Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DIE PAD VAN GELUK

Lewe gesond en leer om nie op te gee nie

Lewe gesond en leer om nie op te gee nie

CHRONIESE SIEKTE OF GESTREMDHEID KAN ’N GROOT IMPAK OP ’N PERSOON SE LEWE HÊ. Ulf was ’n aktiewe en gesonde man, maar toe word hy verlam. Hy sê: “Ek het baie depressief geword. My moed en krag het stadig verdwyn . . . Ek het ‘vernietig’ gevoel.”

Ulf se ondervinding herinner ons dat niemand heeltemal beheer het oor sy gesondheid nie. Maar sê nou ons het alles gedoen wat ons kan om gesond te lewe, en tog word ons ernstig siek? Beteken dit dat ons nooit weer gelukkig kan wees nie? Glad nie! Kom ons kyk eers na ’n paar dinge wat ons kan help om gesond te wees.

WEES ‘GEBALANSEERD IN GEWOONTES’ (1 Timoteus 3:2, 11). Om gereeld te veel te eet of te drink is natuurlik sleg vir ons gesondheid — om nie eers te praat van hoeveel geld dit ons kos nie! “Moenie onder die wynsuipers wees, onder die vraatsugtige vleiseters nie. Want ’n dronkaard en ’n vraat sal in armoede verval.” — Spreuke 23:20, 21.

MOENIE JOU LIGGAAM BESOEDEL NIE. “Laat ons ons van elke verontreiniging [of, besoedeling] van die vlees en die gees reinig” (2 Korintiërs 7:1). Mense besoedel hulle liggame wanneer hulle tabak snuif, kou of rook, dwelms gebruik of te veel alkohol drink. Rook veroorsaak byvoorbeeld “siekte en gestremdheid en beskadig amper elke orgaan in die liggaam”, sê die Amerikaanse Sentrums vir Siektebeheer en -voorkoming.

SIEN JOU LIGGAAM EN JOU LEWE AS ’N KOSBARE GESKENK. “Deur [God] het ons lewe en beweeg en bestaan ons” (Handelinge 17:28). Ons wys dat ons hierdie geskenk waardeer wanneer ons nie onnodige kanse vat nie. Maak nie saak of ons by die werk is, bestuur of ontspanning kies nie. Is dit regtig die moeite werd om vir die res van jou lewe gestremd te wees omdat jy vir ’n paar oomblikke ietsie opwindends wou doen?

BEHEER NEGATIEWE EMOSIES. Jou verstand en liggaam werk saam. Probeer om onnodige stres, woedeuitbarstings, jaloesie of enige ander slegte emosies te vermy. Psalm 37:8 sê: “Laat staan die toorn en laat vaar die woede.” Ons lees ook: “Moet julle dus nooit kwel oor die volgende dag nie, want die volgende dag sal sy eie sorge hê.” — Matteus 6:34.

PROBEER OM OP POSITIEWE GEDAGTES TE FOKUS. “’n Kalm hart is die lewe van die vlees”, sê Spreuke 14:30. Die Bybel sê ook: “’n Vreugdevolle hart is ’n goeie geneesmiddel” (Spreuke 17:22). Die wetenskap stem hiermee saam. ’n Dokter in Skotland sê: “As jy gelukkig is, sal jy in die toekoms heel moontlik minder gesondheidsprobleme hê as mense wat ongelukkig is.”

LEER OM NIE OP TE GEE NIE. Ulf, wat vroeër genoem is, se situasie het nie verbeter nie. Hy het geen ander keuse gehad as om te volhard nie. As ons ook in so ’n situasie is, kan ons vir maniere soek om te volhard. Party mense word moedeloos, en dit kan dinge net erger maak. Spreuke 24:10 sê: “Was jy mismoedig in die dag van benoudheid? Jou krag sal gering wees.”

Ander mense voel dalk aan die begin moedeloos, maar kry dit reg om weer beter te voel. Hulle maak die beste van hulle situasie en kry maniere om te volhard en nie op te gee nie. Dit is wat Ulf gedoen het. Nadat hy baie gebid en mooi oor die Bybel se positiewe boodskap gedink het, sê hy: “Ek het nie meer struikelblokke gesien nie, maar eerder geleenthede.” Net soos baie ander mense wat deur moeilike tye gegaan het, het hy belangrike lesse oor genade en empatie geleer. Dit het hom gemotiveer om ander ook te vertroos deur die Bybel se boodskap met hulle te deel.

Steve is nog iemand wat deur ’n baie moeilike tyd gegaan het. Toe hy 15 was, het hy uit ’n boom geval en is hy van die nek af verlam. Teen die tyd dat hy 18 was, kon hy weer sy arms gebruik. Hy het toe universiteit toe gegaan. Daar het hy dwelms en alkohol begin misbruik en het hy rondgeslaap. Hy het geen hoop gehad nie, totdat hy die Bybel begin studeer het. Dit het hom gehelp om ’n nuwe uitkyk op die lewe te hê en van sy slegte gewoontes ontslae te raak. Hy sê: “Die leemte wat ek in my lewe gehad het, is nie meer daar nie. My lewe is nou vol vrede, geluk en tevredenheid.”

Wat Steve en Ulf gesê het, herinner ons aan die woorde in Psalm 19:7, 8: “Die wet van Jehovah is volmaak; dit bring die siel terug [of, gee nuwe krag]. . . . Die bevele van Jehovah is reg; hulle maak die hart bly; die gebod van Jehovah is rein; dit laat die oë straal.”