Volgens Johannes 4:1-54

  • Jesus en die Samaritaanse vrou (1-38)

    • Aanbid God “met gees en waarheid” (23, 24)

  • Baie Samaritane glo in Jesus (39-42)

  • Jesus genees ’n amptenaar se seun (43-54)

4  Toe die Here bewus word dat die Fariseërs gehoor het dat hy* meer dissipels maak en doop+ as Johannes –  al was dit nie Jesus self wat die mense gedoop het nie, maar sy dissipels –  het hy Judeʹa verlaat en weer na Galileʹa vertrek.  Maar hy moes deur Samariʹa gaan.  Toe het hy by ’n stad van Samariʹa gekom wat Sigar genoem word, naby die stuk grond wat Jakob vir sy seun Josef gegee het.+  Jakob se put was daar.+ En Jesus, wat moeg was van die reis, het by die put* gesit. Dit was omtrent die sesde uur.*  ’n Vrou van Samariʹa het gekom om water te skep. Jesus het vir haar gesê: “Gee my ’n bietjie water om te drink.”  (Want sy dissipels het in die stad ingegaan om kos te koop.)  Toe het die Samaritaanse vrou vir hom gevra: “Hoe kan u, wat ’n Jood is, vir my, wat ’n Samaritaanse vrou is, ’n bietjie water vra om te drink?” (Want Jode het niks met Samaritane te doen nie.)+ 10  Jesus het vir haar gesê: “As jy geweet het van die vrye gawe van God+ en wie dit is wat vir jou sê: ‘Gee my ’n bietjie water om te drink,’ sou jy hom gevra het, en hy sou vir jou lewende water gegee het.”+ 11  Sy het vir hom gesê: “Meneer, u het nie eers ’n emmer om water mee te skep nie, en die put is diep. Waar kry u dan hierdie lewende water vandaan? 12  U is tog nie groter as ons voorvader Jakob, wat vir ons die put gegee het en wat self saam met sy seuns en sy vee daaruit gedrink het nie, of hoe?” 13  Jesus het vir haar gesê: “Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors word. 14  Wie ook al van die water drink wat ek hom sal gee, sal nooit dors word nie,+ maar die water wat ek hom sal gee, sal in hom ’n fontein van water word wat opborrel om die ewige lewe te gee.”+ 15  Die vrou het vir hom gesê: “Meneer, gee my hierdie water, sodat ek nie dors sal word of gedurig hierheen hoef te kom om water te skep nie.” 16  Hy het vir haar gesê: “Gaan roep jou man en kom hierheen.” 17  Die vrou het geantwoord: “Ek het nie ’n man nie.” Jesus het vir haar gesê: “Jy is reg wanneer jy sê: ‘Ek het nie ’n man nie.’ 18  Want jy het vyf mans gehad, en die een wat jy nou het, is nie jou man nie. Wat jy gesê het, is waar.” 19  Die vrou het vir hom gesê: “Meneer, ek sien dat u ’n profeet is.+ 20  Ons voorvaders het op hierdie berg aanbid, maar julle sê dat Jerusalem die plek is waar mense moet aanbid.”+ 21  Jesus het vir haar gesê: “Vrou, glo my: Die uur kom wanneer julle die Vader nie op hierdie berg of in Jerusalem sal aanbid nie. 22  Julle aanbid wat julle nie ken nie.+ Ons aanbid wat ons ken, want redding begin by die Jode.+ 23  Maar die uur kom, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader met gees en waarheid sal aanbid, want die Vader soek juis sulke mense om hom te aanbid.+ 24  God is ’n Gees,+ en dié wat hom aanbid, moet met gees en waarheid aanbid.”+ 25  Die vrou het vir hom gesê: “Ek weet dat die Messiʹas kom, wat Christus genoem word. Wanneer hy kom, sal hy alles openlik aan ons bekend maak.” 26  Jesus het vir haar gesê: “Dit is ek, die een wat nou met jou praat.”+ 27  Op daardie oomblik het sy dissipels daar aangekom, en hulle was verbaas omdat hy met ’n vrou praat. Natuurlik het niemand gevra: “Wat wil u by haar hê?” of: “Hoekom praat u met haar?” nie. 28  Toe het die vrou haar waterhouer daar gelos en in die stad ingegaan en vir die mense gesê: 29  “Kom kyk, hier is ’n man wat vir my alles vertel het wat ek gedoen het. Is hy nie dalk die Christus nie?” 30  Toe het hulle uit die stad uit na hom toe gegaan. 31  Intussen het die dissipels vir hom bly sê: “Rabbi,+ eet iets.” 32  Maar hy het vir hulle gesê: “Ek het voedsel om te eet waarvan julle nie weet nie.” 33  Toe het die dissipels vir mekaar gesê: “Niemand het vir hom iets gebring om te eet nie, of hoe?” 34  Jesus het vir hulle gesê: “My voedsel is om die wil te doen van hom wat my gestuur het+ en om sy werk te voltooi.+ 35  Sê julle nie dat dit nog vier maande is voordat die oes begin nie? Ek sê vir julle: Kyk na die landerye en sien dat hulle wit is vir die oes.+ 36  Die een wat oes, ontvang al klaar sy loon en versamel vrugte vir die ewige lewe, sodat die een wat saai en die een wat oes, saam bly kan wees.+ 37  Ja, in hierdie geval is die gesegde waar: Een saai en ’n ander een oes. 38  Ek het julle gestuur om ’n oes in te samel waarvoor julle nie gewerk het nie. Ander het gewerk, en julle het die vrugte van hulle arbeid gepluk.” 39  Baie van die Samaritane uit daardie stad het geloof in hom gestel as gevolg van die vrou wat getuig en gesê het: “Hy het vir my alles vertel wat ek gedoen het.”+ 40  En toe die Samaritane by hom kom, het hulle hom dus gevra om by hulle te bly, en hy het twee dae daar gebly. 41  Toe het nog baie meer mense geglo as gevolg van wat hy gesê het, 42  en hulle het vir die vrou gesê: “Nou glo ons nie meer net as gevolg van wat jy gesê het nie, want ons het self gehoor en ons weet dat hierdie man regtig die redder van die wêreld is.”+ 43  Ná die twee dae het Jesus vertrek om na Galileʹa te gaan, 44  al het hy self getuig dat ’n profeet nie in sy eie land geëer word nie.+ 45  Maar toe hy in Galileʹa aankom, het die Galileërs hom verwelkom omdat hulle alles gesien het wat hy in Jerusalem by die fees gedoen het,+ want hulle het ook na die fees gegaan.+ 46  Toe het hy weer na Kana in Galileʹa gegaan, waar hy die water in wyn verander het.+ En daar was ’n koninklike amptenaar wie se seun in Kaperʹnaum siek was. 47  Toe hierdie man hoor dat Jesus uit Judeʹa na Galileʹa gekom het, het hy na hom toe gegaan en hom gevra om te kom en sy seun gesond te maak, want hy was besig om dood te gaan. 48  Maar Jesus het vir hom gesê: “Tensy julle tekens en wonderwerke sien, sal julle nooit glo nie.”+ 49  Die koninklike amptenaar het vir hom gesê: “Here, kom voordat my jong kind sterf.” 50  Jesus het vir hom gesê: “Gaan. Jou seun lewe.”+ Die man het geglo wat Jesus vir hom gesê het en het gegaan. 51  Maar terwyl hy op pad was, het sy slawe na hom toe gekom om vir hom te sê dat sy seun lewe.* 52  Toe het hy hulle gevra in watter uur hy beter geword het. Hulle het geantwoord: “Die koors het gister teen die sewende uur* verdwyn.” 53  Toe het die pa geweet dat dit op presies dieselfde tyd was toe Jesus vir hom gesê het: “Jou seun lewe.”+ En hy en almal wat in sy huis gewoon het, het geglo. 54  Dit was die tweede wonderwerk*+ wat Jesus gedoen het toe hy uit Judeʹa na Galileʹa gekom het.

Voetnote

Lett. “Jesus”.
Of “fontein”.
D.w.s. omtrent 12:00.
Of “besig is om gesond te word”.
D.w.s. omtrent 13:00.
Lett. “teken”.