Spring na inhoud

Die takkantoor in Rio de Janeiro in 1923 en die huidige takkantoor in Cesário Lange

7 MAART 2023
BRASILIË

Bethel in Brasilië – Ondersteun geestelike groei vir 100 jaar

Bethel in Brasilië – Ondersteun geestelike groei vir 100 jaar

In 2023 is dit 100 jaar vandat die takkantoor in Brasilië begin is. Gedurende hierdie 100 jaar het die aantal Getuies van Jehovah in Brasilië aanhou groei, wat bewys dat Jehovah die werk geseën het.

Die geskiedenis van die predikingswerk in Brasilië het in die laat 1890’s begin, toe Zion’s Watch Tower and Herald of Christ’s Presence vir die eerste keer in die land versprei is. Meer en meer mense het in die tydskrif begin belangstel. So in Maart 1923 het broer J.F. Rutherford vir broer George Young na die land gestuur om ’n takkantoor te begin en om die werk te organiseer.

Broer Young het ’n klein kantoor in die stad Rio de Janeiro gehuur, en dit het die eerste takkantoor geword nie net vir Brasilië nie, maar vir die hele Suid-Amerika. Hy het ook gereël dat die publikasies van Engels na Portugees vertaal word en dit deur ’n plaaslike drukkery laat druk.

Teen 1925 was broer Young ’n sendeling in Argentinië, en broer John Rainbow was toegewys om as takopsiener by die klein takkantoor in Brasilië te dien. In 1926 het die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, VSA, ’n klein drukpers na Brasilië gestuur. Die broers in Brasilië kon toe self die tydskrifte en boekies druk.

Sedert 1945 is sendelinge van die Wagtoring-Bybelskool Gilead toegewys om met die predikingswerk in Brasilië te help. Jehovah het hulle werk baie geseën. Tussen 1948 en 1968 het die aantal Koninkryksverkondigers van 1 000 tot 50 000 toegeneem. Net in die afgelope drie jaar is meer as 21 000 mense elke jaar gedoop. Vandag is daar ongeveer 900 000 verkondigers wat die goeie nuus in die land versprei. As gevolg van hierdie groei was dit nodig om Bethel ’n paar keer op te knap en te vergroot. In 1980 het die takkantoor getrek na die dorp Cesário Lange, wat omtrent 150 kilometer van São Paulo is. Van toe af is die takkantoor by Cesário Lange drie keer vergroot. Vandag is daar meer as 1 200 broers en susters wat daar dien.

Ons is verheug om te sien hoe Jehovah die dissipelmaakwerk in Brasilië die afgelope 100 jaar geseën het. – 1 Korintiërs 3:7.