Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Het mense in Jesus se dag werklik fluite by begrafnisse gespeel?

Die Bybel maak melding van fluite wat gedurende feestelike geleenthede gespeel is (1 Konings 1:40; Jesaja 5:12; 30:29). Dit sê ook dat fluite by ’n begrafnis gespeel is. By daardie geleentheid is fluite die enigste instrument waarvan melding gemaak word. Die Evangelie van Matteus sê dat ’n Joodse heerser Jesus gevra het om sy dogter te genees, wat op sterwe gelê het. Maar toe Jesus by die heerser se huis aankom, het hy ‘die fluitspelers gesien en die skare wat te kere gaan’ omdat die kind reeds gesterf het.—Matteus 9:18, 23.

Is Matteus se vermelding van hierdie gebruik akkuraat? Die Bybelvertaler William Barclay sê: “In die grootse deel van die eertydse wêreld, in Rome, in Griekeland, in Fenisië, in Assirië en in Palestina, was die weemoedige klank van die fluit onafskeidelik verbind met die dood en tragedie.” Volgens die Talmoed het selfs die armste Jood wat in die eerste eeue HJ ’n wewenaar geword het, twee fluitspelers en ’n huilende vrou gehuur om oor sy oorlede vrou te treur. Flavius Josefus, ’n geskiedskrywer wat in die eerste eeu gelewe het, skryf dat, toe die nuus Jerusalem bereik het van die Romeinse verowering van Iotapata, in Galilea, en die slagting van sy inwoners in 67 HJ, ‘baie van die roubeklaers fluitspelers gehuur het om hulle lyksang te begelei’.

Watter misdaad het die kwaaddoeners gepleeg wat saam met Jesus tereggestel is?

Die Bybel noem hierdie kwaaddoeners “rowers” (Matteus 27:38; Markus 15:27). Party Bybelleksikons wys daarop dat die Skrif verskillende woorde gebruik om een soort misdadiger van ’n ander te onderskei. Die Griekse woord kleptes het verwys na ’n dief wat in die geheim gesteel het sodat hy ongemerk sou bly. Hierdie woord is op Judas Iskariot toegepas, wat in die geheim geld uit die dissipels se geldkissie gesteel het (Johannes 12:6). Die woord lestes daarenteen het gewoonlik verwys na iemand wat mense met geweld beroof het en kon selfs verwys na ’n revolusionêr, ’n opstandeling of ’n guerrillavegter. Die manne wat saam met Jesus tereggestel is, het aan die tweede groep behoort. Trouens, een van hulle het gesê: “Ons ontvang ten volle wat ons verdien vir dinge wat ons gedoen het” (Lukas 23:41). Dit gee te kenne dat hulle aan meer as net diefstal skuldig was.

Soos daardie twee rowers, word Barabbas ook ’n lestes genoem (Johannes 18:40). Dit is duidelik dat Barabbas meer as net ’n dief was, want Lukas 23:19 sê dat hy “weens ’n sekere opstand wat in die stad plaasgevind het en weens moord in die gevangenis gegooi” is.

Hoewel die kwaaddoeners wat saam met Jesus tereggestel is, diefstal gepleeg het, is dit dus moontlik dat hulle ook aan sedisie of selfs moord skuldig was. Hoe dit ook al sy, die Romeinse goewerneur Pontius Pilatus het gereken dat hulle die paalstraf verdien.