Spring na inhoud

Wat sê die Bybel oor Kersfees?

Wat sê die Bybel oor Kersfees?

Die Bybel se antwoord

 Die Bybel sê nie op watter dag Jesus gebore is nie, en dit sê ook nie dat ons sy geboortedag moet vier nie. McClintock en Strong se Cyclopedia sê: “Die viering van Kersfees is nie deur God ingestel nie, en dit het ook nie sy oorsprong in die NT [Nuwe Testament] nie.”

 ’n Ondersoek van die geskiedenis van Kersfees bring eerder aan die lig dat dit afkomstig is van heidense godsdiensritusse. Die Bybel toon dat ons God aanstoot gee as ons hom probeer aanbid op ’n manier wat hy nie goedkeur nie.—Eksodus 32:5-7.

Die geskiedenis van Kersgebruike

  1.   Die viering van Jesus se geboortedag: “Die vroeë Christene het nie [Jesus se] geboorte gevier nie omdat hulle die viering van enigiemand se geboorte as ’n heidense gebruik beskou het.”—The World Book Encyclopedia.

  2.   25 Desember: Daar is geen bewyse dat Jesus op hierdie dag gebore is nie. Kerkleiers het waarskynlik hierdie dag gekies sodat dit kon saamval met heidense feeste wat op of rondom die wintersonstilstand gehou is.

  3.   Die gee van geskenke, feesvieringe, partytjies: The Encyclopedia Americana sê: “Die Saturnalieë, ’n Romeinse fees wat in die middel van Desember gevier is, was die lees waarop baie van die feestelike Kersgebruike geskoei is. Uit hierdie fees is byvoorbeeld die oordadige feesvieringe, die gee van geskenke en die brand van kerse oorgeneem.” Die Encyclopædia Britannica sê dat “alle werk en besigheid gestaak is” gedurende die Saturnalieë.

  4.   Kersliggies: Volgens The Encyclopedia of Religion het Europeërs hulle huise “met liggies en allerhande immergroen plante” versier om die wintersonstilstand te vier en om hulle teen bose geeste te beskerm.

  5.   Mistel, huls: “Die Druïdes het geglo dat veral mistel towerkrag besit. Die immergroen huls is aanbid as ’n belofte van die son se terugkeer.”—The Encyclopedia Americana.

  6.   Kersboom: “Boomaanbidding, wat algemeen was onder die heidense Europeërs, het behoue gebly nadat hulle hulle tot die Christelike godsdiens bekeer het.” Boomaanbidding het onder andere voortbestaan in die gebruik “om ’n Joelboom gedurende die wintersonstilstandvieringe by ’n ingang of in die huis te plaas”.—Encyclopædia Britannica.