Spring na inhoud

24 OKTOBER 2023
ZIMBABWE

Openbare getuieniswerk by Zimbabwe se Landbouskou vir 2023

Openbare getuieniswerk by Zimbabwe se Landbouskou vir 2023

Vanaf 28 Augustus tot 2 September 2023 was Zimbabwe se Landbouskou in Harare, Zimbabwe, gehou. Hierdie internasionale uitstalling het meer as 500 tentoonstellers gehad, en daar was meer as 250 000 besoekers. Broers en susters in die gebied het ’n stalletjie met publikasies in Engels, Ndebele (Zimbabwe) en Shona opgestel. Altesaam is byna 6 300 publikasies versprei deur die 79 broers en susters wat deelgeneem het, en 116 mense het ’n Bybelstudie aangevra.

’n Tiener met die naam Tamuka het na die stalletjie toe gekom. Die boeke Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 1 en 2, het sy aandag getrek. Maar toe hy gehoor het dat Jehovah se Getuies ’n gratis Bybelstudieprogram aanbied, het hy opgewonde gevra: “Kan jy my meer oor hierdie Bybellesse vertel?” Nadat hy ’n demonstrasie gesien het van hoe ’n Bybelstudie met die Geniet die lewe vir ewig!-brosjure werk, het hy vir ’n studie gevra. ’n Plaaslike broer het reëlings gemaak om verder met Tamuka te studeer.

Nog ’n man het na die stalletjie toe gekom en gesê dat hy beïndruk is deur die Getuies se nederigheid en die manier waarop hulle vir ander preek. ’n Broer by die stalletjie het Matteus 28:19, 20 vir die man gelees en verduidelik dat Jehovah se Getuies Jesus se opdrag om die Bybel se boodskap met ander te deel, ernstig opneem. Die man het gesê dat hy wens dat hy sulke moed gehad het. Die broer het die man ’n Bybelstudie aangebied, en hy het dit met graagte aanvaar.

’n Vrou by die uitstalling het gesê dat sy die vriendelike en beskeie gedrag van Jehovah se Getuies waardeer. Die broers het verduidelik dat om God se Woord te studeer en dit in ons lewe toe te pas, ons help om sulke eienskappe te hê. ’n Suster by die stalletjie het toe vir die vrou gewys hoe ’n Bybelstudie gehou word deur die Geniet die lewe vir ewig!-brosjure te gebruik. Die vrou was verbaas oor die groot verskeidenheid publikasies, wat gratis beskikbaar is, insluitende publikasies vir gesinne en jongmense. Nadat sy publikasies en ’n Bybel aanvaar het, het sy ingestem tot ’n Bybelstudie en gesê: “Dit is die beste geskenk wat ek nog ooit gekry het!”

Ons broers en susters het ook informeel gedurende die uitstalling getuig. ’n Broer het ’n gesprek begin met ’n vrou wat haar eie stalletjie gehad het. Later daardie dag het die broer weer met die vrou gepraat en haar ’n Bybel en publikasies aangebied. Die vrou was bly oor die publikasies en die Bybel en het verduidelik dat sy ’n Bybel wou hê, maar nie een kon kry nie. Sy het toe haar kontakinligting gegee sodat ’n suster haar later kon besoek.

’n Suster met die naam Ranganai het gesê hoe sy daaroor gevoel het om aan die predikingskampanje deel te neem. Sy het gesê: “Die afgelope jaar het my gesondheid dit vir my moeilik gemaak om soveel in die bediening te doen as wat ek wou. Maar ek het geleer om op die seëninge wat ek het, te fokus in plaas van die probleme. Die geleentheid om hierdie uitstalling te ondersteun, is een van daardie seëninge. Dit het my die selfvertroue en aanmoediging gegee wat ek nodig gehad het.”

Ons is baie bly oor sulke ondervindinge en is trots om skouer aan skouer met ons broers en susters in Zimbabwe as “God se medewerkers” te dien. – 1 Korintiërs 3:9.