Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

IS DIT ONTWERP?

Die miskruier se vermoë om rigting te hou

Die miskruier se vermoë om rigting te hou

MIS word vir baie doeleindes deur die miskruier gebruik. Die insek eet dit en lê eiers daarin. Party mannetjies sal ’n groot stuk daarvan vir ’n miskruierwyfie aanbied, in die hoop om haar te beïndruk. Wanneer daar vars mis is, is daar groot mededinging. Navorsers het eenkeer gesien dat sowat 16 000 miskruiers op ’n hoop olifantmis toesak en dit binne net twee uur verwyder.

Party soorte miskruiers beweeg gou van die groep af weg deur van die mis in ’n bol te rol en dit dan van die groot mishoop af weg te rol en op ’n sagte plek te begrawe. Die miskruier rol sy bol in ’n reguit lyn, want dit is die vinnigste manier om weg te kom en verminder die moontlikheid dat ander miskruiers die bol sal steel.

Maar hoe kry die miskruier dit reg om nie in sirkels te loop nie, veral in die aand?

Dink hieraan: Vorige studies het getoon dat miskruiers met behulp van die lig van die son of die maan rigting kan hou, maar hulle kan selfs op helder maanlose aande ook in ’n reguit lyn beweeg. Navorsers in Suid-Afrika het ontdek dat die miskruiers dit nie doen deur na individuele sterre te kyk nie, maar deur die ligband van die Melkweg te gebruik. Volgens die tydskrif Current Biology is dit “die eerste opgetekende geval van diere wat die Melkweg gebruik om rigting te hou”.

Miskruiers het volgens die navorser Marcus Byrne “’n doeltreffende visuele stelsel om rigting te hou wat in die dofste sterlig kan werk en min berekeningsvermoë vereis”. Hy voeg by dat die moontlikheid bestaan dat mense hieruit kan leer hoe om toerusting te ontwerp wat in swak lig tussen verskillende voorwerpe kan onderskei. Byvoorbeeld, ’n robot sal moontlik geprogrammeer kan word om ’n gebou wat ineengestort het, te deursoek deur die miskruier se stelsel om rigting te hou, na te boots.

Wat dink jy? Het die miskruier se vermoë om rigting te hou, deur middel van evolusie ontstaan? Of is dit ontwerp?

Het jy geweet?

Miskruiers maak die grond los en bemes dit, versprei plantsade en hou vlieëgetalle onder beheer.