Spring na inhoud

3 MEI 2017
KAZAKSTAN

Kazakstan ignoreer godsdiensvryheid en vonnis Teymur Akhmedov

Kazakstan ignoreer godsdiensvryheid en vonnis Teymur Akhmedov

Op 2 Mei 2017 het ’n hof in Astana Teymur Akhmedov gevonnis tot vyf jaar tronkstraf net omdat hy met ander oor sy godsdiensoortuigings gepraat het. Hy is die eerste Getuie van Jehovah in Kazakstan wat sedert die land se onafhanklikheid in 1991 as ’n krimineel gevonnis word as gevolg van sy godsdiensbedrywighede.

Die 61-jarige mnr. Akhmedov is vir die drie maande voor sy verhoor aangehou ten spyte van internasionale pogings om hom eerder onder huisarres te plaas omdat hy ernstig siek is. Hy is getroud en het drie seuns.

Straf ten spyte van godsdiensvryheid

Mnr. Akhmedov se probleme het in Januarie 2017 begin toe Kazakstan se geheime polisie, die Nasionale Veiligheidskomitee (KNB), hom in hegtenis geneem het. Hulle het beweer dat hy Artikel 174(2) van Kazakstan se Strafwet oortree het. Die KNB het hom aangekla van “aanhitsing tot . . . godsdienshaat” omdat hy met ander oor sy godsdiensoortuigings gepraat het.

Regter Talgat Syrlybayev het beslis dat mnr. Akhmedov skuldig is aan “aanhitsing tot godsdiensverdeeldheid” en “dat persone beweer dat hulle die enigste ware godsdiens het, dat hulle godsdiens beter as ander godsdienste is of dat hulle op ander burgers neersien as gevolg van hulle godsdiens”. Die regter het mnr. Akhmedov ook verbied om vir die volgende drie jaar deel te neem aan sy “godsdiensbedrywighede”. Met ander woorde hy word verbied om sy aanbidding te beoefen.

Philip Brumley, ’n regsverteenwoordiger van Jehovah se Getuies, het gesê: “Die owerheid is besig om die wet heeltemal verkeerd toe te pas. In 2016 het ’n paar mans Teymur na ’n woonstel genooi om oor sy godsdiensoortuigings te praat. Hulle het selfs na sy huis toe gegaan. Wat Teymur nie geweet het nie, was dat hierdie besprekings in die geheim opgeneem is en later gebruik sou word om ’n valse aanklag teen hom te maak. Dit wys jou net hoe ver die owerheid bereid is om te gaan om vreedsame godsdiensbedrywighede te onderdruk en te kriminaliseer. Dit is ’n totale verdraaiing van die reg.”

Mnr. Akhmedov se gesin is baie bekommerd oor sy gesondheid. Hy het ’n bloeiende gewas (waarskynlik kanker), maar die owerheid het die aansoek verwerp dat sy aanhouding tot huisarres verander word, en voorsien ook nie die mediese behandeling wat hy dringend nodig het nie. Sy regsverteenwoordigers het verskeie klagte ingedien by die VN se Werkende Groep vir Arbitrêre Opsluiting en by die VN se spesiale referente in verband met vryheid van godsdiens of oortuiging en die reg om vryelik en vreedsaam te vergader en te assosieer.

Sal godsdiensvryheid in Kazakstan voortbestaan?

Jehovah se Getuies in Kazakstan het al baie uitdagings ondervind terwyl hulle aan hulle godsdiensbedrywighede deelneem. Maar mnr. Akhmedov se onregverdige tronkstraf is ’n nuwe skokkende aanval op hulle aanbidding. Verteenwoordigers van die Getuies hou aan om Kazakstan se owerheid te versoek om die land se internasionale verpligtinge te respekteer in verband met die basiese reg om te aanbid sonder inmenging van die owerheid.