Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Goeie godsdiens bevorder broederliefde

Goeie godsdiens bevorder broederliefde

“HY WAT nie liefhet nie, ken God nie; want God is liefde”, sê die Bybel (1 Johannes 4:8, New Catholic Edition of the Holy Bible). Goeie godsdiens moet dus broederliefde bevorder.

Baie godsdienste doen prysenswaardige werk om vir die siekes, die bejaardes en die armes te sorg. Hulle moedig hulle lidmate aan om die raad toe te pas van die apostel Johannes, wat geskryf het: “Gestel iemand het genoeg om van te lewe en sien dat ’n broer of suster gebrek ly, maar hy help nie. Dan woon God se liefde nie in daardie persoon nie. My kinders, ons moet mense nie net met woorde   liefhê nie, maar deur ons dade en deur werklik om te gee.”—1 Johannes 3:17, 18, New Century Version.

Wat gebeur egter wanneer nasies oorlog voer? Moet God se gebod om ‘jou naaste lief te hê soos jouself’ in tye van vrede toegepas word, maar verontagsaam word wanneer ’n politikus of ’n koning besluit om teen ’n naburige nasie te veg?—Matteus 22:39, Ou Afrikaanse Bybelvertaling.

Jesus het gesê: “As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is” (Johannes 13:35, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling). Terwyl jy die volgende vrae beantwoord, kan jy jou gerus afvra: ‘Betoon lidmate van hierdie godsdiens te alle tye liefde teenoor alle mense, nie net in woord nie, maar ook in daad?

ONDERWERP: Oorlog.

WAT DIE BYBEL LEER:

Jesus het sy dissipels beveel: “Ek sê vir julle, wees lief vir julle vyande, doen goed aan dié wat julle haat.”—Matteus 5:44, NCE.

Toe soldate gekom het om Jesus in hegtenis te neem, het die apostel Petrus ’n wapen geneem om Hom te verdedig. Maar Jesus het gesê: “Sit jou swaard in sy plek terug; want almal wat die swaard neem, sal deur die swaard vergaan.”—Matteus 26:52, OAB.

Die apostel Johannes het geskryf: “Jy kan die verskil tussen God se kinders en die duiwel se kinders sien, want dié wat aan die duiwel behoort, weier om te doen wat reg is of om mekaar lief te hê. Daar is van die begin af vir julle gesê dat ons mekaar moet liefhê. Moenie soos Kain wees, wat aan die duiwel behoort het en sy eie broer vermoor het nie.”—1 Johannes 3:10-12, Contemporary English Version.

VRAAG:

Spoor hierdie godsdiens sy lidmate aan om aan oorlog deel te neem?

ONDERWERP: Die politiek.

WAT DIE BYBEL LEER:

Nadat hulle gesien het dat Jesus wonderwerke kon verrig, wou sommige hê dat hy by die plaaslike politiek betrokke moes raak. Wat was sy reaksie? “Jesus, wat geweet het dat hulle wou kom om hom met geweld koning te maak, het weer na ’n berg weggegaan, op sy eie.”—Johannes 6:15, New International Version.

Toe Jesus in hegtenis geneem en valslik daarvan beskuldig is dat hy ’n politieke opstoker is, het hy geantwoord: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.”—Johannes 18:36, OAB.

Toe Jesus tot God gebid het oor die dissipels, het hy gesê: “Ek het u woord aan hulle gegee, en die wêreld haat hulle, omdat hulle  nie tot die wêreld behoort nie, net soos Ek ook nie tot die wêreld behoort nie.”—Johannes 17:14, NAB.

VRAAG:

Volg hierdie godsdiens Jesus se voorbeeld na deur nie by die politiek betrokke te raak nie, al beteken dit dat sy lidmate deur party politici gehaat sal word?

ONDERWERP: Vooroordeel.

WAT DIE BYBEL LEER:

Toe die eerste onbesnede nie-Jode Christene geword het, het die apostel Petrus gesê: “God toon nie partydigheid nie, maar in elke nasie is die persoon wat Hom vrees en geregtigheid doen, vir Hom aanvaarbaar.”—Handelinge 10:34, 35, Holman Christian Standard Bible.

Toe Jakobus aan eerste-eeuse Christene geskryf het, het hy gesê: “My vriende, as julle geloof het in ons glorieryke Here Jesus Christus, sal julle nie sommige mense beter as ander behandel nie. Gestel ’n ryk persoon wat deftige klere en ’n goue ring dra, kom na een van julle vergaderinge. En gestel ’n arm persoon met verslete klere kom ook. Julle moenie die beste sitplek gee aan die een in deftige klere en vir die een wat arm is, sê om eenkant te gaan staan of om op die vloer te sit nie. Dit is dieselfde as om te sê dat sommige mense beter is as ander, en julle sal dan soos ’n verdorwe regter optree.”—Jakobus 2:1-4, CEV.

VRAAG:

Leer hierdie godsdiens dat alle mense in God se oë gelyk is en dat lidmate van die godsdiens nie teen enigiemand moet diskrimineer op grond van ras of ekonomiese status nie?

Watter godsdiens leer sy lidmate om verdelende politieke, rasse- en ekonomiese grense te oorbrug?