Spring na inhoud

HULP VIR DIE GESIN | OUERSKAP

Hoekom dit belangrik is dat kinders moet lees – Deel 2: Skerm of papier?

Hoekom dit belangrik is dat kinders moet lees – Deel 2: Skerm of papier?

 As jou kind kon kies, lees hy uit ’n boek of op ’n skerm?

 Baie jongmense verkies om op ’n skerm te lees. Dr. Jean M. Twenge skryf: “Vir ’n generasie wat geleer is om net op ’n skakel te kliek of om binne sekondes na die volgende bladsy te gaan, is dit baie maklik om belangstelling te verloor in ’n boek.” a

 Om op ’n elektroniese toestel te lees het beslis sy voordele. John, wat 20 jaar oud is, sê: “By my skool het ons elektroniese boeke gebruik. Die soekfunksie het my gehelp om die inligting wat ek gesoek het, vinnig te kry.”

 Daar is baie hulpmiddele beskikbaar vir mense wat op ’n elektroniese toestel lees. Byvoorbeeld, deur net te kliek of te druk, kan lesers die definisie van ’n woord kry, die oudio speel, ’n video oor dieselfde onderwerp speel of ekstra inligting kry deur op ’n skakel te kliek. Maar beteken dit dat daar minder voordele is om gedrukte materiaal te lees?

 Party mense verkies om gedrukte materiaal te lees wanneer hulle dieper studeer. Hoekom?

  •   Om te kan fokus. ’n Tiener met die naam Nathan sê: “Wanneer ek op ’n skerm lees, trek advertensies en boodskappe dikwels my aandag af en kan ek nie fokus nie.”

     Karen, wat 20 jaar oud is, het dieselfde probleem. Sy sê: “Wanneer ek op ’n foon of ’n tablet lees, is dit maklik vir my om ’n ander app oop te maak of ’n speletjie te begin speel.”

     Bybelwaarheid: “Gebruik julle tyd op die beste manier moontlik.” – Kolossense 4:5.

     Iets om oor te dink: Het jou kind die selfdissipline om afleidings te vermy wanneer hy of sy op ’n elektroniese toestel lees of studeer? As hy of sy dit nie kan doen nie, wat kan jy doen om jou kind te leer om te fokus?

     Wenk: Help jou kind om te verstaan dat as hy toelaat dat ander dinge op sy toestel sy aandag aftrek, dit hom selfs langer sal vat om sy huiswerk klaar te maak. Hy sal ook minder tyd hê om ander dinge te doen wat hy graag wil doen.

  •   Om te kan verstaan. Die boek Be the Parent, Please sê: “Baie eksperimente het gewys dat wanneer lesers op ’n skerm lees, hulle dit wat hulle lees, nie so goed verstaan as wanneer hulle dit op papier lees nie.”

     Een rede hiervoor is dat mense wat op skerms lees, dikwels baie vinnig lees in plaas daarvan om mooi na te dink oor dit wat hulle lees. Die skrywer Nicholas Carr sê: “Op die internet wil ons soveel inligting so vinnig as wat ons kan, inneem.” b

     Soms is dit natuurlik goed om vinnig deur iets te lees. Maar volgens Carr is die probleem dat “ons al hoe meer so begin lees”. As gevolg hiervan kan jou kind die gewoonte ontwikkel om vinnig deur iets te lees sonder om dit regtig te verstaan.

     Bybelwaarheid: “Maak seker dat jy ook begrip verkry.” – Spreuke 4:7.

     Iets om oor te dink: Hoe kan jy jou kind help om te leer om beter navorsing oor ’n onderwerp te doen, of dit nou op papier of op ’n skerm is?

     Wenk: Wees gebalanseerd. Jy hoef nie net papier of net ’n skerm te gebruik nie. Al twee het sy voordele. Om die waarheid te sê, party opsies op ’n elektroniese toestel kan dit makliker maak om iets te verstaan. So wees redelik wanneer jy die voordele en nadele van albei maniere van lees met jou kinders bespreek. Jy moet ook onthou dat elke kind anders is.

  •   Om te kan onthou wat jy lees. Ferris Jabr het in ’n artikel in Scientific American ’n vergelyking gemaak tussen om op papier te lees en om op ’n elektroniese toestel te lees. Hy het gesê dat om op ’n elektroniese toestel te lees, “ons brein moeër [kan] maak . . . en dit ’n bietjie moeiliker [kan] maak om te onthou wat ons gelees het”.

     Byvoorbeeld, om ’n gedrukte boek te lees, kan jou help om ’n punt te onthou omdat jy kan onthou waar jy dit op ’n bladsy gesien het. Dit kan soos ’n boekmerk wees wat jou help om die punt weer te kry.

     Navorsers het ook gevind dat mense wat gedrukte materiaal lees, dikwels inligting beter onthou. Hulle onthou inligting omdat dit lyk asof dit vir hulle makliker is om die inligting te leer.

     Bybelwaarheid: “Bewaar praktiese wysheid en denkvermoë.” – Spreuke 3:21.

     Iets om oor te dink: Is dit vir jou kind moeilik om te verstaan of te onthou wat hy of sy gelees of studeer het? As dit die geval is, hoe kan jy jou kind help om sy studiegewoontes te verbeter? Sou dit help om gedrukte materiaal te gebruik?

     Wenk: Dink aan hoe goed jou kind eintlik leer, en nie aan wat hy of sy verkies om te gebruik nie. Mense is geneig om te dink dat hulle beter op ’n skerm lees as wat regtig die geval is.

a Uit die boek iGen.

b Uit die boek The Shallows.