Spring na inhoud

Verenig in liefde​—’n Streekbyeenkoms in Frankfurt, Duitsland

Verenig in liefde​—’n Streekbyeenkoms in Frankfurt, Duitsland

“Amper soos ’n familiefees” was die opskrif in die koerant Frankfurter Rundschau. Dié wat dit bygewoon het, het saamgestem.

“Hulle het my onmiddellik tuis laat voel!”, het Karla, wat van Puerto Rico gekom het, gesê.

“Dit het gevoel asof ek my eie familie besoek, maar aan die ander kant van die wêreld”, het Sara, van Australië, gesê.

Wat het tot sulke hartlike woorde gelei? Die internasionale streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies. Dit is van 18 tot 20 Julie 2014 in die Commerzbank-Arena, in Frankfurt am Main, Duitsland, gehou. Byna 37 000 het die streekbyeenkoms bygewoon.

Bywoners het bymekaargekom om van die Bybel te leer. Die opvoedkundige program het Bybellesings, liedere, gebede, twee toneelstukke en entoesiastiese toesprake oor Bybelonderwerpe ingesluit.

Die gehoor het bestaan uit plaaslike Getuies en meer as 3 000 afgevaardigdes uit Australië, Brittanje, Griekeland, Libanon, Serwië, Suid-Afrika en die Verenigde State. Sowat 234 Getuies uit 70 lande wat in spesiale vorme van voltydse diens is, soos sendingwerk, het dit ook bygewoon.

Dele van die program is met ’n regstreekse webuitsending uitgesaai na 19 ander plekke in Duitsland, asook na byeenkomsplekke in Oostenryk en Switserland. Die totale bywoning van al die byeenkomsplekke was 204 046.

Grense word oorkom

In Frankfurt is die program in Engels, Duits en Grieks aangebied. By die ander byeenkomsplekke is toesprake tegelykertyd in 17 tale getolk, insluitende Arabies, Chinees, Tamil, Turks en twee gebaretale.

Hoewel die Getuies verskillende tale gepraat het en uit baie lande en kulture gekom het, was hulle nie verdeeld nie—liefde het hulle verenig (Johannes 13:34, 35). Hulle het mekaar as broers en susters beskou en behandel.

“Ons het eerstehands gesien hoe ons internasionale broederskap alle grense oorkom”, het Tobias, van Brittanje, gesê.

“Ek het mede-Getuies uit meer as 20 lande ontmoet. Ons is verenig deur ons liefde vir God en vir mekaar”, het Davianna, wat van Puerto Rico gekom het, gesê.

“Ek het een van Jehovah se Getuies geword in ’n plattelandse dorpie”, het Malcom, ’n afgevaardigde van Australië, gesê. “Ek het van ons unieke wêreldwye broederskap gelees en selfs video-uittreksels daaroor gesien. Maar hier het ek dit persoonlik ervaar. Nou het dit ’n dieper betekenis vir my. Dit is baie geloofversterkend om hier te wees.”

Gasvryheid om te onthou

Getuies van 58 gemeentes in en om Frankfurt het vir die afgevaardigdes geskenke voorberei, asook vermaak vir die aande.

“Ons het wonderlike gasvryheid ervaar”, het Cynthia, wat van die Verenigde State gekom het, gesê. “Ek sal nooit die broers se liefde, goedhartigheid en gasvryheid vergeet nie.”

“Daar was oorweldigende liefde, vreugdevolle gelag en broederlike geneentheid. Ons kan baie by mekaar leer”, het Simon, wat in Duitsland woon, gesê.

“Die vermaak in die aand is vir my ’n bewys dat ons as Jehovah se Getuies nie ’n lewe van fanatiese selfverloëning lei nie. Ons weet hoe om pret te hê—pret wat rein is en wat ’n mens werklik geniet”, het Amy, ’n afgevaardigde van Australië, gesê.

Terug huis toe met aangename herinneringe

Die streekbyeenkoms in Frankfurt was maar een van ’n reeks internasionale streekbyeenkomste wat in nege lande regoor die wêreld gehou is.

Toe ’n afgevaardigde gevra is hoe hy oor die streekbyeenkoms in Frankfurt gevoel het, het hy gesê: “Stel jou voor dat jy ’n nabye familielid vind, ’n broer byvoorbeeld, waarvan jy nie geweet het nie. Nadat jy hom ontmoet het, ontvang hy jou met openhartigheid in sy huis. Jy word vervul met onbeskryflike vreugde. Vermenigvuldig nou daardie gevoel met 37 000. Dis hoe dit gevoel het om daar te wees.”