Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

China

Beijing se egskeidingsyfer het gedurende die eerste nege maande van 2013 met 41 persent gestyg in vergelyking met dieselfde tydperk in 2012. Deskundiges meen dat die styging moontlik veroorsaak is deur egpare wat ’n onlangse belastingheffing van 20 persent op kapitaalwins op huisverkope probeer vryspring. ’n Geskeide egpaar wat ’n tweede huis verkoop, kan onder sekere omstandighede ’n belastingtoegewing kry.

Wêreld

Die Verenigde Nasies het die moontlikheid geopper dat meer mense insekte eet om ondervoeding teë te werk. Aangesien eetbare insekte hoë voedingswaarde het en plantmateriaal op doeltreffende wyse in voedsel omsit, kan dit “’n belowende alternatief vir gewone vleisproduksie” wees, sê ’n onlangse verslag. Die dokument noem egter dat “party gemeenskappe teësinnig is om [insekte] te eet”.

Kanada

Vrugbaarheidsklinieke worstel met die sedelike en regsvraagstuk van wat om te doen met bevrore menslike embrio’s waarvan die “eienaars” nie meer opgespoor kan word nie. In een kliniek alleen is daar glo 1 000 lewensvatbare embrio’s wat behoort aan pasiënte wat in vitro-bevrugting ondergaan het en “feitlik verdwyn” het.

Ierland

Voordat sekulêre huwelike wat deur ’n humanistiese groep voltrek word, in 2013 ’n opsie geword het, moes Katolieke wat in Ierland getrou het, tussen ’n godsdienstige seremonie en ’n burgerlike seremonie kies. Volgens ’n Reuters-nuusberig het die voorsieners van die nuwe opsie “’n groot agterstand” om in te haal omdat “baie mense nie ’n godsdienstige troue wil hê nie, maar ook nie tevrede is met net ’n burgerlike seremonie in ’n registrasiekantoor nie”.