Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HULP VIR DIE GESIN | OUERSKAP

Hoe om nee te sê

Hoe om nee te sê

DIE UITDAGING

Jou kind weier eenvoudig om nee as antwoord te aanvaar. Elke keer as jy nee sê, raak hy * onhebbelik en beproef dit jou geduld tot die uiterste. Niks wat jy doen of sê, laat hom bedaar nie, en uiteindelik dink jy dat jy geen ander keuse het as om toe te gee nie. Jou besliste nee verander weer eens in ’n radelose, teësinnige ja.

Jy kan ’n einde maak aan hierdie uitputtende kringloop. Maar kom ons bespreek eers waarom jy soms nee moet sê.

WAT JY MOET WEET

Dit is nie wreed om nee te sê nie. Party ouers sal nie hiermee saamstem nie, en hulle sê miskien dat jy met jou kind moet redeneer, jou optrede moet verduidelik of selfs moet onderhandel. Hulle waarsku egter dat jy nie nee moet sê nie, omdat dit jou kind gegrief sal laat voel.

Die woord “nee” kan jou kind weliswaar aan die begin teleurstel. Maar dit leer hom ’n noodsaaklike les—dat daar in die werklike lewe perke is waarby mense moet bly. As jy toegee, verswak dit egter jou gesag en leer jy jou kind om jou te manipuleer deur te neul wanneer hy ook al iets wil hê. Ná verloop van tyd sal hy jou moontlik daarvoor kwalik neem. Hoeveel respek het ’n kind immers vir ’n ouer wat maklik gemanipuleer word?

Wanneer jy nee sê, berei dit jou kind voor vir die tienerjare en volwassenheid. Dit leer hom dat selfonthouding voordele inhou. ’n Kind wat hierdie waardevolle les leer, sal gedurende sy tienerjare waarskynlik nie swig voor die versoeking om dwelms te gebruik of voorhuwelikse seks te hê nie.

Wanneer jy nee sê, lei dit jou kind ook op vir die lewe as ’n volwassene. “Die feit is dat ons [volwassenes] nie altyd kry wat ons wil hê nie”, skryf dr. David Walsh. “Ons doen ons kinders nie ’n guns as ons hulle leer dat alles wat hulle wil hê, altyd op ’n skinkbord vir hulle aangedra sal word nie.” *

WAT JY KAN DOEN

Konsentreer op jou doelwit. Jy wil hê dat jou kind ’n bekwame, suksesvolle volwassene moet word wat sy emosies kan beheers. Maar jy werk hierdie doelwit teë as jy hom alles gee wat hy vra. Volgens die Bybel sal iemand wat “van jongs af bederf [word], in sy latere lewe ’n ondankbare word” (Spreuke 29:21). Om nee te sê, maak dus deel uit van doeltreffende dissipline. Sulke opleiding sal jou kind help, nie benadeel nie.—Bybelbeginsel: Spreuke 19:18.

Wees beslis wanneer jy nee sê. Jou kind is nie jou gelyke nie. Dit is dus nie nodig om oor jou nee te redeneer asof hy dit moet goedkeur nie. Terwyl kinders grootword, moet hulle natuurlik hulle ‘waarnemingsvermoëns oefen om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is’ (Hebreërs 5:14). Dit is dus nie verkeerd om met jou kind te redeneer nie. Maar moenie met jonger kinders verwikkel raak in ’n eindelose stryery oor waarom jy nee gesê het nie. Hoe meer jy met jou kind stry, hoe meer sal jou nee soos ’n vraag eerder as ’n besluit klink.—Bybelbeginsel: Efesiërs 6:1.

Bly by jou besluit. Jou kind probeer jou dalk oorhaal om jou besluit te verander deur te neul of jou te smeek. Wat kan jy doen as dit by die huis gebeur? “Stuur die kind na sy kamer toe”, stel die boek Loving Without Spoiling voor. “Sê: ‘As jy in ’n neulerige bui is, is dit goed en wel, maar ek wil nie daarna luister nie. Gaan na jou kamer toe. Jy kan daar neul totdat jy reg is om op te hou.’” Aan die begin sal dit dalk vir jou moeilik wees om so ferm op te tree—en vir jou kind om dit te aanvaar. Maar sy weerstand sal waarskynlik afneem wanneer hy besef dat jy bedoel wat jy sê.—Bybelbeginsel: Jakobus 5:12.

Moenie nee sê net om te wys dat jy as ouer die gesag het nie

Wees redelik. Moenie nee sê net om te wys dat jy as ouer die gesag het nie. Laat eerder jou ‘redelikheid bekend word’ (Filippense 4:5). Daar is tye wanneer jy vir jou kind kan ja sê—mits jou kind se versoek billik is en jy nie toegee bloot omdat hy neul nie.—Bybelbeginsel: Kolossense 3:21.

^ par. 4 Ter wille van eenvoud verwys ons na die kind as manlik. Maar die beginsels wat bespreek word, is van toepassing op seuns sowel as dogters.

^ par. 10 Uit die boek No: Why Kids—of All Ages—Need to Hear It and Ways Parents Can Say It.