Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DIE PAD VAN GELUK

Leer om te vergewe

Leer om te vergewe

“TOE EK ’N KIND WAS, HET MY FAMILIE GEREELD MEKAAR SLEGGESÊ EN OP MEKAAR GESKREE. Ek het nie geleer om te vergewe nie, nie eers toe ek ouer geword het nie. As iemand my seergemaak het, kon ek vir dae lank aan niks anders dink nie. Ek kon nie eers slaap nie”, sê Patricia. Dit is duidelik dat ons nie gelukkig of gesond kan wees as ons plek maak vir woede en haat nie. Dit is presies wat studies wys van mense wat ander nie kan vergewe nie.

  • Hulle kan maklik vriende verloor omdat hulle die hele tyd kwaad en bitter is, en dit kan tot eensaamheid lei

  • Hulle ruk hulle dalk vinnig op, raak onnodig bekommerd of baie depressief

  • Hulle fokus soveel op wat ander aan hulle doen dat hulle nie die lewe kan geniet nie

  • Hulle gewete pla hulle omdat hulle nie doen wat hulle weet reg is nie

  • Hulle stres meer en kan maklik ly aan dinge soos hoë bloeddruk, hartsiekte, artritis en hoofpyn *

WAT BETEKEN DIT OM TE VERGEWE? As jy vir iemand kwaad bly en daaraan dink om hom terug te kry, het jy hom nog nie vergewe nie. Om iemand te vergewe, beteken nie dat jy saamstem met wat hy verkeerd gedoen het nie. Dit beteken ook nie dat jy dit goedpraat of maak asof dit nie gebeur het nie. Ware vergifnis kom uit die hart. Dit is iets waaroor jy mooi gedink het, en wys dat vrede en jou vriendskap met daardie persoon vir jou baie belangrik is.

As jy ander kan vergewe, wys dit dat jy verstaan. Jy verstaan dat ons almal verkeerde dinge doen en sê (Romeine 3:23). Die Bybel stem hiermee saam. Dit sê: “Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe as iemand rede tot klagte teen ’n ander het.” — Kolossense 3:13.

Daarom kan ons sê dat ’n mens liefde nodig het om te kan vergewe, want liefde “is ’n volmaakte band van eenheid” (Kolossense 3:14). Die Mayo Clinic-webwerf gee ’n paar goeie redes hoekom ons ander moet vergewe:

  • Jy sal beter verhoudings met ander hê en dit sal jou help om empatie en meegevoel te hê met iemand wat jou seergemaak het

  • Jy sal ’n gesonder verstand en beter vriendskap met God hê omdat jy weet dat dit God gelukkig maak as jy ander vergewe

  • Jy sal minder bekommernisse, stres en selfs minder vyande hê

  • Jy sal minder simptome van depressie hê

VERGEWE JOUSELF. Volgens die tydskrif Disability & Rehabilitation kan dit “die moeilikste ding” wees om jouself te vergewe. Maar tog is dit “die belangrikste vir jou gesondheid”, verstandelik en fisies. Wat kan jou help om jouself te vergewe?

  • Moenie verwag dat jy nooit ’n fout sal maak nie. Wees realisties, ons almal maak foute. — Prediker 7:20

  • Leer uit jou foute sodat jy nie sommer weer dieselfde fout sal maak nie

  • Wees geduldig met jouself. Party verkeerde neigings en slegte gewoontes gaan nie oornag verdwyn nie. — Efesiërs 4:23, 24

  • Kuier saam met vriende wat aanmoedigend, positief en vriendelik is, maar wat ook eerlik met jou sal wees. — Spreuke 13:20

  • As jy iemand seermaak, erken dit en wees gou om jammer te sê. As jy vrede maak, sal jy gelukkig wees. — Matteus 5:23, 24

DIE BYBEL SE RAAD WERK REGTIG!

Nadat Patricia, wat vroeër genoem is, die Bybel gestudeer het, het sy geleer om te vergewe. Sy sê: “Ek voel nie meer vasgevang deur die woede wat my lewe vergiftig het nie. Ek maak nie meer my lewe of die lewe van ander moeilik nie. Die goeie raad wat die Bybel gee, wys dat God vir ons lief is en dat hy net die beste vir ons wil hê.”

’n Man met die naam Ron het gesê: “Ek kon nie beheer wat ander mense sê en doen nie. Maar ek kon beheer hoe ek daarop reageer. Daar is geen plek vir haat of bitterheid as ’n mens vrede wil hê nie. Bitterheid en vrede is so ver van mekaar soos die Noordpool van die Suidpool. Ek het besef dat ek nie op al twee plekke op dieselfde tyd kan wees nie. En nou het ek ’n skoon gewete.”

^ par. 8 Bronne: Mayo Clinic- en Johns Hopkins Medicine-webwerf en die tydskrif Social Psychiatry and Psychiatric Epidemiology.