Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK TWEE

Hy “het met die ware God gewandel”

Hy “het met die ware God gewandel”

1, 2. Aan watter projek het Noag en sy gesin gewerk, en wat is party van die uitdagings waarmee hulle te kampe gehad het?

NOAG het regop gekom en sy seer spiere gestrek. Stel jou voor hoe hy op ’n breë houtbalk sit en ’n blaaskansie neem terwyl hy na die enorme raamwerk van die ark kyk. Die skerp reuk van warm teer het in die lug gehang; die geluide van houtwerkgereedskap het oral weergalm. Van waar Noag gesit het, kon hy sien hoe sy seuns hard werk aan verskeie dele van die groot netwerk van balke. Sy seuns, hulle vrouens en sy eie dierbare vrou het reeds dekades lank saam met hom aan hierdie projek gewerk. Hulle het al ver gevorder, maar daar het nog baie werk voorgelê!

2 Die mense in die omgewing het gedink dat hulle van hulle kop af is. Hoe meer die ark vorm aangeneem het, hoe meer het die mense gelag oor die blote gedagte dat ’n vloed die hele aarde sou verswelg. Die ramp waaroor Noag hulle bly waarsku het, het so vergesog, so belaglik geklink! Hulle kon skaars glo dat ’n man sy lewe—en dié van sy gesin—op so ’n dwase projek sou vermors. Maar Noag se God, Jehovah, het die man in ’n heeltemal ander lig gesien.

3. In watter sin het Noag met God gewandel?

3 God se Woord sê: “Noag het met die ware God gewandel.” (Lees Genesis 6:9.) Wat het dit beteken? Nie dat God op die aarde gewandel het of dat Noag op die een of ander manier hemel toe gegaan het nie. Dit het eerder beteken dat Noag sy God so nougeset gehoorsaam het en hom so innig liefgehad het dat dit was asof hy en Jehovah as vriende saam gewandel het. Duisende jare later het die Bybel van Noag gesê: “Deur [sy] geloof het hy die wêreld veroordeel” (Heb. 11:7). Hoe het Noag dit gedoen? Wat kan ons vandag uit sy geloof leer?

’n Onberispelike man in ’n verdorwe wêreld

4, 5. Hoe het die wêreld in Noag se dag versleg?

4 Noag het grootgeword in ’n wêreld wat vinnig aan die versleg was. Dit was alreeds erg in die dae van sy oupagrootjie Henog, nog ’n regverdige man wat met God gewandel het. Henog het voorspel dat ’n oordeelsdag op die goddelose mense van die wêreld wag. Nou, in Noag se dag, was die goddeloosheid baie erger. Trouens, vanuit Jehovah se standpunt was die aarde verdorwe, want dit was vol geweld (Gen. 5:22; 6:11; Jud. 14, 15). Wat het gebeur dat die situasie so versleg het?

5 ’n Verskriklike tragedie het hom onder God se geesseuns, die engele, afgespeel. Een van hulle het reeds teen Jehovah in opstand gekom en Satan die Duiwel geword deur God te belaster en Adam en Eva te verlok om te sondig. In Noag se dag het ander engele teen Jehovah se regverdige heerskappy in opstand begin kom. Hulle het hulle godgegewe woonplek in die hemel verlaat, na die aarde toe gekom, menseliggame aangeneem en vir hulle pragtige vrouens onder die mense geneem. Hierdie trotse, selfsugtige, opstandige engele was ’n verderflike invloed onder die mense.—Gen. 6:1, 2; Jud. 6, 7.

6. Watter uitwerking het die Nefilim op die gees van die wêreld gehad, en wat het Jehovah besluit om te doen?

6 Wat meer is, die onnatuurlike verbintenisse tussen gematerialiseerde engele en mensevroue het basterseuns tot gevolg gehad, wat buitengewoon groot en sterk was. Die Bybel noem hulle Nefilim, wat letterlik beteken “Neervellers”—dié wat ander laat val. Die Nefilim was wrede bullebakke wat die wêreld se gewelddadige, goddelose gees laat vererger het. Geen wonder nie dat die Skepper gevoel het dat “die slegtheid van die mens oorvloedig op die aarde was en dat elke neiging van die gedagtes van sy hart die hele tyd net sleg was”. Jehovah het besluit dat hy daardie goddelose samelewing oor 120 jaar sou vernietig.—Lees Genesis 6:3-5.

7. Waarom was dit vir Noag en sy vrou moeilik om hulle seuns teen die slegte invloede van destyds te beskerm?

7 Stel jou voor hoe moeilik dit moes gewees het om ’n gesin in so ’n wêreld groot te maak! Tog het Noag dit gedoen. Hy het ’n goeie vrou gevind. Nadat Noag 500 jaar oud geword het, het sy vrou vir hom drie seuns gebaar—Sem, Gam en Jafet. * Die ouers moes saam werk om hulle seuns teen die slegte invloede om hulle te beskerm. Seuntjies het gewoonlik groot ontsag en bewondering vir “sterkes” en “manne van naam”—en dit is presies wat die Nefilim was. Noag en sy vrou kon nouliks voorkom dat hulle kinders elke berig oor die gewelddade van hierdie reuse hoor, maar hulle kon hulle wel die pragtige waarheid oor Jehovah God leer, die een wat alle goddeloosheid haat. Hulle moes hulle seuns help om te sien dat Jehovah gekrenk voel oor die geweld en opstandigheid in die wêreld.—Gen. 6:6.

Noag en sy vrou moes hulle kinders teen slegte invloede beskerm

8. Hoe kan wyse ouers van vandag die voorbeeld van Noag en sy vrou volg?

8 Ouers van vandag kan hulle heel moontlik vereenselwig met Noag en sy vrou. Ons wêreld is ook besmet met geweld en opstandigheid. Stede word dikwels oorheers deur bendes opstandige jongmense. Selfs kindervermaak is soms deurtrek van geweld. Wyse ouers doen alles in hulle vermoë om hierdie invloede teë te werk deur hulle kinders te leer oor die God van vrede, Jehovah, wat eendag alle geweld uit die weg sal ruim (Ps. 11:5; 37:10, 11). Sukses is moontlik! Noag en sy vrou was suksesvol. Hulle seuns het goeie mans geword, en hulle het met vroue getrou wat ook bereid was om die ware God, Jehovah, eerste in hulle lewe te stel.

“Maak vir jou ’n ark”

9, 10. (a) Watter bevel van Jehovah het Noag se lewe verander? (b) Wat het Jehovah vir Noag gesê oor die ontwerp en doel van die ark?

9 Eendag het Noag se lewe vir ewig verander. Jehovah het met hierdie geliefde kneg gepraat en hom vertel van Sy voorneme om ’n einde te maak aan die wêreld van destyds. God het Noag beveel: “Maak vir jou ’n ark van die hout van ’n harsagtige boom.”—Gen. 6:14.

10 Hierdie ark was nie ’n skip, soos party dink nie. Dit het geen boeg of agterstewe, geen kiel of roer—geen rondings—gehad nie. Dit was basies ’n groot kis. Jehovah het Noag die presiese afmetings vir die ark gegee, asook besonderhede in verband met die ontwerp daarvan en die opdrag om dit binne en buite met teer te bedek. En hy het vir Noag gesê waarom: “Kyk, ek bring die sondvloed van waters op die aarde . . . Alles wat op die aarde is, sal sterf.” Jehovah het egter hierdie verbond, of formele ooreenkoms, met Noag aangegaan: “Jy moet in die ark ingaan, jy en jou seuns en jou vrou en jou seuns se vrouens saam met jou.” Noag moes ook verteenwoordigers van al die soorte diere in die ark inbring. Slegs dié in die ark sou die komende Vloed oorleef!—Gen. 6:17-20.

Noag en sy gesin het saam gewerk om God se opdragte uit te voer

11, 12. Watter reusetaak het Noag gehad, en hoe het hy op hierdie uitdaging gereageer?

11 Noag het ’n reusetaak gehad. Hierdie ark sou kolossaal wees—ongeveer 133 meter lank, 22 meter breed en 13 meter hoog. Dit was baie groter as die grootste seevarende houtskepe wat selfs in moderne tye gebou is. Het Noag weggeskram van hierdie taak, gekla oor die uitdagings wat dit inhou of die besonderhede verander om dit vir hom makliker te maak? Die Bybel antwoord: “Noag het gedoen volgens alles wat God hom beveel het. Hy het net so gedoen.”—Gen. 6:22.

12 Die werk het dekades geneem, moontlik 40 tot 50 jaar. Hulle moes bome afkap, stompe na die bouterrein sleep asook balke maak, vorm en las. Die ark moes drie verdiepings, ’n aantal afdelings en ’n deur aan die sykant hê. Daar was klaarblyklik vensters al langs die bokant, en die dak was waarskynlik effens hoër in die middel sodat die water kon afloop.—Gen. 6:14-16.

13. Watter aspek van Noag se werk was moontlik selfs moeiliker as die bou van die ark, en hoe het mense daarop gereageer?

13 Terwyl die ark met die verloop van jare vorm aangeneem het, was Noag sekerlik baie bly om die ondersteuning van sy gesin te hê! Daar was nog ’n aspek van die werk wat moontlik selfs moeiliker was as die bou van die ark. Die Bybel sê vir ons dat Noag “’n prediker van regverdigheid” was. (Lees 2 Petrus 2:5.) Hy het dus moedig die voortou daarin geneem om die mense van daardie bose, goddelose gemeenskap te probeer waarsku oor die vernietiging wat voorgelê het. Hoe het hulle gereageer? Jesus Christus het later met verwysing na daardie tyd gesê dat die mense “geen ag daarop geslaan” het nie. Hy het gesê dat hulle so besig was met hulle daaglikse bedrywighede—om te eet, te drink en te trou—dat hulle geen ag op Noag se waarskuwing geslaan het nie (Matt. 24:37-39). Baie mense het hom en sy gesin ongetwyfeld bespot; party het hom moontlik gedreig en hewig teëgestaan. Hulle het dalk selfs die bouprojek probeer saboteer.

Ten spyte van bewyse dat God Noag geseën het, het mense hom bespot en sy boodskap geïgnoreer

14. Wat kan Christengesinne van vandag by Noag en sy gesin leer?

14 Maar Noag en sy gesin het nooit tou opgegooi nie. Al het hulle gelewe in ’n wêreld wat daarop uit was om hulle vernaamste strewe in die lewe onbelangrik, dwaas of belaglik te laat lyk, het hulle getrou daarmee volgehou. Christengesinne van vandag kan dus baie leer uit die geloof van Noag en sy gesin. Ons lewe immers in wat die Bybel “die laaste dae” van hierdie wêreldstelsel van dinge noem (2 Tim. 3:1). Jesus het gesê dat ons tyd sou wees net soos die tyd waarin Noag die ark gebou het. As die wêreld met onverskilligheid, bespotting of selfs vervolging op die boodskap oor God se Koninkryk reageer, kan Christene gerus aan Noag dink. Hulle is nie die eerstes wat voor sulke uitdagings te staan kom nie.

“Gaan in die ark in”

15. Wat het Noag ervaar toe hy byna 600 jaar oud was?

15 Dekades het verbygegaan, en die ark het geleidelik sy finale vorm aangeneem. Toe Noag byna 600 jaar oud was, het hy geliefdes aan die dood afgestaan. Sy vader, Lameg, het gesterf. * Vyf jaar later het Lameg se vader, Noag se oupa Metusalag, op die ouderdom van 969 gesterf—wat die einde beteken het van die langste menselewe in die Bybelverslag (Gen. 5:27). Metusalag sowel as Lameg was tydgenote van die eerste mens, Adam.

16, 17. (a) Watter nuwe boodskap het Noag in sy 600ste jaar ontvang? (b) Beskryf die onvergeetlike toneel wat Noag en sy gesin gesien het.

16 In sy 600ste jaar het die aartsvader Noag ’n nuwe boodskap van Jehovah God ontvang: “Gaan in die ark in, jy en jou hele huisgesin.” Terselfdertyd het God vir Noag gesê om al die soorte diere in die ark in te neem—sewe van elke rein dier, wat vir offerandes gebruik kon word, en twee elk van die res.—Gen. 7:1-3.

17 Dit moes ’n onvergeetlike toneel gewees het. Van sover as wat die oog kon sien, het hulle by die duisende aangestroom gekom—party het geloop, ander het gevlieg, gekruip, gewaggel of geskuifel—in ’n verstommende verskeidenheid groottes, vorms en temperamente. Ons moenie dink dat die arme Noag al hierdie wilde diere met ’n groot gesukkel moes aankeer en op ’n manier in die ark moes probeer inkry nie. Die verslag sê dat hulle “na Noag in die ark ingegaan” het.—Gen. 7:9.

18, 19. (a) Hoe kan ons redeneer oor die vrae wat skeptici oor die gebeure in Noag se verslag opper? (b) Hoe word Jehovah se wysheid geopenbaar in die manier wat hy gekies het om sy diereskepping te red?

18 Party skeptici vra dalk: ‘Hoe kon so iets gebeur? En hoe kon al hierdie diere in ’n beperkte ruimte in vrede saamlewe?’ Dink hieraan: Is dit werklik vir die Skepper van die ganse heelal te moeilik om sy diereskepping te beheer en hulle selfs mak en gedwee te maak indien nodig? Onthou, Jehovah is die God wat die diere geskep het. Heelwat later het hy ook die Rooisee verdeel en die son laat stilstaan. Kon hy dan nie al die gebeure wat in Noag se verslag beskryf word, laat plaasvind het nie? Natuurlik kon hy, en hy het!

19 God kon weliswaar sy diereskepping op ’n ander manier gered het. Maar hy het wyslik ’n manier gekies wat ons herinner aan die vertroue wat hy oorspronklik in die mens gestel het om na alle lewende dinge op die aarde om te sien (Gen. 1:28). Baie ouers gebruik dus vandag Noag se verhaal om hulle kinders te leer dat die diere en die mense wat Jehovah geskep het, vir Hom belangrik is.

20. Waarmee was Noag en sy gesin moontlik die laaste week voor die Vloed besig?

20 Jehovah het vir Noag gesê dat die Vloed oor ’n week sou kom. Dit moes ’n baie besige tyd vir die gesin gewees het. Stel jou voor hoeveel werk dit moes geverg het om al die diere en hulle kos in die ark te organiseer en om die gesin se kos en besittings aan boord te kry. Noag se vrou en die vrouens van Sem, Gam en Jafet het dalk moeite gedoen om die ark in ’n leefbare tuiste te omskep.

21, 22. (a) Waarom moet die onverskilligheid van die gemeenskap in Noag se dag ons nie verbaas nie? (b) Wanneer het die mense opgehou om die spot te dryf met Noag en sy gesin?

21 Wat van die gemeenskap? Hulle het nog steeds “geen ag daarop geslaan” nie—ten spyte van al die bewyse dat Jehovah Noag en sy werk seën. Hulle kon nie anders as om te sien hoe die diere in die ark instroom nie. Maar hulle onverskilligheid moet ons nie verbaas nie. Vandag slaan mense ook geen ag op die oorweldigende getuienis dat ons nou in die laaste dae van hierdie wêreldstelsel van dinge lewe nie. En soos die apostel Petrus voorspel het, het spotters gekom met hulle spotterny en dryf hulle die spot met diegene wat op God se waarskuwing ag slaan. (Lees 2 Petrus 3:3-6.) Mense het sekerlik ook die spot gedryf met Noag en sy gesin.

22 Wanneer het die spotterny tot ’n einde gekom? Die verslag sê vir ons dat ‘Jehovah die deur agter Noag toegesluit het’ nadat hy sy gesin en die diere in die ark ingebring het. As daar enige spotters naby was, het hierdie daad van God hulle ongetwyfeld stilgemaak. Indien nie, het die reën dit gedoen—want dit het begin val! En dit het geval en geval en geval—todat die hele wêreld oorstroom was, net soos Jehovah gesê het.—Gen. 7:16-21.

23. (a) Hoe weet ons dat Jehovah geen behae geskep het in die dood van die goddelose mense in Noag se dag nie? (b) Waarom is dit vandag wys om Noag se geloof na te volg?

23 Het Jehovah behae geskep in die dood van hierdie goddelose mense? Nee! (Eseg. 33:11). Inteendeel, hy het hulle oorgenoeg geleentheid gegee om hulle weë te verander en te doen wat reg is. Kon hulle dit gedoen het? Noag se lewensweg het hierdie vraag beantwoord. Deur met Jehovah te wandel, sy God in alles te gehoorsaam, het Noag getoon dat oorlewing moontlik is. In hierdie opsig het sy geloof die wêreld van sy dag veroordeel; dit het die goddeloosheid van sy geslag blootgelê. Sy geloof het hom en sy gesin gered. As jy Noag se geloof navolg, sal dit jou en jou geliefdes tot groot voordeel strek. Soos Noag, kan jy met Jehovah God as jou Vriend wandel. En hierdie vriendskap kan vir ewig duur!

^ par. 7 In daardie vroeë jare het mense baie langer gelewe as wat ons vandag lewe. Hulle lang lewensduur was klaarblyklik toe te skryf aan die feit dat hulle nader was aan die lewenskragtigheid en volmaaktheid wat Adam en Eva eens gehad het, maar verloor het.

^ par. 15 Lameg het sy seun die naam Noag gegee—wat waarskynlik “Rus” of “Vertroosting” beteken—en het voorspel dat Noag die betekenis van sy naam gestand sou doen deur die mensdom te lei na rus van hulle geswoeg om die vervloekte grond te bewerk (Gen. 5:28, 29). Lameg het gesterf voordat sy profesie vervul is. Noag se moeder, broers en susters het moontlik in die Vloed omgekom.