Spring na inhoud

HULP VIR DIE GESIN

Wat moet ek doen as my kind geboelie word?

Wat moet ek doen as my kind geboelie word?

 Jou seun sê vir jou dat hy by die skool geboelie, of afgeknou, word. Wat kan jy daaromtrent doen? Daarop aandring dat die skool die boelie straf? Jou seun leer hoe om terug te baklei? Kom ons kyk na ’n paar feite voordat jy daardie besluit maak. a

 Wat moet ek oor afknouery weet?

 Wat beteken dit om geboelie te word? Om geboelie te word beteken dat iemand aanhoudend en doelbewus fisies of emosioneel geteister word. Daarom is nie elke belediging of vyandige daad afknouery nie.

 Hoekom dit saak maak: Party mense gebruik die woord “boelie” om te verwys na enigiets wat hulle ontstel, al is sommer net iets kleins. Party ouers gryp elke keer in wanneer iemand iets aan hulle kind doen, al is dit iets onbenulligs. Maar wanneer hulle dit doen, leer hulle hulle kind, sonder dat hulle dit besef, dat hy nie self konflik kan oplos nie – ’n vaardigheid wat hy nou nodig het, en vir die res van sy lewe sal nodig hê.

 Bybelwaarheid: “Moenie haastig wees . . . om aanstoot te neem nie. – Prediker 7:9.

 Die slotsom: In party gevalle sal dit dalk nodig wees dat jy moet ingryp, maar party situasies kan jou kind die geleentheid gee om uithouvermoë te ontwikkel en te leer hoe om met mense oor die weg te kom. – Kolossense 3:13.

 Maar sê nou jou kind vertel vir jou dat hy aanhoudend en doelbewus geteister word?

 Hoe kan ek help?

  •   Luister geduldig na jou kind. Probeer uitvind (1) wat aan die gang is en (2) hoekom hy die een is wat geboelie word. Moenie gevolgtrekkings maak voordat jy al die feite het nie. Vra jou af: ‘Is dit die hele storie of is daar iets waarvan ek nie weet nie?’ Om al die feite te kry moet jy dalk met jou kind se onderwyser of die ander kind se ouers praat.

     Bybelwaarheid: “Wanneer iemand op ’n saak antwoord voordat hy dit hoor, is dit dwaasheid van sy kant en ’n vernedering.” – Spreuke 18:13.

  •   As jou kind wel geboelie word, moet jy hom help om te besef dat die manier waarop hy reageer dinge kan verbeter of kan vererger. Byvoorbeeld, die Bybel sê: “’n Sagte antwoord keer woede af, maar ’n woord wat pyn veroorsaak, laat toorn opkom” (Spreuke 15:1). As ’n mens terugbaklei, kan dit soos olie op die vuur wees en veroorsaak dat die afknouery erger in plaas van beter word.

     Bybelwaarheid: “[Moet] nie kwaad met kwaad of uitskellery met uitskellery vergeld nie.” – 1 Petrus 3:9.

  •   Verduidelik aan jou kind dat hy nie ’n swakkeling is as hy weier om terug te baklei nie. Dit wys eintlik dat hy sterk is, want hy laat nie toe dat die boelie vir hom voorskryf hoe om op te tree nie. Om die waarheid te sê, hy sit die boelie op sy plek sonder om self ’n boelie te word.

     Dit is veral belangrik dat jou kind dit moet onthou as hy aanlyn geboelie word. Om betrokke te raak by ’n “opvlamoorlog” – ’n vurige aanlyn argument – gee die boelie nie net toestemming om aan te hou nie, maar dit kan daartoe lei dat jou kind self daarvan beskuldig word dat hy ’n boelie is! Om glad nie te reageer nie, is soms dus die beste manier om te reageer – ’n taktiek wat as’t ware die boelie se hande afkap en jou kind in beheer plaas.

     Bybelwaarheid: “Waar daar geen hout is nie, gaan die vuur dood.” – Spreuke 26:20.

  •   In party gevalle kan jou kind mense deur wie en plekke waar hy waarskynlik geboelie kan word, vermy. As hy byvoorbeeld weet waar ’n sekere persoon of groep gaan wees, kan hy ’n ander roete kies om moeilikheid te vermy.

     Bybelwaarheid: “Skerpsinnig is die een wat die rampspoed gesien en hom verberg het, maar die onervarenes het verder gegaan en moet die straf ondergaan.” – Spreuke 22:3.

Jy sal dalk met jou kind se onderwyser of met die ander kind se ouers moet praat

 PROBEER DIE VOLGENDE: Help jou kind om aan die voordele en nadele van sy opsies te dink. Byvoorbeeld:

  •  Wat kan gebeur as hy die boelie eenvoudig net ignoreer?

  •  Sê nou hy sê vol vertroue vir die boelie dat hy moet ophou?

  •  Sê nou hy meld die afknouery by die skool aan?

  •  Kan jou kind deur vriendelikheid en humor dalk die boelie se wind uit sy seile haal en hom oorbluf?

 Elke situasie is uniek, of jou kind nou van aangesig tot aangesig of aanlyn geboelie word. Werk dus saam met jou kind om ’n oplossing te kry wat prakties sal wees. Laat hom weet dat jy hom regdeur hierdie moeilike tyd sal bystaan.

 Bybelwaarheid: “’n Ware metgesel het te alle tye lief en is ’n broer wat gebore word vir die tyd wanneer daar benoudheid is.” – Spreuke 17:17.

a Ons verwys in hierdie artikel na die kind as ’n seun, maar dieselfde beginsels geld ook vir meisies.