Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 83

Uitnodigings na ’n maaltyd – Wie word deur God genooi?

Uitnodigings na ’n maaltyd – Wie word deur God genooi?

LUKAS 14:7-24

  • ’N LES OOR NEDERIGHEID

  • DIE GENOOIDES MAAK VERSKONINGS

Nadat Jesus die siek man met watersug genees het, is hy nog steeds by die huis van die Fariseër. Jesus sien hoe ander gaste die beste sitplekke aan tafel uitkies, en hy gebruik hierdie geleentheid om ’n les oor nederigheid te leer.

“Wanneer iemand jou na ’n huweliksfees nooi,” sê Jesus, “moet jy nie die beste plek inneem nie. Miskien is iemand belangriker as jy ook genooi. Dan sal die persoon wat julle al twee genooi het, vir jou kom sê: ‘Gee jou plek vir hierdie man.’ Dan sal jy skaam kry wanneer jy die verste plek moet inneem.” – Lukas 14:8, 9.

Dan sê Jesus: “Maar wanneer jy genooi word, moet jy die verste plek gaan inneem. Wanneer die man wat jou genooi het, dan kom, sal hy vir jou sê: ‘Vriend, kom neem ’n plek in wat nader is.’ Dan sal jy voor al die ander gaste geëer word.” Dit gaan oor baie meer as om net te wys dat jy goeie maniere het. Jesus verduidelik: “Want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en elkeen wat nederig is, sal verhoog word” (Lukas 14:10, 11). Ja, hy spoor sy luisteraars aan om nederig te wees.

Dan leer Jesus nog ’n les vir die Fariseër wat hom genooi het – hoe hy ’n maaltyd kan hou wat regtig waarde het in God se oë. “Wanneer jy ’n middagete of ’n aandete hou, moet jy nie jou vriende, jou broers, jou familielede of jou ryk bure nooi nie. Anders nooi hulle jou dalk weer, en dan word jy daarvoor terugbetaal. Maar wanneer jy ’n feesmaal hou, moet jy die armes, die kreupeles, die verlamdes en die blindes nooi, en jy sal gelukkig wees, want hulle het niks waarmee hulle jou kan terugbetaal nie.” – Lukas 14:12-14.

Dit is natuurlik om vriende, familie en bure na ’n maaltyd te nooi, en Jesus sê nie dat dit verkeerd is nie. Hy beklemtoon eerder dat dit ryk seëninge kan bring as ’n mens ’n maaltyd voorsien aan die behoeftiges, soos die armes, die kreupeles of die blindes. Jesus verduidelik aan die gasheer: “Jy sal in die opstanding van die regverdiges terugbetaal word.” Een van die ander gaste stem saam en sê: “Gelukkig is die een wat aan tafel gaan in die Koninkryk van God” (Lukas 14:15). Hy besef wat ’n voorreg dit sal wees. Maar nie almal het sulke waardering nie, soos Jesus in die volgende illustrasie wys:

“’n Man het ’n groot aandete gehou, en hy het baie mense genooi. Hy het sy slaaf . . . uitgestuur om vir dié wat genooi is, te sê: ‘Kom, want alles is nou gereed.’ Maar hulle almal het verskonings begin maak. Die eerste een het vir hom gesê: ‘Ek het ’n landery gekoop en moet daarna gaan kyk. Ek sal ongelukkig nie kan kom nie.’ En ’n ander een het gesê: ‘Ek het vyf paar beeste gekoop en moet hulle gaan ondersoek. Ek sal ongelukkig nie kan kom nie.’ Nog ’n ander een het gesê: ‘Ek het onlangs getrou, en daarom kan ek nie kom nie.’” – Lukas 14:16-20.

Dit is flou verskonings! ’n Man ondersoek gewoonlik ’n landery of vee voordat hy dit koop. Daarom is dit nie dringend dat jy ná die tyd daarna gaan kyk nie. Die derde man berei nie voor om te trou nie. Hy is alreeds getroud. Dit moet hom dus nie keer om ’n belangrike uitnodiging te aanvaar nie. Toe die meester hierdie verskonings hoor, word hy kwaad en sê hy vir sy slaaf:

“Gaan gou na die hoofstrate en die gangetjies van die stad, en bring die armes, die kreupeles, die blindes en die verlamdes hier in.” Nadat die slaaf dit gedoen het, is daar nog steeds plek. Dan sê die meester vir die slaaf: “Gaan na die hoofpaaie en die kleiner paadjies en dwing hulle om in te kom, sodat my huis vol kan word. Want ek sê vir julle: Nie een van daardie mense wat genooi is, sal my aandete proe nie.” – Lukas 14:21-24.

Wat Jesus nou net vertel het, illustreer goed hoe Jehovah God Jesus Christus gebruik het om mense te nooi om die Koninkryk van die hemel te ontvang. Die Jode, veral die godsdiensleiers, was eerste genooi. Die meeste van hulle het regdeur Jesus se bediening sy uitnodiging verwerp. Maar hulle sou nie die enigstes wees wat genooi word nie. Jesus wys duidelik dat daar in die toekoms ’n tweede uitnodiging sou wees aan die nederige mense van die Joodse nasie en die proseliete. Daarna sou daar ’n derde en laaste uitnodiging wees aan mense wat deur die Jode beskou word as onaanvaarbaar vir God. – Handelinge 10:28-48.

Ja, wat Jesus sê, bevestig die woorde van een van die ander gaste, wat gesê het: “Gelukkig is die een wat aan tafel gaan in die Koninkryk van God.”