Spring na inhoud

’n Veldtog op die Maroni-rivier

’n Veldtog op die Maroni-rivier

 Ver van die gejaag van die stadslewe bly daar mense van verskillende stamme, tale en nasies in die Amasonereënwoud van Suid-Amerika. Daarom het ’n groep van 13 Getuies van Jehovah in Julie 2017 op ’n veldtog al langs die Maroni-rivier en sy oostelike syriviere in Frans-Guiana gegaan. Hoekom het hulle dit gedoen? Sodat hulle die Bybel se boodskap van hoop vir mense wat langs die rivier bly, kon neem.

Voorbereidings vir die veldtog

 ’n Maand voordat die veldtog van 12 dae begin het, het almal wat sou saamgaan, bymekaargekom vir ’n vergadering om alles te beplan. Winsley sê: “Ons het oor die gebied en sy geskiedenis geleer en ook gedink aan hoe ons onsself vir die reis kan voorberei.” Almal wat saamgegaan het, het ’n waterdigte houer gehad waarin ’n hangmat en muskietnet was. Die veldtog het twee vlugte en baie ure se reis in boomkano’s ingesluit.

Claude en Lisette

 Hoe het die mense wat gekies is om saam te gaan, oor die uitnodiging gevoel? Claude en Lisette, wat in hulle 60’s is, was vinnig om die uitnodiging te aanvaar. Claude sê: “Ek was baie bly, maar ook ’n bietjie bang. Ek het al baie gehoor van hoe gevaarlik die sterk strome is.” Lisette het haar eie bekommernisse gehad. Sy sê: “Ek het gewonder hoe ek sou regkom met die Amerikaanse Indiaanse tale.”

 Mickaël wat saamgegaan het, het ook so gevoel. Hy sê: “Ons het nie baie geweet oor die Wayana-stam nie, daarom het ek ’n bietjie navorsing op die Internet gedoen en ’n paar woorde geleer asook hoe om mense in hulle eie taal te groet.”

 Shirley, wat saam met haar man, Johann, gegaan het, het ’n lys gemaak van al die tale wat langs die rivier gepraat word. Sy sê: “Ons het video’s van jw.org in die meeste van daardie tale afgelaai en ons het ’n boek gekry met eenvoudige sinne in Wayana.”

Amerikaanse Indiaanse gebied

 Op Dinsdag 4 Julie het die groep gevlieg van Saint-Laurent du Maroni na Maripasoula, ’n klein dorpie diep in Frans-Guiana.

 Oor die volgende vier dae het die groep vir die inwoners van die dorpies al langs die Maroni-rivier gepreek. Hulle het gereis met boomkano’s wat enjins gehad het. Roland, wat saamgegaan het, sê: “Ons het gevind dat die Amerikaanse Indiane baie in Bybelonderwerpe belanggestel het. Hulle het baie vrae gehad en van hulle wou hê dat ons die Bybel met hulle studeer.”

 In een dorpie het Johann en Shirley ’n jong paartjie ontmoet wie se familielid onlangs selfmoord gepleeg het. Johann sê: “Ons het vir hulle die video A Native American Finds His Creator [op JW Broadcasting] gewys. Dit het die jong paartjie diep geraak. Hulle het vir ons hulle e-posadres gegee omdat hulle in kontak met ons wou bly.”

 Die verste wat hulle op die rivier gekom het, was Antécume Pata. Die hoofman van die dorp het die moeë Getuies toegelaat om hulle hangmatte bymekaar op te hang. Hulle het ook in die rivier gebad, soos die mense van die dorp.

 Hiervandaan het hulle na die dorpie Twenké gegaan, waar die inwoners hartseer was oor die dood van ’n geliefde. Éric, wat gehelp het om die veldtog te reël, sê: “Die ‘Groot Man’, die stamhoof, het toegelaat dat ons deur die dorpie gaan en mense vertroos wat hartseer was. Die stamhoof en sy familie het die tekste waardeer wat ons vir hulle uit die Wayana-bybel gelees het. Ons het ook vir hulle video’s gewys wat die Bybel se belofte oor ’n opstanding beskryf.”

Grand-Santi en Apatou

 Die volgende deel van die veldtog was ’n halfuur lange vlug van Maripasoula na die klein dorp Grand-Santi. Op Dinsdag en Woensdag het die Getuies die Bybel se boodskap aan die plaaslike mense verkondig. Donderdag het hulle nog ’n reis aangepak. Hulle het vyf en ’n half uur lank op die Maroni-rivier na die dorpie Apatou gereis.

Die Maroni-rivier en die Amasonereënwoud tussen Maripasoula en Grand-Santi

 Op die tweede laaste dag van die veldtog het die Getuies die dorpies van die Marrons in die woud besoek. Hulle is van Afrika-slawe afkomstig wat na Suid-Amerika gebring is gedurende die tyd toe die naburige land Suriname ’n kolonie was. Die Getuies het almal na ’n vergadering in die woud genooi wat in ’n groot tent gehou is. Claude sê: “Ons was baie bly toe so baie mense gekom het. Ons het hulle net daardie oggend genooi!” Karsten, wat op sy eerste veldtog in die binneland was, het ’n openbare toespraak in Aukaans gegee met die naam “Is hierdie lewe al wat daar is?” Een-en-negentig mense van verskillende dorpe het die vergadering bygewoon.

“Ons is reg om dit weer te doen!”

 Uiteindelik het almal op die veldtog na Saint-Laurent du Maroni teruggegaan. Almal was oorweldig deur hoe positief die inwoners gereageer het. Hulle het baie publikasies geplaas en baie video’s deur Jehovah se Getuies gewys.

 Lisette sê: “Ek het nie woorde om te beskryf hoe gelukkig ek is dat ek op hierdie veldtog gegaan het nie.” Cindy stem saam: “As ek dit weer kon doen, sou ek smeek vir die kans. Jy moet self hierdie vreugde voel om dit te verstaan!”

 Die veldtog het party van die broers en susters die begeerte gegee om terug te gaan. Mickaël sê: “Ons is reg om dit weer te doen!” Winsley het na Saint-Laurent du Maroni getrek. Claude en Lisette, albei in hulle 60’s, het besluit om na Apatou te trek.