Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 KOM NADER AAN GOD

Gee Jehovah werklik vir jou om?

Gee Jehovah werklik vir jou om?

“Gevoelens van waardeloosheid is waarskynlik die grootste hindernis wat ek probeer oorkom.” Dit is wat ’n vrou gesê het vir wie dit moeilik was om te glo dat Jehovah ooit ’n rede sal kan vind om vir haar om te gee. Kan jy jou met haar gevoelens vereenselwig? Indien wel, wonder jy dalk: ‘Gee Jehovah werklik om vir sy aanbidders as individue?’ Die antwoord is ja! Ons vind bewyse dat Jehovah vir ons as individue omgee in die woorde van Jesus.—Lees Johannes 6:44.

Wat het Jesus, wat die persoonlikheid en wil van Jehovah beter ken as enigiemand anders, gesê? (Lukas 10:22). Jesus het verduidelik: “Geen mens kan na my toe kom tensy die Vader, wat my gestuur het, hom trek nie.” Ons kan dus nie ’n volgeling van Christus—en ’n aanbidder van ons hemelse Vader, Jehovah—word tensy Jehovah ons persoonlik trek nie (2 Tessalonisense 2:13). As ons verstaan wat Jesus bedoel het, sal ons in sy woorde kragtige bewyse vind van God se persoonlike sorg.

Wat beteken dit dat Jehovah ons trek? Die Griekse werkwoord wat vertaal word met “trek”, word ook gebruik met verwysing na ’n net vol visse wat ingetrek word (Johannes 21:6, 11). Trek Jehovah ons teen ons sin deur ons te dwing om hom te dien? Nee. Jehovah het ons wilsvryheid gegee, en daarom dwing hy ons nie om ons hart oop te maak nie (Deuteronomium 30:19, 20). Een geleerde stel dit so: “Daar is geen handvatsel aan die buitekant van die deur tot die menslike hart nie. Dit moet van binne af oopgemaak word.” Jehovah deursoek die miljarde harte in hierdie wêreld op soek na individue wat die regte gesindheid teenoor hom het (1 Kronieke 28:9). Wanneer hy so ’n persoon vind, reageer hy op ’n hartroerende manier. Hoe so?

Jehovah trek saggies aan die hart van ’n individu wat “die regte gesindheid” het (Handelinge 13:48). Jehovah doen dit op twee maniere—deur middel van die Bybel se boodskap van die goeie nuus, wat ons as individue bereik, en deur middel van sy heilige gees. Wanneer Jehovah ’n hart sien wat gunstig reageer op Bybelwaarheid, gebruik hy sy gees om die individu te help om hierdie waarheid te verstaan en dit in sy lewe toe te pas (1 Korintiërs 2:11, 12). Sonder God se hulp sou ons nooit ware volgelinge van Jesus en toegewyde aanbidders van Jehovah kon word nie.

“Daar is geen handvatsel aan die buitekant van die deur tot die menslike hart nie. Dit moet van binne af oopgemaak word”

Wat leer Jesus se woorde in Johannes 6:44 ons dan omtrent Jehovah God? Jehovah trek mense omdat hy iets goeds in hulle hart sien en vir hulle as individue omgee. ’n Begrip van hierdie gerusstellende waarheid het die vrou wat aan die begin gemeld is, vertroos. Sy sê: “Om ’n kneg van Jehovah te wees, is die grootste voorreg wat enigiemand kan hê. En as Jehovah my as sy kneg gekies het, dan moet ek in sy oë kosbaar wees.” Wat van jou? Beweeg die wete dat Jehovah vir sy aanbidders as individue omgee, jou om die deur van jou hart oop te maak?

Voorgestelde Bybelleesgedeelte vir Mei

Lukas 22-24Johannes 1-16