Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 106

Twee illustrasies oor wingerde

Twee illustrasies oor wingerde

MATTEUS 21:28-46 MARKUS 12:1-12 LUKAS 20:9-19

  • ILLUSTRASIE OOR TWEE SEUNS

  • ILLUSTRASIE OOR LANDBOUERS

By die tempel het die hoofpriesters en die ouermanne van die volk Jesus so pas uitgedaag en gevra deur wie se gesag hy dinge doen. Jesus se antwoord het hulle verwar, en hulle het nie geweet wat om te sê nie. Dan vertel hy ’n illustrasie wat wys watter soort mense hulle werklik is.

Jesus vertel: “’n Man het twee kinders gehad. Hy het na die eerste kind toe gegaan en gesê: ‘Kind, gaan werk vandag in die wingerd.’ Die kind het geantwoord: ‘Ek sal nie,’ maar agterna het hy spyt gevoel en gegaan. Hy het na die tweede kind toe gegaan en dieselfde gesê. Die kind het geantwoord: ‘Ek sal, Pa,’ maar hy het nie gegaan nie. Wie van die twee het die wil van sy pa gedoen?” (Matteus 21:28-31). Die antwoord is duidelik – die eerste seun is die een wat op die ou end sy pa se wil gedoen het.

Daarom sê Jesus vir sy teenstanders: “Ek verseker julle: Die belastinggaarders en die prostitute sal voor julle in die Koninkryk van God ingaan.” Die belastinggaarders en die prostitute wou God aan die begin nie dien nie. Maar later het hulle, soos die eerste seun, berou getoon en nou dien hulle God. Die godsdiensleiers is egter soos die tweede seun. Hulle sê dat hulle God dien, maar hulle dien hom nie werklik nie. Jesus sê verder: “Want Johannes [die Doper] het gekom en vir julle die weg van regverdigheid geleer, maar julle het hom nie geglo nie. Die belastinggaarders en die prostitute het hom egter geglo, en selfs toe julle dit gesien het, het julle nie agterna spyt gevoel en hom geglo nie.” – Matteus 21:31, 32.

Jesus vertel nog ’n illustrasie. Hierdie keer wys Jesus dat die godsdiensleiers nie net nagelaat het om God te dien nie; hulle is eintlik goddeloos. “’n Man het ’n wingerd geplant,” vertel Jesus, “en ’n heining daarom gesit en ’n wynpers uitgekap en ’n toring opgerig. Toe het hy dit aan landbouers verhuur en na die buiteland gereis. Op die regte tyd het hy ’n slaaf na die landbouers toe gestuur om van die druiwe van die wingerd by hulle te gaan haal. Maar hulle het hom gevat, hom geslaan en hom met leë hande weggestuur. Toe het hy ’n ander slaaf na hulle toe gestuur, en hulle het hom oor die kop geslaan en hom verneder. Hy het nog een gestuur, en hulle het hom doodgemaak. Hy het ook baie ander gestuur, en hulle het party geslaan en party doodgemaak.” – Markus 12:1-5.

Sal dié wat na Jesus luister, die illustrasie verstaan? Wel, hulle onthou dalk Jesaja se woorde: “Die wingerd van Jehovah van die leërmagte is die huis van Israel. Die manne van Juda is die wingerd waarvoor hy lief was. Hy het bly hoop op geregtigheid, maar daar was net ongeregtigheid” (Jesaja 5:7). Jesus se illustrasie is soortgelyk aan Jesaja s’n. Die landeienaar is Jehovah, en die wingerd is die nasie Israel wat omhein is en beskerm word deur God se Wet. Jehovah het profete gestuur om sy volk te onderrig en te help om goeie vrugte voort te bring.

Maar “die landbouers” het die “slawe” wat na hulle toe gestuur is, sleg behandel en doodgemaak. Jesus verduidelik: “Hy [die eienaar van die wingerd] het nog net een oorgehad om te stuur, sy geliefde seun. Hy het hom laaste na hulle toe gestuur en gesê: ‘Hulle sal my seun respekteer.’ Maar daardie landbouers het vir mekaar gesê: ‘Dit is die erfgenaam. Kom ons maak hom dood, en die erfenis sal ons s’n wees.’ Toe het hulle hom gevat en hom doodgemaak.” – Markus 12:6-8.

Nou vra Jesus: “Wat sal die eienaar van die wingerd doen?” (Markus 12:9). Die godsdiensleiers antwoord: “Omdat hulle sleg is, sal hy ’n verskriklike vernietiging oor hulle bring en die wingerd aan ander landbouers verhuur, wat hom in die oestyd sy deel sal gee.” – Matteus 21:41.

Met hierdie woorde spreek hulle onwetend oordeel oor hulleself uit, want hulle is deel van “die landbouers” van Jehovah se “wingerd”, die nasie Israel. Die vrug wat Jehovah met reg van sulke landbouers verwag, sluit geloof in sy Seun, die Messias, in. Jesus kyk reguit na die godsdiensleiers en sê: “Het julle nog nooit die volgende gedeelte in die Skrif gelees nie? ‘Die steen wat die bouers verwerp het, het die belangrikste hoeksteen geword. Dit het van Jehovah af gekom, en dit is wonderlik in ons oë’” (Markus 12:10, 11). Dan sê Jesus reguit: “Die Koninkryk van God sal van julle weggeneem word en aan ’n nasie gegee word wat die regte vrugte voortbring.” – Matteus 21:43.

Die skrifgeleerdes en hoofpriesters besef dat Jesus “hulle in gedagte gehad het toe hy hierdie illustrasie vertel het” (Lukas 20:19). Nou wil hulle hom, die wettige “erfgenaam”, meer as ooit tevore doodmaak. Maar hulle is bang vir die skare, wat Jesus as ’n profeet beskou, en daarom probeer hulle nie om Jesus op daardie oomblik dood te maak nie.