Spring na inhoud

Drukwerk regoor die wêreld—Mense word gehelp om van God te leer

Drukwerk regoor die wêreld—Mense word gehelp om van God te leer

Regoor die wêreld lees mense die publikasies van Jehovah se Getuies. Miljoene lees hierdie lektuur in elektroniese formaat, soos jy nou doen. Maar dit sal jou dalk verbaas om te weet wat die omvang van ons drukwerk is. Vanaf 2013 publiseer ons Bybellektuur in ongeveer 700 tale en versprei ons dit in 239 lande.

Voor 1920 het kommersiële maatskappye al ons drukwerk gedoen. In daardie jaar het ons party van ons tydskrifte en boekies in ’n klein gehuurde gebou in Brooklyn, New York, begin druk. Maar nou het ons 15 drukkerye in Afrika, Asië, Australië, Europa, Noord-Amerika en Suid-Amerika.

Ons allerbelangrikste boek

Die allerbelangrikste boek wat ons druk, is natuurlik die Bybel. In 1942 het ons vir die eerste keer ’n volledige Bybel op ons perse gedruk; dit was die Engelse King James Version. Sedert 1961 het Jehovah se Getuies die volledige Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif vertaal en in een deel gepubliseer. Teen 2013 het ons al meer as 184 miljoen eksemplare van hierdie Bybel in 121 tale vervaardig.

Produksiesyfers vertel nie die hele storie nie. Die Bybels wat ons vervaardig, is baie duursaam. Dit word gedruk op papier wat geen suur bevat wat dit sal laat verkleur nie, en dit word goed gebind. Die resultaat is ’n Bybel wat ten spyte van daaglikse gebruik lank sal hou.

Ander publikasies

Ons druk ook publikasies wat mense help om die Bybel te verstaan. Kyk na ’n paar syfers van 2013:

  • Die Wagtoring, ons vernaamste tydskrif, word in meer as 210 tale gedruk en is die tydskrif met die grootste verspreiding ter wêreld. Elke nommer, wat uit 16 bladsye bestaan, het ’n oplaag van ongeveer 45 000 000 eksemplare.

  • Ontwaak!, die medetydskrif van Die Wagtoring—en met die grootste sirkulasie naas Die Wagtoring—word in 99 tale gedruk. Elke nommer het ’n oplaag van ongeveer 44 000 000.

  • Wat leer die Bybel werklik? is ’n sagtebandboek met 224 bladsye wat spesiaal saamgestel is om lesers te help om basiese Bybelleringe te verstaan. Sedert 2005 is meer as 214 miljoen eksemplare in meer as 240 tale gedruk.

  • Listen to God is ’n brosjure met 32 bladsye wat saamgestel is om mense te help wat nie goed kan lees nie. Dit dra eenvoudige Bybelwaarhede oor deur middel van pragtige prente en kort byskrifte. Meer as 42 miljoen eksemplare is in meer as 400 tale gedruk.

Benewens hierdie publikasies druk Jehovah se Getuies ’n verskeidenheid boeke, brosjures en traktate wat Bybelstudente help om navorsing oor hulle Bybelvrae te doen, die probleme van die lewe die hoof te bied en ’n gelukkige gesinslewe te hê. In 2012 het die drukkerye van Jehovah se Getuies meer as 1,3 miljard tydskrifte en 80 miljoen boeke en Bybels vervaardig.

In 2012 het die drukkerye van Jehovah se Getuies meer as 1,3 miljard tydskrifte en 80 miljoen boeke en Bybels vervaardig

Besoekers wat deur ons drukkerye toer, verwonder hulle dikwels oor die hardwerkende mense wat hierdie lektuur vervaardig. Al hierdie mans en vroue offer vrywillig hulle tyd en energie op. Wanneer hulle aankom by Bethel, ’n naam wat “Huis van God” beteken, het die meeste van hulle geen ondervinding in die drukkersbedryf nie. Maar ’n interne opleidingsprogram, tesame met ’n werksomgewing wat opleiding bevorder, lewer goeie resultate op. Dit is byvoorbeeld iets algemeens om jong mans in hulle 20’s by ’n hoëspoeddrukpers te sien werk, wat die vermoë het om 200 000 tydskrifte met 16 bladsye elk per uur te druk.

Waar kom die geld vandaan?

Die werk wat Jehovah se Getuies doen, word wêreldwyd deur vrywillige bydraes ondersteun. Die nommer van Augustus 1879 van Zion’s Watch Tower, wat nou Die Wagtoring genoem word, het gesê: “Ons glo dat JEHOVAH die ondersteuner van ‘Zion’s Watch Tower’ is, en solank dit die geval is, sal dit nooit bedel of mense om ondersteuning smeek nie.” Ons voel nog steeds dieselfde.

Waarom bestee ons soveel tyd, geld en energie aan hierdie werk? Omdat ons hoop dat ons publikasies jou sal help om nader aan God te kom, hetsy jy een van die miljoene Bybels en boeke lees wat van ons drukkerye kom of hierdie publikasies aanlyn lees.