’

‘Beskou ek my maat se gevoelens as minder belangrik?’

‘Julle moet almal eensgesind wees en meegevoel betoon’, beveel God se Woord (1 Petrus 3:8). Dink aan twee van die redes waarom jy hierdie raad miskien nie toepas nie. Eerstens het jy dalk nie insig in jou maat se denke of gevoelens nie. Byvoorbeeld, as jou maat meer ontsteld is oor ’n saak as wat jy is, is jy dalk geneig om te sê: “Jy oorreageer net.” Jy wil moontlik jou maat help om die probleem in perspektief te sien. Maar daar is min mense  wat deur sulke woorde vertroos word. Dit is vir vrouens sowel as mans belangrik om te weet dat die mense vir wie hulle lief is, hulle verstaan en medelye met hulle het.

As iemand te trots is, kan dit ook daartoe lei dat hy sy maat se gevoelens misken. ’n Trotse persoon probeer dikwels om hom te verhef deur ander gedurig af te kraak. Hy sal dit dalk doen deur skelname te gebruik of negatiewe vergelykings te maak. Dink aan die voorbeeld van die Fariseërs en skrifgeleerdes van Jesus se dag. As enigiemand—selfs ’n mede-Fariseër—’n mening uitgespreek het wat verskil het van dié van daardie trotse manne, het hulle daardie persoon sleggesê en neerhalende aanmerkings gemaak (Johannes 7:45-52). Jesus was anders. Hy het medelye gehad met ander wanneer hulle met hom gepraat het.—Matteus 20:29-34; Markus 5:25-34.

Dink aan hoe jy reageer wanneer jou maat vir jou sê wat hy of sy op die hart het. Toon jou woorde, stemtoon en gesigsuitdrukkings dat jy medelye het? Of is jy geneig om jou maat se gevoelens summier as onbelangrik af te maak?

PROBEER DIE VOLGENDE: Let gedurende die volgende paar weke op hoe jy met jou huweliksmaat praat. As jy minagtend is of iets neerhalends sê, vra onmiddellik om verskoning.

‘Neem ek dikwels aan dat my maat se beweegredes selfsugtig is?’

“Is dit verniet dat Job God gevrees het? Het u nie self om hom en om sy huis en om alles wat hy het, aan alle kante, ’n heining geplaas nie?” (Job 1:9, 10). Met hierdie woorde het Satan die getroue man Job se beweegredes in twyfel getrek.

As huweliksmaats nie versigtig is nie, kan hulle in ’n soortgelyke gewoonte verval. Byvoorbeeld, wonder jy wat jou maat wegsteek of wil hê as hy of sy iets goeds vir jou doen? As jou maat ’n fout begaan, beskou jy hierdie tekortkoming as bevestiging dat hy of sy selfsugtig en ongevoelig is? Onthou jy dadelik soortgelyke foute uit die verlede en voeg jy hierdie een by die lys?

PROBEER DIE VOLGENDE: Maak ’n lys van die positiewe dinge wat jou maat al vir jou gedoen het en die goeie beweegredes wat hom of haar moontlik aangespoor het om dit te doen.

Die apostel Paulus het geskryf: “Die liefde . . . hou nie boek van die kwaad nie” (1 Korintiërs 13:4, 5). Ware liefde is nie blind nie. Maar dit hou ook nie rekord van foute nie. Paulus het ook gesê dat die liefde ‘alles glo’ (1 Korintiërs 13:7). Dit is nie te sê dat hierdie soort liefde liggelowig is nie, maar dit is bereid om ander te vertrou. Dit is nie sinies of agterdogtig nie. Die soort liefde wat deur die Bybel aangemoedig word, is vergewensgesind en gewillig om ander die voordeel van die twyfel te gee (Psalm 86:5; Efesiërs 4:32). Wanneer huweliksmaats sulke liefde vir mekaar aan die dag lê, sal hulle ’n gelukkige huwelik geniet.

VRA JOU AF . . .

  • Watter foute het die egpaar begaan wat aan die begin van die artikel aangehaal is?

  • Hoe kan ek soortgelyke foute in my huwelik vermy?

  • Aan watter punte in hierdie artikel moet ek die meeste werk?

^ par. 3 Name is verander.