Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

ONDERHOUD | ANTONIO DELLA GATTA

Waarom ’n priester sy kerk verlaat het

Waarom ’n priester sy kerk verlaat het

ANTONIO DELLA GATTA is in 1969 tot ’n priester gewy, nadat hy nege jaar lank in Rome gestudeer het. Hy het later as die rektor, of hoof, van ’n kweekskool naby Napels, in Italië, gedien. Daar het hy, ná baie studie en bepeinsing, tot die slotsom gekom dat die Katolieke godsdiens nie op die Bybel gebaseer is nie. Hy het met Ontwaak! oor sy geestelike reis gepraat.

Vertel ons asseblief van jou kinderjare.

Ek is in 1943 in Italië gebore. Ek het saam met my broers en susters in ’n klein dorpie grootgeword, en my pa was ’n boer en ’n timmerman. Ons ouers het ons grootgemaak om goeie Katolieke te wees.

Waarom wou jy ’n priester word?

As ’n kind was ek lief daarvoor om na die priesters in die kerk te luister. Ek is gefassineer deur hulle stemme sowel as die indrukwekkende rituele. Daarom was dit my hartsbegeerte om ’n priester te word. Toe ek 13 jaar oud was, het my ma my na ’n kosskool geneem wat seuns voorberei het om in die toekoms verder te studeer om ’n priester te word.

Het jou opleiding Bybelstudie ingesluit?

Nie regtig nie. Toe ek 15 was, het een van my onderwysers my ’n eksemplaar van die Evangelies gegee—die geskiedkundige verslae van Jesus se lewe en bediening—en ek het die boek verskeie kere deurgelees. Toe ek 18 was, het ek na Rome gegaan om aan die pouslike universiteite te studeer, wat direk onder die gesag van die pous is. Ek het Latyn, Grieks, Geskiedenis, Filosofie, Sielkunde en Teologie gestudeer. Hoewel ons verse uit die Bybel opgesê het en daar gedurende Sondagpreke uit die Bybel gelees is, het ons dit nie eintlik bestudeer nie.

Jy het ’n rektor geword. Het dit behels dat jy ander moes onderrig?

Ek het hoofsaaklik administratiewe werk gedoen. Maar ek het klas gegee in die verordeninge van die Tweede Vatikaanse Konsilie.

Waarom het jy aan die kerk begin twyfel?

Drie dinge het my gepla. Die kerk was by die politiek betrokke. Dit het verkeerde gedrag onder die geestelikes en gemeentelede toegelaat. En sekere Katolieke leringe het nie sin gemaak nie. Byvoorbeeld, hoe kan ’n God van liefde mense vir ewig straf nadat hulle gesterf het? En wil God regtig hê dat ons ons gebede honderde kere met ’n rosekrans moet herhaal? *

Wat het jy gedoen?

Ek het trane gestort terwyl ek vir leiding gebid het. Ek het ook ’n eksemplaar van die Katolieke Jerusalem Bible gekoop, wat kort tevore in Italiaans gepubliseer is, en dit begin lees. Een Sondagoggend, terwyl ek my priesterlike gewaad ná die mis opgehang het, het twee mans na die kweekskool toe gekom. Hulle het hulle aan my voorgestel as Jehovah se Getuies. Ons het meer as ’n uur lank oor die Bybel gepraat en bespreek wat dit oor die identifiserende kenmerke van ware godsdiens sê.

Wat was jou indruk van die besoekers?

Ek het hulle oortuiging bewonder, en hoe maklik hulle na Skrifgedeeltes in ’n Katolieke weergawe van die Bybel verwys het. Later het ’n ander Getuie, met die naam Mario, my begin besoek. Hy was geduldig en getrou—nege-uur elke Saterdagoggend, in goeie en slegte weer, het hy die deurklokkie van die kweekskool gelui.

Wat het die ander priesters van hierdie besoeke gedink?

Ek het hulle genooi om by ons besprekings aan te sluit, maar nie een van hulle het Bybelstudie ernstig opgeneem nie. Ek het dit egter geniet. Ek het wonderlike dinge geleer, soos waarom God boosheid en lyding toelaat—iets wat al lank vir my ’n raaisel was.

Het persone in gesagsposisies jou probeer afraai om die Bybel te bestudeer?

In 1975 het ek Rome etlike kere besoek om my beskouings te verduidelik. Persone in gesagsposisies het probeer om my beskouing te verander, maar nie een van hulle het die Bybel gebruik nie. Uiteindelik, op 9 Januarie 1976, het ek aan Rome geskryf en gesê dat ek my nie meer as ’n Katoliek beskou nie. Twee dae later het ek die kweekskool verlaat en ’n trein geneem om my eerste vergadering saam met Jehovah se Getuies by te woon. Dit was toe ’n byeenkoms wat deur verskillende gemeentes bygewoon is. Alles was so anders as waaraan ek gewoond was! Elke Getuie het ’n Bybel gehad en het daarin gevolg terwyl die sprekers verskillende onderwerpe bespreek het.

Hoe het jou familie gereageer?

Die meeste van hulle het my hewig teëgestaan. Maar ek het uitgevind dat een van my broers saam met die Getuies studeer in Lombardye, ’n gebied in Noord-Italië. Ek het hom besoek, en die Getuies daar het my gehelp om werk en blyplek te vind. Later daardie jaar is ek as een van Jehovah se Getuies gedoop.

Uiteindelik voel ek werklik na aan God

Is daar enigiets waaroor jy spyt is?

Glad nie! Uiteindelik voel ek werklik na aan God, want my kennis van hom is op die Bybel gebaseer, nie op filosofie of kerktradisie nie. En ek kan ander met oortuiging en opregtheid leer. 

^ par. 13 Kyk onder BYBELLERINGE > ANTWOORDE OP BYBELVRAE.