Spring na inhoud

31 MEI 2018
RUSLAND

Nog een van Jehovah se Getuies word in Rusland verhoor op aanklagte van ekstremistiese bedrywighede

Nog een van Jehovah se Getuies word in Rusland verhoor op aanklagte van ekstremistiese bedrywighede

Arkadja Akopjan, ’n 70-jarige afgetrede kleremaker en een van Jehovah se Getuies, se hofsaak duur al ’n jaar lank voort. Hy word aangekla van ekstremistiese bedrywighede. As hy skuldig bevind word, sal hy swaar beboet of tot 4 jaar tronkstraf gevonnis word.

Die aanklaer beweer dat mnr. Akopjan skuldig is aan “aanhitsing tot godsdienshaat”. Die aanklag word gebaseer op ’n godsdienstoespraak wat hy by ’n plaaslike Koninkryksaal gegee het waar hy al jare lank gereeld vergaderinge bywoon. In die hof het die aanklaer grootliks staatgemaak op die valse getuienis van ses persone wat nie Getuies van Jehovah is nie. Hulle het beweer dat mnr. Akopjan lasterlike stellings gedurende sy toespraak gemaak het en dat hy hulle “ekstremistiese” lektuur gegee het om te versprei.

Mnr. Akopjan en ander wat hom ken, sê dat albei bewerings vals is. Sy regsgeleerde het bewyse aan die hof gegee dat die ses persone wat die aantygings gemaak het, glad nie naby die gebou was waar mnr. Akopjan sy stellings gemaak het nie. Jehovah se Getuies gee ook nie sommer godsdienslektuur aan enigiemand wat nie ’n Getuie is, om te versprei nie. Mnr. Akopjan se vrou, Sonja, wat nie een van Jehovah se Getuies is nie, het gedurende haar kruisverhoor aan die hof verduidelik dat sy al 40 jaar lank gelukkig getroud is. Sy het ook verduidelik dat haar man nog nooit enige van hulle familielede gedwing het om een van Jehovah se Getuies te word nie.

Regter Oleg Golowasjko het beveel dat ’n deskundige ondersoek gedoen word om uit te vind of die stellings wat deur mnr. Akopjan gedurende sy toespraak gemaak is, ‘godsdienshaat aangehits het’. By die jongste verhoor van mnr. Akopjan, op 15 Mei 2018, het die regter gesê dat die deskundige ondersoek gedurende September 2018 gedoen moet word, maar dat die verhoor intussen sal voortgaan. Die volgende verhoor sal op 5 Junie plaasvind waar mnr. Akopjan onder kruisverhoor sal wees. Mnr. Akopjan is nie in aanhouding terwyl hy op die volgende verhoor wag nie. Maar vandat sy verhoor op Mei 2017 in die Prochladni-streekhof begin het, kon hy nie vryelik rondreis nie.

Gregory Allen, ’n regsverteenwoordiger vir Jehovah se Getuies, het gesê: “Rusland pas hulle wetgewing oor ekstremisme verkeerdelik toe op Jehovah se Getuies. Mnr. Akopjan is maar net nog ’n slagoffer hiervan. Hy is ’n onskuldige, wetsgehoorsame burger wat net God in vrede wil aanbid. Die feit dat Jehovah se Getuies verkeerdelik deur die regering geteiken word, veroorsaak dat hulle vryheid weggeneem word en ontneem die land van sy verskillende kulture, agtergronde en godsdienste.”

Mnr. Akopjan is die tweede Getuie in Rusland wat onregverdig aangekla word van “ekstremistiese bedrywighede”. Die kriminele verhoor van Dennis Christensen, ’n Getuie in Oriol, het in Februarie 2018 begin. Hy is al ’n jaar lank in aanhouding terwyl hy wag op sy verhoor en kan tot tien jaar tronkstraf kry as hy skuldig bevind word. * Nog sewe Getuies word aangehou in verskillende dele van Rusland, maar hulle is nog nie amptelik aangekla nie en wag nog op hulle verhoor.

^ par. 7 Albei mans is onder verskillende artikels van die Strafwet aangekla. Mnr. Akopjan is onder artikel 282(1) aangekla vir beweerde aanhitsing tot godsdienshaat. Dennis Christensen is aangekla vir die skending van Artikel 282.2(1) van die Strafwet vir die beweerde organisering van die bedrywigheid van ’n godsdiensorganisasie wat ekstremisties verklaar is. Hierdie skending dra ’n swaarder straf.