Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

ONDERHOUD | FAN YU

’n Ontwerper van sagteware verduidelik waarom hy aan God glo

’n Ontwerper van sagteware verduidelik waarom hy aan God glo

DR. FAN YU het sy loopbaan as ’n navorsingswiskundige by China se Instituut vir Atoomenergie naby Beijing begin. Hy was op daardie stadium ’n ateïs en het aan evolusie geglo. Maar dr. Yu glo nou dat lewe deur God ontwerp en geskep is. Ontwaak! het hom gevra oor sy geloof.

Vertel ons iets oor jou agtergrond.

Ek is in 1959 in die stad Fuzhou in die Chinese Jiangxi-provinsie gebore. Toe ek agt jaar oud was, het die land die gevolge ervaar van wat nou bekend staan as die Kulturele Revolusie. My pa, ’n siviele ingenieur, is beveel om ’n treinspoor in ’n afgeleë wildernisgebied te bou. Jare lank kon hy net een keer per jaar huis toe kom. Ek het destyds by my ma gebly. Sy was ’n onderwyseres by ’n laerskool en ons het op die skoolterrein gewoon. In 1970 moes ons na Liufang trek, ’n arm plaasdorpie in die Linchuan-streek waar kos skaars was.

Wat het jou familie geglo?

My pa het nie in godsdiens of politiek belanggestel nie. My ma was ’n Boeddhis. By die skool het my onderwysers my geleer dat lewe deur die natuurlike prosesse van evolusie ontstaan het, en ek het hulle geglo.

Hoekom het jy in wiskunde begin belangstel?

Ek het van wiskunde gehou omdat jy logies moet redeneer om by die antwoorde uit te kom. Ek is universiteit toe kort nadat die leier van die revolusie, Mao Tse-toeng, in 1976 dood is. Wiskunde was my hoofvak. Nadat ek my meestersgraad gekry het, het ek wiskundige navorsing gedoen vir ’n plek wat kernkrag vervaardig.

Wat was jou eerste indruk van die Bybel?

In 1987 het ek na die Verenigde State gekom om my doktorsgraad by die A&M-universiteit in Texas te kry. Ek het geweet dat baie mense in Amerika aan God glo en die Bybel lees. Ek het ook gehoor dat die Bybel baie praktiese wysheid bevat, en daarom wou ek dit lees.

Dit wat die Bybel leer, het so prakties geklink. Maar party dele was vir my baie moeilik om te verstaan en daarom het ek opgehou om dit lees.

Hoekom het jy weer in die Bybel begin belangstel?

Die gedagte van ’n Skepper was vir my iets nuuts, en ek het toe besluit om self navorsing oor die onderwerp te doen

In 1990 het een van Jehovah se Getuies my besoek en vir my gewys wat die Bybel oor ’n beter toekoms vir die mensdom sê. Sy het gereël dat ’n getroude paartjie my kom help om die Bybel te verstaan. Later het my vrou Liping, wat fisika by ’n hoërskool in China gegee het en wat ook ’n ateïs was, die Bybel begin studeer. Ons het geleer wat die Bybel oor die oorsprong van lewe sê. Die gedagte van ’n Skepper was vir my iets nuuts, en ek het toe besluit om self navorsing oor die onderwerp te doen.

Hoe het jy dit gedoen?

As wiskundige is ek geleer om uit te werk wat die kans is dat sekere dinge sal gebeur. Ek is ook geleer dat proteïene nodig is vir lewe om vanself te ontstaan. En daarom het ek probeer uitwerk wat die kanse is dat ’n proteïen deur middel van ’n onbeheerde proses kan ontstaan. Proteïene is van die ingewikkeldste molekules wat daar is. En tog het lewende selle duisende verskillende soorte proteïene wat op ’n baie presiese manier met mekaar saamwerk. Soos ander, het ek besef dat die kanse dat ’n proteïen vanself kan ontstaan so klein is dat dit in werklikheid onmoontlik is! Ek het nog nooit enigiets in die evolusieteorie gelees wat my kan oortuig dat hierdie hoogs ingewikkelde molekules vanself kan ontstaan nie—wat nog te sê die lewende stelsels waarvan hulle so ’n belangrike deel vorm. Ek kon die feite nie ignoreer nie—daar moet ’n Skepper wees.

Wat het jou daarvan oortuig dat die Bybel van God af kom?

Terwyl ek met Jehovah se Getuies gestudeer het, het ek geleer dat die Bybel baie profesieë bevat wat tot in die fynste detail vervul is. Ek het ook begin sien hoe die Bybel my lewe verbeter. Ek het gewonder: ‘Hoe kan die dinge wat Bybelskrywers duisende jare terug geskryf het vandag nog so prakties wees?’ Ek het met verloop van tyd besef dat die Bybel God se Woord is.

Hoekom glo jy nog steeds aan ’n Skepper?

Wanneer ek aan al die dinge in die natuur dink, kan ek nie anders as om aan ’n Skepper te glo nie. Ek ontwerp op die oomblik rekenaarsagteware. Dit verbaas my dikwels as ek sien hoeveel slimmer ons brein as rekenaarprogramme is. Byvoorbeeld, ons brein se vermoë om spraak te herken, gaan die verstand te bowe. Die meeste mense kan spraak maklik verstaan, selfs al sluit dit dinge in soos onvolledige sinne, eggo’s, agtergrondgeluide, telefoongeraas of wanneer mense lag, hoes, hakkel of met ’n aksent praat. Alhoewel hierdie feit baie mense nie beïndruk nie, weet ontwerpers van sagteware hoe ongelooflik dit is. Selfs die beste sagteware wat spraak herken, kom nie naby die mens se brein nie.

Anders as die ingewikkeldste rekenaars, kan ons brein emosies en aksente herken en selfs stemme van mekaar onderskei. Ontwerpers van sagteware doen navorsing oor hoe rekenaars die brein kan naboots om spraak te herken. Ek glo dat hulle hiermee in werklikheid God se handewerk bestudeer.