Spring na inhoud

’n Selfmoord by die Sky Tower word voorkom

’n Selfmoord by die Sky Tower word voorkom

Graham Browne, ’n 80-jarige Getuie van Jehovah, het ’n geestelik versteurde man oorreed om nie van die 328 meter hoë Sky Tower in Auckland, Nieu-Seeland, af te spring nie. “Toe die man gevra het om met een van Jehovah se Getuies te praat, het die polisie my gebel om te vra of ek sal help”, het Graham gesê.

“Die personeel by die Sky Tower het vir my ’n veiligheidsharnas gegee om aan te trek en my Bybel met ’n lang koord daaraan vasgemaak. Die polisie het my toe na die uitkykplatform buite geneem, wat 192 meter bo die grond is. ’n Ysige wind het met vlae om die toring gewaai. Die man wat gedreig het om te spring, het ’n entjie van my af op ’n smal looplys gesit, en sy bene het oor die kant gehang.

“Ek het uitgeroep dat ek een van Jehovah se Getuies is en hom wil help. Nadat ek ’n stille gebed gedoen het, het ek my Bybel oopgemaak en begin praat.

“Ek het oor die heiligheid van lewe gepraat, die onderwerp van ’n toespraak wat ek kort tevore by ons plaaslike Koninkryksaal gehou het.

“ ‘God beskou jou as kosbaar’, het ek gesê, ‘en hy het jou ’n wonderlike gawe gegee—die lewe. Waarom wys jy nie vir hom dat jy hierdie gawe waardeer nie? Kom asseblief hier tot agter die veiligheidsreling.’

“Ek het ook verskeie Bybeltekste gelees, insluitende Johannes 3:16, wat sê: ‘Want God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê.’

“ ‘God het jou dus lief en wil hê dat jy moet lewe’, het ek vir hom gesê.

“Eers het dit gelyk asof die man nie luister nie. Ek het Jehovah dus in ’n stille gebed gevra om my te help om tot hom deur te dring. Uiteindelik het hy opgestaan en stadig nader aan my beweeg. Hy was hoogs ontsteld.

“ ‘Jehovah se Getuies het onlangs na my huis toe gekom, maar ek het hulle weggestuur’, het hy gesê. ‘Ek voel regtig sleg daaroor. Sal julle my asseblief vergewe?’

“ ‘Wel, selfs party van ons het dit gedoen voordat ons Getuies geword het’, het ek hom verseker. ‘Jy kan seker wees dat Jehovah jou sal vergewe.’

“ ‘Baie dankie’, het hy gesê, ‘dit is ’n groot verligting.’

“ ‘Ek is regtig bang jy val’, het ek gesê. ‘Ék het ’n veiligheidsharnas aan, maar as jý gly, sal jy jou kosbare lewe verloor. Dit sal Jehovah baie hartseer maak. Kom asseblief hier tot agter die veiligheidsreling.’

“Sy hele houding het verander. ‘Goed’, het hy gedwee geantwoord. ‘Ek kom.’

“Hy het tot op die uitkykplatform gekom, en die polisie het hom gou na veiligheid gelei. Ons het omtrent ’n uur lank gepraat.”

Jehovah se Getuies gee werklik vir mense om, veral diegene wat beangs is. Hulle gebruik wêreldwyd die Bybel om hoop en vertroosting te bied en verseker mense dat God werklik vir hulle omgee.