Spring na inhoud

Die nuwe Bybelonderrigsentrum in Cabreúva, Brasilië. Klein foto bo: Studente neem deel aan ’n klasbespreking

20 DESEMBER 2023
BRASILIË

Nuwe Bybelonderrigsentrum word in Brasilië oopgemaak

Nuwe Bybelonderrigsentrum word in Brasilië oopgemaak

Op 3 Desember 2023 het broer Eduardo Martines, ’n lid van die Takkomitee in Brasilië, die toewydingstoespraak by ’n plaaslike Byeenkomssaal gegee vir die nuwe Bybelonderrigsentrum in Cabreúva, Brasilië. Meer as 2 400 broers en susters het die toewydingsprogram in persoon bygewoon, en meer as 4 900 het deur middel van videoverbinding ingeskakel.

Links: Broer Eduardo Martines gee die toewydingstoespraak. Regs bo: Mense in die gehoor geniet die program. Regs onder: Onderhoude gedurende die program met broers wat al lank as instrukteurs dien

Hierdie nuwe Bybelonderrigsentrum sal hoofsaaklik gebruik word vir die Skool vir Koninkrykspredikers en die Skool vir Kringopsieners en hulle Vrouens. Drie klasse kan gelyktydig by die fasiliteit gehou word, en altesaam amper 600 studente kan die skole elke jaar bywoon.

’n Instrukteur hou ’n klasbespreking

In 2020 het ons broers ’n hotel gekoop en begin om dit in ’n Bybelonderrigsentrum te omskep. Vrywilligers het die nodige voorsorgmaatreëls gedurende die COVID-19-pandemie gevolg terwyl hulle die gebou in 3 klaskamers, 54 woonkamers, ’n eetsaal en kantore omskep het. Kort nadat die konstruksie voltooi is, is reëlings gemaak om ’n ope dag te hou. Die doel van hierdie geleentheid was om dié wat in die omgewing bly, insluitende plaaslike amptenare, vertroud te maak met Jehovah se Getuies en ons Bybelonderrigtingswerk. Een amptenaar wat vir ’n toer by die fasiliteit was, het gesê: “Die werk wat julle hier gedoen het, is so pragtig en van so ’n hoë gehalte. Wanneer ons iets vir God doen, is dit hoe dit gedoen moet word.”

Links: Die ontvangs by die nuwe onderrigsentrum. Regs: Studente se akkommodasie by die fasiliteit

Broer Rogério Braganholo, wat met die opknappingswerk gehelp het, het gesê: “Dit is duidelik dat Jehovah hierdie projek van die begin tot die einde ondersteun het. Om te sien hoe hy ons gehelp het om die werk te voltooi, het ons herinner aan die woorde in Psalm 127:1: ‘As Jehovah nie die huis bou nie, werk die bouers verniet hard daaraan.’”

Ons is baie bly oor die opening van hierdie nuwe Bybelonderrigsentrum wat baie van ons broers en susters in Brasilië sal help om hulle vaardighede in die “onderrigkuns” te verbeter. – Titus 1:9, voetnoot.