Spring na inhoud

16 APRIL 2020
WÊRELDNUUS

Gedenkmaal vir 2020 – Afrika

Toespraak word uitgesaai op televisie en radio

Gedenkmaal vir 2020 – Afrika

Die Herdenking van Christus se dood vir 2020 was baie uniek. Vir die eerste keer is die Gedenkmaaltoespraak uitgesaai op televisie- en radiostasies in verskillende tale en op baie plekke regoor Afrika.

Hierdie uitsendings het dit moontlik gemaak dat meer as 407 000 verkondigers die Gedenkmaaltoespraak kon kyk. ’n Onbekende getal belangstellendes kon dit ook geniet. Al weet ons nie hoeveel mense die Gedenkmaaltoespraak gekyk het nie, was dit uitgesaai in ’n gebied waar meer as 150 miljoen mense woon.

Die meeste mense het die Gedenkmaal deur middel van videoverbinding gehou as gevolg van die COVID-19-pandemie. Maar baie verkondigers in Afrika bly in gebiede waar Internet- en selfoondienste baie duur is om video’s te stroom of af te laai. Die Bestuursliggaam het vir sekere takkantore toestemming gegee om kontrakte te onderhandel met plaaslike en nasionale televisie- en radiostasies. Daarom kon hierdie takkantore die Gedenkmaaltoespraak uitsaai, en dit was ook nie te duur nie.

Voor die Gedenkmaal het altesaam 11 takkantore – Angola, Benin, Côte d’Ivoire, Demokratiese Republiek van die Kongo, Ghana, Kameroen, Malawi, Mosambiek, Senegal, Zambië en Zimbabwe – met uitsaai-maatskappye gepraat en gereël dat die Gedenkmaaltoespraak in meer as 36 plekke in 16 lande uitgesaai moet word.

Angola

Altesaam ses radiostasies het ingestem om die Gedenkmaaltoespraak in ses verskillende tale uit te saai: Ibinda, Kikongo, Kimbundu, Nyaneka, Portugees en Umbundu. Die radiostasies saai uit na dele van die land waar baie mense woon.

Demokratiese Republiek van die Kongo

’n Bybelstudie was van plan om die Gedenkmaaltoespraak alleen te kyk, aangesien haar familie gekant was teen Jehovah se Getuies. Maar terwyl sy besig was om klaar te maak om die Gedenkmaaltoespraak te kyk, het haar pa vanuit die sitkamer geroep: “Dit het begin!” Sy het na die sitkamer gegaan en was verbaas om te sien dat haar hele familie bymekaargekom het om die Gedenkmaaltoespraak op die televisie te kyk. Altesaam tien familielede van die Bybelstudie het die Gedenkmaaltoespraak gekyk.

In ’n dorpie naby Luena het iemand wat nie ’n Getuie is nie, gesê: “Ons eie predikante het niks gedoen nie. Maar julle, julle hou aan om julle God te aanbid selfs gedurende die COVID-19-pandemie. Ons sal saam met julle aanbid!”

Ghana

’n Nasionale TV-stasie het ingestem om die Gedenkmaaltoespraak in Twi uit te saai. Die stasie het selfs die Gedenkmaal geadverteer en die publiek genooi om dit te kyk. Die stasie het nie net die Gedenkmaaltoespraak uitgesaai nie, maar ook die video’s Waarom het Jesus gesterf? en Hoekom laat God toe dat mense swaarkry? sowel as die musiekvideo’s In die nuwe wêreld en Net om die draai.

Senegal

Een suster het gesê: “Hulle het van Jehovah gepraat op televisie en op die radio. Dis wonderlik! Ons voel so geseënd en gelukkig. Ons is trots dat Jehovah ons God is!”

Nog ’n suster het vertel: “Toe ek gehoor het dat die Gedenkmaaltoespraak op televisie uitgesaai gaan word, het ek vir myself gesê: ‘Dit is ons geleentheid om op te vang met die Gedenkmaalkampanje omdat ons dit nie kon doen as gevolg van COVID-19 nie.’ Ek het vinnig my Bybelstudies, my herbesoeke en almal wat ek geken het, gekontak om hulle te laat weet van die uitsending. Nege van my Bybelstudies en hulle families kon die toespraak kyk. Een van my niggies wat die toespraak op televisie gekyk het in Ziguinchor, het my gevra of ons verder oor die onderwerp kan gesels, en ek was bly om ja te sê.”

Hierdie spesiale reëling gee verdere bewys dat vir Jehovah “is alles moontlik”. – Matteus 19:26.