Spring na inhoud

Die Bybelverhale-boek gaan skool toe

Die Bybelverhale-boek gaan skool toe

Die Pangasinaanse vertaling van My boek met Bybelverhale, wat in 2012 vrygestel is, help skoolkinders in die Filippyne wat hierdie taal praat. In die lig van ’n riglyn van die Filippynse Departement van Onderwys om ’n kind se moedertaal vir onderrig in laerskole te gebruik, is hierdie publikasie uiters nuttig.

Meer as 100 tale word in die Filippyne gepraat, en daar word al lank gedebatteer oor watter taal in die klaskamer gebruik moet word. In 2012 het ’n riglyn van die Departement van Onderwys erken dat kinders “beter en vinniger leer” as hulle “huistaal gebruik word”. Gevolglik is ’n “moedertaalgebaseerde veeltalige opvoeding[sprogram]” ingestel.

Pangasinaans is een van die tale wat hiervoor gekies is. Maar daar was ’n probleem. ’n Skoolhoof het na bewering erken dat daar min leesstof vir leerlinge in Pangasinaans is. Die tyd was dus reg toe Jehovah se Getuies My boek met Bybelverhale in Pangasinaans by hulle streekbyeenkomste in November 2012 vrygestel het.

Ongeveer 10 000 eksemplare is gedruk vir verspreiding by die byeenkomste. Jong kinders en hulle ouers was verheug om ’n boek in hulle moedertaal te kry. Een egpaar het gesê: “Ons kinders hou baie daarvan, want hulle kan alles daarin verstaan.”

’n Paar Getuies het net ná die byeenkoms hulle Bybelverhale-boeke na ’n skool in die stad Dagupan geneem. Onderwysers daar, wat gesukkel het om leesstof in Pangasinaans te vind, was verheug oor die boek. Meer as 340 boeke is versprei. Die onderwysers het die boek dadelik begin gebruik om kinders in hulle moedertaal te leer lees.

Jehovah se Getuies is bly dat hierdie publikasie ’n rol in die opvoeding van jong kinders speel. Een van die vertalers wat My boek met Bybelverhale help vertaal het, het gesê: “Ons besef al lank hoe belangrik dit is om materiaal in mense se moedertaal uit te gee, sodat dit die hart kan bereik. Daarom lê die Getuies hulle daarop toe om Bybels en Bybellektuur in honderde tale te vertaal.”