Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 ’N GESPREK MET ’N BUURVROU

Is God besorg oor die lyding wat ons verduur?

Is God besorg oor die lyding wat ons verduur?

Hier volg ’n tipiese gesprek tussen een van Jehovah se Getuies en ’n buurvrou. Kom ons stel ons voor dat ’n Getuie met die naam Michelle besoek aflê by die huis van ’n vrou met die naam Susan.

WAAROM HET HY TOEGELAAT DAT DIT GEBEUR?

Michelle: Vandag bied ek hierdie traktaat vir almal in die omgewing aan. Die titel is: Die waarheid—Wil jy dit graag vind? Hier is jou traktaat.

Susan: Handel dit oor godsdiens?

Michelle: Ja. Kyk na die ses vrae op die voorblad. Watter een van hierdie vrae—

Susan: Wag net ’n bietjie. Jy sal jou tyd mors as jy met my praat.

Michelle: Waarom sê jy so?

Susan: Wel, ek is nie eers seker of ek aan God glo nie.

Michelle: Ek waardeer jou eerlikheid. Mag ek vra: Het jy nog altyd so gevoel?

Susan: Nee, ek het vroeër gereeld kerk toe gegaan. Maar ek gaan lankal nie meer nie.

Michelle: Ek verstaan. Maar laat ek my voorstel. My naam is Michelle.

Susan: Ek is Susan.

Michelle: Aangename kennis, Susan. Ek is nie hier om my oortuigings op jou af te dwing nie. Maar ek het net gewonder: Is daar iets spesifieks wat jou laat twyfel of God bestaan?

Susan: Ja. My ma was 17 jaar gelede in ’n motorongeluk.

Michelle: Ek is baie jammer om dit te hoor. Is sy beseer?

Susan: Ja, sy is sedertdien verlam.

Michelle: Dis baie hartseer. Jy is seker verpletter.

Susan: Ja, ek is. Daarom wonder ek: As God bestaan, waarom het hy toegelaat dat dit gebeur? Waarom laat God toe dat ons so ly?

IS DIT VERKEERD OM TE VRA WAAROM?

Michelle: Dit is te verstane dat jy so voel en dat jy hierdie vrae vra. Wanneer ons ly, wonder ons gewoonlik waarom dit gebeur. Selfs party getroue manne en vroue in Bybeltye het hieroor gewonder!

Susan: Werklik?

Michelle: Ja. Kan ek maar vir jou ’n voorbeeld in die Bybel wys?

Susan: Ja, asseblief.

Michelle: Let op wat die getroue profeet Habakuk God gevra het in Habakuk, hoofstuk 1, verse 2 en 3: “Hoe lank, o Jehovah, moet ek om hulp roep, sonder dat u hoor? Hoe lank sal ek tot u om hulp roep teen geweld, sonder dat u red? Waarom laat u my sien wat skadelik is?” Klink dit nie baie soos die vrae waaroor jy wonder nie?

Susan: Ja.

Michelle: God het Habakuk nie bestraf omdat hy hierdie vrae gevra het nie, en hy het ook nie vir Habakuk gesê dat hy eenvoudig meer geloof nodig het nie.

Susan: Dis interessant.

JEHOVAH HAAT LYDING

Michelle: Die Bybel leer dat God ons lyding raaksien en dat hy besorg is daaroor.

Susan: Wat bedoel jy?

Michelle: Kom ek wys jou ’n voorbeeld hier in Eksodus 3:7. Sal jy asseblief hierdie vers vir ons lees?

Susan: Goed. Dit sê: “En Jehovah het bygevoeg: ‘Ek het ongetwyfeld die ellende gesien van my volk wat in Egipte is, en ek het hulle geroep  gehoor oor dié wat hulle dryf om te werk; want ek weet goed watter pyn hulle ly.’”

Michelle: Dankie. Toon hierdie teks nie dat God sien wanneer sy volk ly nie?

Susan: Ja, dit lyk so.

Michelle: En hy is nie net vaagweg bewus van wat gebeur nie. Kyk weer na die laaste deel van hierdie vers. God het gesê: “Ek weet goed watter pyn hulle ly.” Klink dit na die woorde van ’n ongevoelige of afsydige God?

Susan: Nee, nie eintlik nie.

Michelle: Dit is natuurlik een ding om ’n situasie te sien, maar dit is iets heeltemal anders om toe te laat dat dit jou gevoelens raak.

Susan: Dit is waar.

Michelle: Hou dit in gedagte terwyl ons lees van nog ’n geval toe God se volk gely het. Dit is in Jesaja 63:9. Die eerste deel van hierdie vers sê: “In al hulle benoudheid het dit vir hom benoudheid veroorsaak.” Sou jy sê dat die lyding van God se volk hom geraak het?

Susan: Ja, dit klink so.

Michelle: Susan, God gee in werklikheid baie vir ons om, en hy haat dit om ons te sien ly. Wanneer ons hartseer is, is hy saam met ons hartseer.

WAAROM WAG HY?

Michelle: Voordat ek gaan, wil ek nog een gedagte met jou bespreek.

Susan: Nou goed.

Michelle: Kyk wat die Bybel ons omtrent God se krag leer. Die vers waaraan ek dink, is Jeremia 10:12. Sal jy dit asseblief lees?

Susan: Sekerlik. Dit sê: “Hy is die Maker van die aarde deur sy krag, die Een wat die vrugbare land stewig gevestig het deur sy wysheid en die Een wat die hemel uitgespan het deur sy verstand.”

Michelle: Dankie. Kom ons redeneer ’n bietjie oor hierdie vers. Het God baie krag nodig gehad om die uitgestrekte heelal en alles daarin te skep?

Susan: Beslis.

Michelle: As God die krag het om alles om ons te skep, het hy dan nie ook die krag om sy skepping te beheer nie?

Susan: Ja, hy het.

Michelle: Dink weer aan jou ma. Waarom maak dit jou hartseer om haar te sien ly?

Susan: Omdat ek lief is vir haar. Sy is my ma.

Michelle: En as jy die mag gehad het om haar vandag gesond te maak, sou jy dit gedoen het?

Susan: Natuurlik.

Michelle: Dink net wat dit beteken. Die Bybel leer dat God ons lyding raaksien, dat hy medelye met ons het en dat hy ontsaglike krag het. Kan jy jou voorstel hoeveel selfbeheersing dit dan van God moet verg om nie in te gryp en onmiddellik ’n einde aan ons lyding te maak nie?

Susan: Ek het nog nooit so daaraan gedink nie.

Michelle: Kan dit wees dat daar ’n goeie rede is waarom hy nog nie ingegryp het om ons probleme uit die weg te ruim nie? *

Susan: Hmm, daar is seker.

Michelle: Ek hoor jou telefoon lui. Ek sal op ’n ander tyd terugkom, en dan kan ons hierdie onderwerp verder bespreek.

Susan: Dankie. Ek sal daarvan hou. *

Is daar ’n spesifieke Bybelonderwerp waaroor jy al gewonder het? Is daar enige van die opvattings of godsdiensgebruike van Jehovah se Getuies waarvan jy meer wil weet? Moet dan nie huiwer om een van Jehovah se Getuies daaroor te vra nie. Hy of sy sal dit graag met jou bespreek.

^ par. 59 Vir meer inligting, sien hoofstuk 11 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

^ par. 62 ’n Toekomstige artikel in hierdie reeks sal bespreek waarom God lyding toelaat.