Spring na inhoud

16 NOVEMBER 2022
OEKRAÏNE

JONGSTE NUUS #13 | Ons broers en susters hou aan om liefde te wys gedurende die krisis in Oekraïne

Preek weer van huis-tot-huis

JONGSTE NUUS #13 | Ons broers en susters hou aan om liefde te wys gedurende die krisis in Oekraïne

In Augustus 2022 was daar ’n aankondiging dat die broers en susters weer van huis-tot-huis sou preek in gebiede van Oekraïne waar dit veilig is. Ons broers en susters was gretig om weer te begin. Hulle het baie mense gekry wat graag na die Bybel se boodskap wou luister. ’n Persoon wat ’n Bybelstudie aanvaar het, het gesê: “Nadat ek die aaklige dinge en swaarkry gedurende die oorlog gesien het, is dit duidelik dat net God die mens se probleme kan oplos.” Hier volg ondervindinge in die bediening.

Roeslan van die Laniftsi-gemeente was ’n bietjie bang om weer van huis-tot-huis te preek. Hy en sy vrou het vir Jehovah gebid om hulle moedig te maak en om hulle te help om mense te vind wat belangstel in ’n hoop vir ’n beter toekoms. Die paartjie was verstom dat hulle binne net twee ure met agt mense gepraat het, wat almal ’n Bybelstudie aanvaar het.

Terwyl Olha van die Kremenets-gemeente aan die bediening deelgeneem het, het ’n man na haar en haar maat gehardloop en hulle gevra of hulle met mense oor God se Woord praat. Hy het toe verduidelik: “Ek rook, en ek het ’n probleem met alkohol. Ek weet dat God my binnekort sal oordeel. Ek wil dan nie wees wie ek nou is nie.” Reëlings is getref dat broers in die gebied die Bybel met hom studeer.

Terwyl Wasil van die Lviv-Riasne-Schidnji-gemeente velddiens in ’n dorpie saam met sy velddiensgroep gedoen het, het hy die huis van ’n vrou herken met wie hy jare tevore gepraat het. Hy het onthou dat die vrou baie kwaad geword het en geweier het om met Jehovah se Getuies te praat. Hy het besluit om aan die deur te klop en ’n Bybelstudie aan te bied. Tot sy verbasing het dieselfde vrou na die deur toe gekom en gesê dat sy die Heilige Skrif graag wil verstaan. Sy het die Bybelstudie aanvaar, en die broer het gereël dat iemand die Bybel met haar studeer.

Serhi, wat deel is van die Illintsi-gemeente, is in 2021 gedoop en het nog nooit aan die huis-tot-huis-bediening deelgeneem nie. Hy was senuweeagtig, en daarom het hy tyd geneem om voor te berei. Serhi het verduidelik: “Ek het baie keer na die video’s met die voorgestelde gesprekke gekyk. Toe het ek net moed nodig gehad.” Hy is bly om te sê dat sy senuweeagtigheid met groot vreugde vervang is omdat hy die geleentheid gehad het om die goeie nuus met ander te deel.

Nikol van die Rozdil-gemeente het in Augustus 2022 ’n ongedoopte verkondiger geword en het ’n soortgelyke ondervinding gehad. Sy het vertel: “Ek was baie senuweeagtig en selfs bang om in persoon te preek. Maar nadat ek dit gedoen het, het ek gesien hoe lekker dit is om ’n gesprek oor Jehovah in persoon te hê!”

Twee susters neem deel aan die huis-tot-huis-bediening

Tot en met 11 November 2022 is die volgende getalle uit Oekraïne gerapporteer. Hierdie syfers is gebaseer op bevestigde verslae van die plaaslike broers. Maar die getalle kan hoër wees, want dit is moeilik om kommunikasie met al die streke van die land te behou.

Hoe ons broers en susters geraak is

  • 46 verkondigers het gesterf

  • 97 verkondigers is beseer

  • 12 569 verkondigers kan op die oomblik nie teruggaan na hulle huise nie

  • 590 huise is heeltemal vernietig

  • 645 huise is erg beskadig

  • 1 722 huise is beskadig, maar nie te erg nie

  • 6 Koninkryksale is heeltemal vernietig

  • 19 Koninkryksale is erg beskadig

  • 63 Koninkryksale is beskadig, maar nie te erg nie

Noodlenigingspogings

  • 27 Noodlenigingskomitees (DRC’s) werk in Oekraïne

  • 53 948 persone is direk deur die DRC’s gehelp om veiliger blyplek te kry

  • 25 983 verkondigers het na ander lande gevlug en word deur broers en susters gehelp