Spring na inhoud

’n Nuwe Koninkryksaal in Iqaluit, Kanada. Hierdie gebied is so afgesonderd dat die boumateriaal by ’n Byeenkomssaal in Ontario bymekaargesit moes word en dan na die bouterrein vervoer moes word

28 OKTOBER 2022
KANADA

Koninkryksaal word voltooi in Kanada se “plek van baie visse”

Koninkryksaal word voltooi in Kanada se “plek van baie visse”

Die Iqaluit-gemeente van Jehovah se Getuies in Iqaluit, Nunavut, Kanada, het hulle eerste Koninkryksaal. Op 14 Oktober 2022 het konstruksievrywilligers die Koninkryksaal met 50 sitplekke voltooi. Hierdie nuwe vergaderplek is die noordelikste Koninkryksaal in Kanada. Die gemeente in Iqaluit is in 2010 begin, en die gemeente het hulle vergaderinge in ’n skoolsaal gehou.

Boumateriaal wat gedurende laaggety afgelaai word

Dit was ’n moeilike bouprojek, en dit is twee jaar lank as gevolg van die pandemie vertraag. Iqaluit, wat “plek van baie visse” beteken, is geleë in Frobisher-baai op die Baffin-eiland. ’n Mens kan dit net per vliegtuig of boot bereik. En die boumateriaal kon nie plaaslik gekoop word nie. Dit het beteken dat die boumateriaal en gereedskap per boot na die bouperseel gestuur moes word. As gevolg van die weer kon hulle ook net die Koninkryksaal tussen Augustus en Oktober bou.

Vreugdevolle konstruksievrywilligers

Die boumateriaal en gereedskap wat 127 metrieke ton geweeg het, is by ’n Byeenkomssaal in Ontario bymekaargesit en voorberei. Dit is toe alles in 12 seehouers en drie baie groot vervoerhouers opgelaai en na ’n hawe naby Montreal, Quebec, vervoer. Van daar af is dit per skip deur die St. Lawrence-seeweg, in die Atlantiese Oseaan, en uiteindelik na Frobisher-baai vervoer. Omdat daar nie ’n hawe in die baai is waar groot skepe kan inkom nie, is die houers op ’n vragskuit met ’n plat boom gelaai. Sleepbote het die vragskuite na die vlak water gesleep. Die houers is dan gedurende laaggety met laaiers afgelaai en na die land gebring.

Die ontwerp van die Koninkryksaal sluit ’n hele paar gevorderde konstruksiemetodes in wat sal help dat die gebou die uiterste koue klimaat van Iqaluit, waar die gemiddelde wintertemperatuur minus 30 grade Celsius is, sal kan weerstaan.

Omtrent 40 konstruksievrywilligers van ses provinsies het na hierdie afgesonderde gebied gereis om te gaan help. Broer Jason McGregor, een van die vrywilligers, het gesê: “Al was daar uitdagings om die boumateriaal so ver noord te kry en onverwagse probleme om op te los, kon niks in Jehovah se pad staan nie. Dit was geloofversterkend om elke dag te sien hoe die werk vorder.”

Ons is bly saam met ons broers in Kanada oor hulle nuwe Koninkryksaal in hierdie “plek van baie visse” terwyl hulle aanhou met die belangrike werk om “vissers van mense” te wees. – Matteus 4:19.